DA soek antwoorde oor gebruik van Gupta-straler

Foto: www.planespotters.net

Foto: www.planespotters.net

Die DA het Woensdag adjunk-president Cyril Ramaphosa se gebruik van ʼn Gupta-vliegtuig vir ʼn amptelike besoek aan Japan bevraagteken en gesê die party sal seker maak die voorval word ondersoek.

Kobus Marais, LP van die Demokratiese Alliansie (DA), het gesê gegewe die Gupta-familie se noue bande met hooggeplaaste ANC-lede, insluitend pres. Jacob Zuma, moet hierdie gebruik van die belastingbetaler se geld dringend ondersoek word. “Dit is veral die geval gegewe die Guptagate-skandaal toe die Gupta-familie by die Waterkloof Lugmagbasis geland het, glo met die toestemming van ‘Nommer Een’,” het Marais gesê.

“Volgens berigte is Bombardier Aerospace deur die departement van verdediging gehuur deur ʼn regeringskontrak met die diensverskaffer ExecuJet, wat toe die private Gupta-vliegtuig vir die reis voorsien het. Die vliegtuig is Vrydagaand by die Waterkloof Lugmagbasis weg onder  die roepteken ‘South Africa Two’ wat gewoonlik vir die adjunk-president gehou word.”

Marais het gesê die DA sal vrae oor die voorval aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, stel om die presiese redes vas te stel hoekom Ramaphosa ʼn private vliegtuig moes gebruik wanneer die regering ʼn toegekende vliegtuig het. Die party wil ook weet hoekom die adjunk-president en sy gevolg nie van SAL gebruik kon maak wat elke week na twee bestemmings in Japan vlieg nie.

Volgens Marais beweer die departement van verdediging hulle het geen idee gehad die vliegtuig behoort aan die Guptas nie, aangesien die huur van vliegtuie deur ʼn sentrale kontrak gedoen word wat deur die nasionale tesourie bestuur word.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann Marx ·

En nou kruip die wurms uit die houtwerk uit…..dit wil voorkom asof die vliegtuig wat vroëer op die Lugmag-basis geland het toe NIE net gaste vir ‘n troue aangery het nie……maar by sy vertrek vol gelaai was met miljarde dollars wat geskenk was deur Gadaffi?? Die waarheid sal nog uitkom…

Gerhard Bezuidenhout ·

Maroela Media het my kommentaar verwyder maar dan vra ek waarom vlieg Ramaphosa en sy kontengent dan nie met SAL nie. Is dit vir julle aanvaarbaar, Maroela?

Nelie ·

Regtig? Hulle kerm en kla oor al die klein goedjies…wat die hel? Hoekom nie begin by die groot goed, soos plaasmoorde, verkragting, ens. dan sal die klein goedjies outomaties verdwyn as die “groot” goed uitgesort word!!!!!

Winston ·

Dalk is die vliegtuig vir n goeie rede gehuur. SAL en militêre vliegtuie dalk nie so veilig en hy weet dit. Instandhouding kos geld en ek wonder maar net. Iemand betaal mos vir die huur. En die res

neelsie ·

Soos vinkel en koljander, soos die een is , is die ander!

Raadop ·

As die huur van vluigtuie deur ‘n sentrale kontrak beheer word, sal ek graag die tenders wil sien van die sluit van die kontrak. Is dit toevallig op Gupta toegeken?

Theresa ·

En hulle hou net aan en aan en aan………………………………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.