DA staan sterk in Wes-Kaap, ANC voor in Gauteng

Die voorlopige uitslae word op borde vertoon in die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria. (Foto: ANA)

[LET WEL] Die onderstaande inligting is geskoei op die stemuitslae soos dit Donderdag om 07:30 vertoon het. Die uitslae word deurentyd opdateer namate die tel van stemme vorder.

Hoewel die ANC reeds meer as 1 miljoen stemme gewerf het, is die DA steeds die sterk voorloper in die Wes-Kaap.

Donderdagoggend teen 07:30 was 36,86% van stemme in die Wes-Kaap getel. Dit beteken 582 stemlokale se uitslae is reeds in die stelsel ingevoer met nog 997 stemlokale waarvan die uitslae uitstaande is.

Die DA kon daarin slaag om reeds 283 934 stemme in die provinsie te werf. In dié stadium is dit ʼn steun van 54,82%. Die ANC is in die tweede plek met 147 682 stemme (28,51 %), gevolg deur die VF Plus met 17 137 stemme (3,31%) en die EFF met 15 049 stemme (2,91%).

Patricia de Lille, voormalige DA-lid en oudburgemeester van Kaapstad, se nuwe politieke tuiste, die Good-party, het tot dusver 13 988 (2,7%) stemme gewerf.

In Gauteng lyk die prentjie egter omgekeerd. In dié provinsie is egter net 10,72% van die stemme tot dusver getel, so dit is nog te vroeg om afleidings uit dié uitslae te maak.

Die stemuitslae in Gauteng soos dit Donderdag om 07:30 gelyk het. Die groen gedeeltes verteenwoordig die ANC, die geel DA, die rooi EFF en die pers VF Plus. (Grafika: OVK)

In Gauteng staan die ANC tans sterk met 156 050 stemme (54,71%) teenoor die DA se 68 146 stemme (23,89%). Die EFF het tot dusver 35 106 stemme (12,31%) in die provinsie verwerf, gevolg deur die VF Plus se 12 996 stemme (4,56%) en dan die ACDP met 2 088 stemme (0,73%).

Op nasionale vlak het die ANC omstreeks 07:00 die een miljoen kerf verbygesteek. Met 20,09% van nasionale stemme wat tot dusver getel is, loop die ANC tans voor met 1 219 751 stemme (54,41%).

Die DA het tot dusver 597 134 (26,64%) van nasionale stemme getrek, gevolg deur die EFF met 178 147 stemme (7,95%), die VF Plus met 76 790 stemme (3,43%) en die IVP met 35 647 stemme (1,59%).

Altesaam 4 606 van die 22 925 stemlokale se stemme is al getel. In dié stadium word die stempersentasie op 64,45% bereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

My mening is dat die VF+ se sterkste vertoning in Gauteng en NW sal wees.

Ina botha

Is daar al enige inligting oor die % kiesers wat gestem het.

NET EK

Lyk my ek sal na die Wes Kaap toe moet trek

Hannatjie

Wes-Kaap beste plek om te wees!!