DA soek bewaringsbevel teen lotery-grootkop

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Nationale Lotteries Commission/Facebook)

Die DA dring daarop aan dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ʼn bewaringsbevel teen die voormalige raadvoorsitter van die nasionale loterykommissie (NLC) moet bekom.

GroundUp het vroeër berig dat Alfred Nevhutanda, voormalige voorsitter van die raad, met miljoene rande se korrupte bedrywighede verbind word.

Nie-winsgerigte organisasies wat loterytoelae gekry het, het glo miljoene rande – direk en indirek – bygedra om te help betaal vir Nevhutanda se swierige R27 miljoen drieverdiepingherehuis.

Die luukse woning, wat op ʼn private landgoed in Annlin in die noorde van Pretoria geleë is, word glo deur ʼn maatskappy besit waarvan Nevhutanda die enigste direkteur is.

ʼn Maande lange ondersoek deur GroundUp het gewys dat die geld oor ʼn tydperk van ses maande, tussen September 2017 en Maart 2018, direk aan Couzyn Hertzog & Horak-prokureurs betaal is. Dié firma het namens die verkoper van die eiendom opgetree.

Die firma het die geld glo in trust gehou tot die eiendom eindelik in Mei 2018 na Nevhutanda se maatskappy, Vhutanda Investment (Pty) Ltd, oorgedra is.

Nevhutanda, wat ook ʼn voormalige provinsiale voorsitter van die ANC in Limpopo is, was die voorsitter van die loteryraad ten tyde van hierdie betalings en die aankoop van die huis.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek al geruime tyd byna 50 afsonderlike sake van korrupsie en wanbesteding van geld by die lotery.

SOE-hoof Andy Mothibi het ook vroeër vandeesmaand na die aankoop van die eiendom verwys tydens ʼn voorlegging oor die eenheid se ondersoek na beweerde lotery-korrupsie wat aan die parlementêre portefeuljekomitee oor handel, nywerheid en mededinging gedoen is.

Volgens die DA bevestig die jongste bewerings teen Nevhutanda dat die SOE wel ʼn prima facie-saak teen Nevhutanda het vir sy beweerde persoonlike plundering van die kommissie.

“Lede van die ANC eet al jare lank by die loterytrog, boonop met die volle beskerming van ANC-lede op die portefeuljekomitee. Dít terwyl verdienstelike organisasies van hul finansiering ontneem word,” sê Mat Cuthbert, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en ekonomiese ontwikkeling.

DA het in 2017 hard teen Nevhutanda se aanstelling by die lotery geveg, juis weens sy “goedgedokumenteerde skandaalgeteisterde” geskiedenis. Die party se waarskuwings is egter verontagsaam.

“Gegewe die bewyse wat voorgelê is, doen die DA ʼn beroep op die SOE om die spesiale tribunaal te nader om ʼn bewaringsbevel teen Nevhutanda te kry, nes die eenheid ʼn maand gelede teen Inqaba Yokulinda en sy medewerkers gedoen het,” sê hy.

“Hierdie onregmatige winste moet verhaal word en ʼn historiese onreg moet reggestel word.”

Nie Nevhutanda of die NLC se woordvoerder, Ndivhuho Mafela, het op GroundUp se navrae na die bewerings gereageer nie.

  • Lees GroundUp se volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sean ·

Die arme DA veg teen die wind Die kaders beskerm mekaar Hierdie gaan jare neem

Manie ·

Ek sê al vir jare lank dat die nasionale lotery die grootste goedgekeurde geldwassery en bedrog sindikaat in die land is.

Cherokee ·

Pieter, met inligting soos betrokke, raak dit moeiliker en moeiliker om steeds ‘n VF+ aanhanger te wees. Want die juffrou met die kinders wat hul koekies by verskillende tafels eet en die dame wat voorgekeer is deur polisie sonder blou ligte, weeg moeilik op teen DA-vertellings soos hierdie en ‘n swygsame VF+.
Ek het nee gestem toe jy en die DA ja gestem het, en daarna jou destyds nuutgestigde party ondersteun.
Bel my en verduidelik waarom ek nie weer moet aansluit by die draadsittersparty.

Cherokee ·

‘n Duimaf sonder teëspraak, sonder verduideliking, is doelloos. Dit dui op iemand wat self nie weet waarom verskil word nie.

B-Man ·

Die meeste wat Lotto speel is die armstes, want eendag is mos eendag. Hulle kan nie sien dat hulle geliefde ANC ook hiermee ‘our people’ indoen nie.

Andre ·

Selfde soos Mkhwebane, hulle studeer, kry grade en word professors, dan werk hulle vir die staat, want dis all waar hulle kan werk waar niemand kan sien hoe onbevoeg en skelm hulle is nie. As hulle vir n privaat onderneming moes werk was hulle lankal sonder werk.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

En nou wat nou Mnr die president? Skielik tjoepstil oor nog een van honderde kader ontplooiings wat geback fire het in die oopvlek van korrupsie. En natuurlik geniet almal BBP behandeling en beskerming onder die vaandel van die korrupte ANC en in die naam van transformasie en SEB. Julle kierankies gaan brand pappie, just you wait and see!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.