DA skepties oor Eskom se nuwe planne

elektrisiteitselfstandigheid

(Foto: TheTechnoWeb.weebly.com)

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom se aankondigings vandag dui op die ware doodspiraal waarin die kragvoorsiener hom bevind.

“De Ruyter het vandag ʼn plan aangekondig om die ligte af te hou en selfs meer intensiewe beurtkrag beloof,” het Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, Vrydag gesê.

Die Eskom-raad het vroeër vandag ʼn nege-punt-plan goedgekeur om die entiteit se kragopwekkingsvermoë te verbeter en ʼn stabiele kragnetwerk te verseker.  Om dié plan in werking te stel, sal egter beteken dat Suid-Afrika vir die volgende 18 maande steeds beurtkrag ervaar.

De Ruyter en Jan Oberholzer, Eskom-bedryfshoof, het ʼn kwartaallikse oorsig oor die kragnetwerk gegee.

“Die onbeplande verlies aan krag was verlede jaar hoër as verwag en tussen September en Desember 2019 het Suid-Afrika 21 dae van beurtkrag ervaar, insluitend fase ses op 9 Desember,” het Oberholzer gesê.

“In dié tyd is beplande opknapping ook geraak, met die gevolg dat die stelsels vir die volgende 18 maande kwesbaar sal wees, met ʼn hoë waarskynlikheid vir beurtkrag in hierdie tyd”.

Cachalia sê Eskom het in 2015 ook ʼn sogenaamde instandhoudingsfees aangekondig wat op niks uitgeloop het nie. “Watter tasbare versekering het ons dat ondoeltreffendheid, korrupsie en politieke inmenging nie nou ook ʼn uitwerking op die planne gaan hê nie?”

(Foto: pixabay)

Hy sê die land kan nie langer op Eskom staatmaak nie en dat die land dringend energiesekerheid nodig het. Volgens die DA is die enigste manier om dit reg te kry deur middel van alternatiewe energieopwekkingsopsies.

Die amptelike opposisie sê onafhanklike kragverskaffers moet dringend ʼn groter rol begin speel, Eskom moet ontbondel word en ʼn gedeeltelike privatisering van die sukkelende kragvoorsiener moet ondersoek word.

“Die belangrikste is dat Suid-Afrikaners toegelaat en toegerus moet word om ander kragvoorsieningsopsies te kies – wat die ANC-regering sy beste doen om te verhoed,” het Cachalia gesê.

Hy sê kontrakte moet meer deursigtig wees, terwyl daar weer met Eskom se aandeelhouers onderhandel moet word sodat die bestuur die vryheid het om verantwoordelike maatreëls in werking te stel.

(Argieffoto: pixabay)

“Dit is hoog tyd dat die mag om krag op te wek aan Suid-Afrikaners gegee word. De Ruyter se erkenning stuur ʼn duidelike boodskap dat Eskom, onder die ANC-regering, nie in staat is om ʼn veilige en bestendige kragnetwerk te verseker nie.”

Cachalia sê Eskom steun deurlopend op dieselfde ou planne wat elke keer tot nóg duisternis lei. “Eskom het geen plan om die ligte aan te hou nie. Inteendeel, hy het ʼn plan aangekondig om die ligte af te hou en ons vind dit onaanvaarbaar.”

Die DA sê met meer as R400 miljard se skuld, gehawende infrastruktuur en ʼn skeefgetrekte werksmag, is daar geen manier om dié sinkende skip te red nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

maak die flippen plek toe, om nog 18 maande aan te sukkel is nie ‘n oplossing nie, slegs “reverse”
skakel ek my heeltemal van die “grid” af dan moet ek nog betaal, ek vat niks van julle, wil niks van julle vat of weet nie, maar ek moet betaal, wat se snert is dit

Andre

Regte klomp narre.

Johanncb

Kan die DA beter planne implimenteer om die krag aan te hou?

Snowball

Die DA is skepties oor Eskom se nuwe planne.
Eskom ook.

heinrich

Ek is skepties oor die DA…