DA slaan beleidspenne in voor 2019-verkiesing

Mmusi Maimane, leier van die DA, tydens ʼn debat oor die 2017 staatsrede.

As die dosyne beleidsresolusies wat hierdie naweek voor die DA se beleidskongres in Pretoria-Wes gaan dien aanvaar sou word, sal dit beleidsekerheid en groot beleidsonderskeid tussen die DA aan die een kant en die ANC en EFF aan die ander kant stel.

Die goue draad wat deur die resolusies loop is die insluiting en uitsluiting van Suid-Afrikaners by die hoofstroom van die ekonomie. As deurlopende tema kan mens die DA se beleidsfilosofie van die bemagtiging van die individu om deel te hê aan die moontlikhede van die vrye mark waarneem, in teenstelling met die meer staatsgedrewe filosofieë van die ANC en die EFF.

ʼn Aspek waar hierdie skeidslyn sterk na vore tree is in die DA se resolusies oor arbeidskwessies. Die party stel die instel van ʼn werksoek-toelaag van R150 per persoon per maand voor vir alle werkloses tussen die ouderdomme van 18 en 34 jaar, asook dat indiensneming bevorder word deur enigeen wat vir meer as twee jaar werkloos was, vry te stel van die voorgestelde nasionale minimumloon. Dit sal as duiwelsaad beskou word deur die ANC en EFF.

Voorts is een van die DA-beleidsvoorstelle dat kleinsake vrygeskeld word van aspekte van arbeids- en bemagtigingswetgewing om ekonomiese groei en indiensneming te bevorder.

Die DA neem in ʼn resolusie sterk standpunt in teen die onlangse toename in BTW en een van die beleidsvoorstelle is dat geskoolde immigrasie en die terugkeer van geskoolde Suid-Afrikanes in die buiteland ʼn DA-beleidsprioriteit moet wees.

ʼn Uiters belangrike beleidsvoorstel is dat ekonomiese bemagtiging op grond van armoede en vermoë eerder as ras moet plaasvind.

Oor grondhervorming neem die DA sterk standpunt in luidens ʼn beleidsresolusie uit die Wes-Rand. Die DA-voorstel verwerp onteiening sonder vergoeding. Eerder word voorgestel dat art. 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule) eerbiedig word en dat die klem op die uitbreiding van eienaarskap van eiendom moet val. ʼn Verdere voorstel is dat inwoners eerder as die staat eienaarskap van HOP-huise moet kry.

Nog voorstelle oor behuising sluit in dat ʼn enkele nasionale behuisingswaglys opgestel moet word, en dat diegene op die waglys die opsie moet kry om op die waglys te bly, of om R150 000 van die staat te ontvang om hul eie huis te bou.

As oplossing vir die krisis in tersiêre onderwys word voorgestel dat die klem na afstandonderrig verskuif en dat skuld wat deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) opgebou is, baie aggressiewer ingewin word van diegene wat die skuld aangegaan het.

Die DA stel ook voor dat die hoeveelheid kabinetslede drasties verminder word – van die huidige 37 na 15. Die voorstel oor die kleiner kabinet sal deur die DA-leier, Mmusi Maimane, voorgestel en deur die voorsitter van die party se federale dagbestuur, James Selfe, gesekondeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Flip Pretorius ·

Klink na n goeie plan. Sorg net dat die ANC en EFF dit nie kaap nie

Paul ·

Ek sal graag van Jan-Jan wil hoor wat sy opinie van die VF+ is. As ek reg is is hy DA en ‘n eintlik ‘n groot Zille aanhanger. maar ek glo hy is professioneel genoeg dat dit nie sy oordeel beinvloed nie.

piper ·

beperk die getalle. alleenlik n kindertoelaag as n gratis sterilisasie gedoen word. geen sterilasie geen kindertoelaag. alle onwettige uitlanders moet waai. dit gaan niks help as die aanwas nie drasties afneem nie. mauritius sa aanwas is n skrale .9% en ons is amper 3%. skole word vinniger afgebrand as wat ons kan bou. stem vf+

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.