DA staan vierkant agter Williams

Randall Williams (Foto: DA)

Die DA staan vierkant agter Randall Williams en verwerp “met minagting” bewerings van ander politieke partye dat die burgemeester van Tshwane korrup is.

“Die DA ondersteun die burgemeester se verbintenis om die metro se afhanklikheid van Eskom as elektrisiteitsverskaffer te verminder en inwoners teen beurtkrag te beskerm,” sê Solly Msimanga, Gautengse DA-leier.

Williams moes vandeesweek behoorlik vure doodslaan oor ʼn verslag, wat Dinsdag voor die raad gedien het, oor die moontlike verhuring van grond vir die vestiging van ʼn alternatiewe kragbron vir Pretoria.

Die verslag is intussen onttrek nadat die ANC, EFF en ActionSA ʼn reusebohaai opgeskop het.

Dié verslag gee die stadsbestuurder toestemming om ʼn openbaredeelnameproses oor die moontlike verhuring van die grond, gedeeltes van die plaas Rooiwal en gedeeltes van die plaas Pretoria-dorp en Townlands 351-JR (waarop twee bestaande ongebruikte kragsentrales geleë is), van stapel te stuur.

Die voorstel is dat die energiediensverskaffer toestemming kry om die Pretoria-Wes- en Rooiwal-kragsentrales op te knap, te finansier, te bedryf en in stand te hou. Die projek kom teen ʼn koste van R26 miljard.

Lede van die ANC, EFF en ActionSA het egter onder andere beswaar gemaak teen die feit dat daar ook ʼn verslag is van die konsortium wat deur ʼn ongevraagde bod die voorstel vir die ontwikkeling van die biogas-opwekkingseenheid ingedien het.

Die Rooiwal-kragstasie soos gesien van die R101 (Foto: By JMK, eie werk via Wikimedia Commons)

Msimanga sê nou die partye se pogings om die raadsvergadering te destabiliseer en chaos te skep, “was niks meer as ’n gekoördineerde foefie om ’n paar niksbeduidende politieke punte te probeer aanteken nie”.

“Elkeen van die koalisievennote in Tshwane, behalwe ActionSA, was tevrede met die verslag en sou dit ondersteun het.

“Nadat hulle nie daarin kon slaag om hul koalisievennote te oortuig nie, het ActionSA toe met die EFF saamgespan om nie net teen die verslag te stem nie, maar om ’n veldtog te begin om die burgemeester van die koalisieregering te verwyder.”

Msimanga sê die ANC was natuurlik maar al te bly om op die wa spring. Die ANC in Tshwane het reeds gesê hy gaan ’n mosie van wantroue teen Williams instel.

“Ons land se energiekrisis is die gevolg van staatskaping en ineenstorting en as ons nie dapper stappe doen om die energiekrisis te versag nie, sal die DA en koalisieregerings misluk in ons verbintenis aan kiesers. Daarom staan ons agter burgemeester Williams en sy pogings om die Stad Tshwane na ’n toekoms met ’n stabiele en betroubare elektrisiteitstoevoer te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.