DA slaan links en regs vure dood

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Die storms in die DA het opnuut opgesteek en hoewel die Kaap self tans onder stormskade deurloop, kan die Moederstad die regerende party niks oor die gepaardgaande vernietiging leer nie.

Drie afsonderlike koue konflikfronte peil tans kil op die party in blou af. Die eerste daarvan is dat die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, Helen Zille, die soveelste keer belowe het om haar te weerhou van omstrede uitsprake op sosiale media. Sy het al vantevore soortgelyke beloftes gemaak, maar haar dan nie daaraan gehou nie.

Die jongste omstredenheid volg op ʼn rits aansprake deur Zille aangaande oudpres. FW de Klerk, die ANC, apartheid en rassediskriminasie. Hiervan was verskeie omstrede, en aanvegbaar, met die een waarop die fokus val Zille se stelling dat daar tans meer rasdiskriminerende wette op die Suid-Afrikaanse wetboek is as onder apartheid.

Hierdie stelling – wat selfs deur die Vryheidsfront Plus as onwaar bestempel is – het tot hernieude klagtes teen Zille deur twee LP’s, Phumzile van Damme en Hlanganani Gumbi, en ʼn Gautengse LPW, Khume Ramalifho, gelei. Die klagtes word tans deur die DA se federale regskommissie ondersoek.

Dit het verlede week erge ontevredenheid op minstens twee belangrike DA-vergaderings veroorsaak, word aan Maroela Media vertel. Die eerste was die DA-koukusvergadering, waar die party se waarnemende leier, John Steenhuisen, glo voor stok gekry is omdat sy teregwysing van Zille na sommige mense se mening te lamlendig was. Zille is nie ʼn parlementslid nie en was dus nie op die koukusvergadering aanwesig nie.

Die tweede vergadering was blykbaar Donderdagaand, waar verskeie senior DA-figure by Zille gepleit het om asseblief net op te hou twiet, want elke keer as die party volgens sy peilings begin beter vaar, sink sy alle vordering deur die volgende omstredenheid en interne twis te ontketen.

Zille, wat steeds baie persoonlike kiesersteun geniet, was na verstaan word, hardgebaker en het geweier om toe te gee dat haar mees onlangse twiet ʼn fout was. Sy beplan nou ʼn boek waarin sy alles wil skryf wat sy meen sy nie toegelaat word om te sê nie – ʼn toekomstige potensiële gifpyl vir die DA om te vermy.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die tweede DA-storm handel oor die party se komende kongres, wat nuwe leiers moet verkies. Nadat die party se federale dagbestuur besluit het op ʼn virtuele kongres en Zille dit amptelik aangekondig het, blyk dit nou in die weegskaal te wees. Die DA se federale raad, bestaande uit sowat 130 lede, sal naamlik aan die einde van aanstaande maand besluit of so ʼn virtuele kongres wel sal plaasvind, het die kongres se organiseerder, Greg Krumbock, gesê.

Dit volg nadat een van die kandidate wat aangedui het dat hulle vir die partyleierskap sal staan, Mbali Ntuli, haar ongemaklikheid oor die korrektheid, geldigheid en eerbaarheid van ʼn virtuele leiersverkiesing laat blyk het. Benewens Ntuli het Steenhuisen en die Gautengse DA-leier, John Moodey, reeds aangedui dat hulle beplan om in die kryt te klim.

Nominasies open egter eers amptelik op 1 September, en dit is waar die derde storm vir die DA opsteek, want die ervare voorsitter van die party in Gauteng, Mike Moriart, het aangedui dat hy Zille gaan teenstaan om die voorsitterskap van die federale dagbestuur.

ʼn Klipharde stryd word verwag met die moontlikheid van ʼn afname in DA-steun na regs indien Zille sou verloor, en ʼn afname in DA-steun na links indien Zille sou wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Skryf daai boek asseblief sodat als kan openbaar gemaak word.

Misky

Behalwe as ek nou iets gemis het (ek het nie twitter nie en nie tweets gevolg nie), maar volgens wat bo genoem is en wat Zille gese het, moet ek saamstem met wat sy gese het en dis die reine waarheid.

Sarel

Waarheid of nie vandag geld Politieke Korekte uitsprake meer as eerlikheid, wat al hoe skaarser rzk in vandag se Politiek. Dit is , volgens my die rede hoekom sommige van vandah se Jeug die stelsel bevraagteken.Nee wat Antie Zille moet maar uittree voor sy uitgeskop word deur haar Almar Mater.

JohanR

Helen Zille was good, no excellent as mayor and Leader. Then she became premier and still Leader and discovered Twitter, and then she went to hell in a handbasket! Mag jy nog “hell” se? Net bang dit is nou rassisties, en dan sien Buang Jones van die MRK dit, en skielik is ek in die nuus, en op die voorblad van elke koerant en nuus storie! It’s called being famous for all the wrong reasons Helen…..

JOHAN

Baie mense het baie verwagting van die DA gehad, maar helaas daar krummel die koekie toe ook.
Waarom is Patritia uitgeskop sonder ‘n diseplinere verhoor, waarom moes Miamanie die knie buig.
Is dit dalk omdat party van die ou garde gevoel het hulle word bedreig.
Ek dink die tyd om reg te maak loop vinnig uit.
Raak ontslae van die kwaadstokers