DA stel eenheid aan om op plaasmoorde te fokus

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag ʼn landswye hof-moniteringseenheid bekend gestel wat spesifiek ʼn bydrae sal lewer in hofsake oor plaasaanvalle en om die skuldiges agter tralies te kry.

Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van staatsveiligheid, het in ʼn verklaring gesê die situasie is baie dringend in die landelike gebiede, met ʼn skerp toename in “vreeslike aanvalle en moorde in Junie”. Daar was Saterdagaand nog twee aanvalle in KwaZulu-Natal.

“Vir elke 100 gewelddadige misdade (moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede) wat in 2001 by die polisie aangemeld is, is oortreders ná twee jaar slegs in ses sake skuldig bevind,” het Kohler-Barnard gesê.

“Ná 20 jaar wil dit voorkom of wetstoepassing so te sê in duie gestort het. Die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, het gesê die stelsel is onder druk weens ʼn toename in misdaad en ʼn lae vervolgingskoers. Die vervolgingskoers vir ernstige misdade was verlede jaar 2%.”

Die hof-moniteringsinisiatief is deur die departement van gemeenskapsveiligheid in die DA-geleide Wes-Kaap van stapel gestuur om op te tree kragtens grondwetlike riglyne, soos vervat in artikel 206(3) van die Grondwet wat voorsiening maak dat elke provinsie geregtig is daarop om die polisie se gedrag te monitor en ondoeltreffendhede aan te meld.

“Die werk van die Wes-Kaapse eenheid voorkom dat sake van die hofrol geskrap word en help om skuldigbevindings te verseker wat op bewyse gegrond is,” het Kohler-Barnard bygevoeg.

Die DA se landelike veiligheid “hof-moniteringseenheid” sal as ʼn nie-amptelike tussenganger optree tussen die polisie, die vervolgingsgesag en die slagoffers van plaasaanvalle en ander verwante misdade. “Die lede van ons eenheid sal in die beste belange van ʼn slagoffer of slagoffers van ʼn plaasaanval of verwante misdaad optree en as tussenganger dien tussen die polisie, die vervolging, die slagoffers of ander betrokke persone of partye om die verrigtinge te fasiliteer en ʼn goeie uitslag te verseker.”

Die hof-moniteringseenheid kan en moet die volgende doen:

  • monitor polisie se optrede;
  • monitor die doeltreffendheid van die polisiediens;
  • bevorder goeie verhoudings tussen die polisie en die gemeenskap;
  • bepaal die doeltreffendheid van sigbare polisiëring; en
  • bly in verbinding met die skadu-kabinetlid wat verantwoordelik is vir polisiëring of vervolging wat betref misdaad, polisiëring en vervolging.

“Een van ons raadslede, self ʼn boer, is meer as vyf jaar gelede gewelddadig aangeval en ondanks DNS-bewyse is die vermeende aanvaller nog op vrye voet en bly naby aan haar,” het Kohler-Barnard bygevoeg. “Hoekom en hoe kan dit hoegenaamd vandag in Suid-Afrika gebeur? Watter kans het ʼn boer om geregtigheid te sien as hy, sy familie, ʼn plaasbestuurder, ʼn plaasarbeider of ʼn besoeker aan die plaas aangeval of vermoor word? Met ons  hof-moniteringseenheid vir landelike veiligheid hoop die DA dat dié kanse sal verbeter. Ons het nege provinsiale hoofde vir die projek aangestel en almal is gereed om bystand te lewer in enige plaasaanval-situasie, om seker te maak die hele strafregstelsel werk glad – van die polisie, deur die hof, en uiteindelik tot in die tronk,” het sy gesê.

Die hoofde is soos volg bekendgemaak:
Wes-Kaap: Dr Ivan Meyer, LPP
Oos-Kaap: Annette Steyn, LP
KwaZulu-Natal: Chris Pappas, LPW
Mpumalanga: Bosman Grobler, LPW
Noordwes: Jacqueline Theologo, LPW
Noord-Kaap: Dr Reinette Liebenberg, LPW
Gauteng: Adrian Roos, LP
Vrystaat: Dr Roy Jankielsohn, LPW
Limpopo: Jacques Smalle, LPW

“Plaasaanvalle teister ons land en so lank as wat die aanvallers wegkom met hul misdade, sal die gruweldade net voortduur. Met dié inisiatief wil die DA seker maak dat misdadigers so vinnig as moontlik agter tralies beland en dat die geweld tot ʼn einde kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Mooi so DA! Ons kan nie net kerm en kla nie. Iets drasties moet gedoen word.

Michael 1 ·

Die wetstoepassing het in duie gestort en dit is die rede vir die groei in misdaad die misdadigers weet as hulle gelukkig is om gevang te word wat is die kanse dat jy gevang en skuldig bevind word in hierdie sodom en gemorra.

Kanjynoumeer ·

DA julle moet nou nie net praat nie.
Wys nou julle kán dit doen.
“Action speaks louder than words.”

Sarel ·

Waar val julle nou uit=:bietjie min bietjie laat sou ek sê.

Prikkie ·

Hoe kan ons wat in ‘n mindere mate teikens is van hierdie geweldsmisdade ‘n bydra of ondersteuning lewer?

christo ·

Opposisie partye kan kla by die regering soos hard as wat hulle kan, maar Nkosazana Dlamini-Zuma is ‘n uitbeelding van die ANC se wyse hoe hulle reageer teenoor belangrike kwessies. Die ANC lewer slegs lippediens. Skielik ondersoek die Minister van Verdediging die moontlikheid van ‘n ‘ ‘Home guard ‘. Hoekom het hulle dan die Kommando’s afgeskaf? Boere moet pasop, as die Home guard ‘n werklikheid word, dat daar net nóg ‘n bron van magsmisbruik gaan plaasvind.
Wanneer gaan Ramaphosa met dieselfde energie reageer oor plaasaanvalle soos oor geslagsgeweld? Afriforum doen ten minste iets konkreet t.o v. plaasaanvalle. Ons stedelinge kan liewer lede van Afriforum wees en ‘n finansiële bydrae lewer om hulle aksies te versterk.

Blomme ·

Die regering sal ook standpunt moet inneem en moet sê wat hul gevoel aangaande plaas aanvalle is.. Hul stilswye is kommerwekkend.. Ons land word oor die algemeen al meer iets om bekommerd te word. Te veel onkunde en magsbeheptheid is besig om ons ondergang te bewerkstellig.

Jack ·

Dis n begin maar dooie mense staan nie weer op nie. Reaktiewe optrede is ongelukkig net n troos. Die nodigheid om gewapende patrollies in landbou gebiede te ontplooi raak nou kritiek. Pleisters gaan nie werk nie. Die landbou bloei hom dood en ons almal selfs die kerke wat net sit en kyk is skuldig aan die mense verlies. Die regering stel lankal nie belang nie want dit vorm nie deel van die anc handves nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.