DA stel stappe voor om hawekrisis te beëindig

Durbanhawe (Foto: below via Wikimedia Commons)

In ʼn poging om die erns van Suid-Afrika se eskalerende hawe-krisis te bepaal, het John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), saam met dr. Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, onlangs ‘n uitgebreide lug-oorsig van die Durbanhawe uitgevoer.

Hul bevindinge skets ʼn donker prentjie van ʼn land op die randjie van ʼn handel- en logistieke ramp. Sowat 60 000 vraghouers staan gestrand langs die ooskus weens die ineenstorting van die Durbanhawe, aangesien Transnet dekades lank versuim het om infrastruktuur by die hawe op te gradeer en in stand te hou. Dit hou ‘n beduidende bedreiging in vir die land se haweterminaalbedryf en internasionale goederehandel.

“Die wortel van hierdie krisis lê in die langdurige verwaarlosing van hawe-infrastruktuur deur Transnet, ten spyte van die inisiasie van Operasie Vulindlela in Oktober 2020 – ʼn gesamentlike onderneming tussen die presidensie en die nasionale tesourie gemik op die verbetering van die doeltreffendheid van Suid-Afrika se spoornetwerk en hawestelsel,” sê Steenhuisen. “Drie jaar later dui oorlaaide hawens, ‘n disfunksionele vragspoornetwerk, en kilometers lang rye vragmotors op die mislukking van Operasie Vulindlela.”

Volgens die 2021 Wêreldbankindeks van Houerhaweprestasie, wat 370 hawens wêreldwyd bestudeer, is Suid-Afrika een van die swakste presterende lande wêreldwyd. Durban en Kaapstad beklee onderskeidelik die 364ste en 365ste posisie.

“President Ramaphosa het hierdie mislukking verlede week Donderdag tydens ‘n besoek aan die Richardsbaaihawe erken. Hy het gesê Operasie Vulindlela het versuim om van onbekwaamheid by hawens ontslae te raak; om Transnet-infrastruktuur in stand te hou; en gevolgebestuur in te stel. Sy oplossing tot die probleem? Hy het die hawekrisis geïgnoreer en gekies om eerder ‘n nuwe passasierboothawe by Durbanhawe te gaan open. Dit is duidelik dat die president en sy regering heeltemal buite voeling is met die krisis.”

Om hierdie dringende situasie aan te spreek, stel Steenhuisen ‘n vierpuntplan voor:

  • Stigting van ʼn haweprestasietaakspan: President Ramaphosa moet dringend ‘n span instel wat privaatsektorbelanghebbendes en internasionale bedryfkenners insluit om ‘n herstelplan vir haweprestasie op te stel en dringend te implementeer, om die leemte wat die nasionale logistieke krisiskomitee agtergelaat het, te vul.
  • Parlementêre ad hoc-komitee: Die parlement moet vinnig ‘n komitee aanstel wat die departemente van vervoer, openbare ondernemings en finansies insluit, om oplossings te bespoedig en wetlike, finansiële, en regulatoriese struikelblokke wat haweherstel belemmer, uit te skakel.
  • Privatisering van Transnet: Samewerking met die privaat sektor is noodsaaklik om Transnet te red, en dit vereis die inisiasie van die privatiseringsproses vir die ekonomiese welvaart van die land.
  • Presidensiële inligtingsessie: President Ramaphosa moet die parlement onmiddellik inlig oor die toestand van Suid-Afrikaanse hawens, waar hy dringende stappe uiteensit wat sy regering sal doen om hierdie krisis te voorkom.

Implikasie van die hawekrisis

Steenhuisen sê die ekonomiese implikasies van die hawekrisis is enorm en hou moontlike nagevolge in vir Suid-Afrika se reeds brose ekonomie en sy aantreklikheid vir internasionale beleggers. “Ondernemings word deur finansiële verwoesting in die gesig gestaar, met gestrande produkte wat die Swart Vrydag-verkope van kleinhandelaars raak en tientalle duisende houers wat eers ná Kersfees afgelewer word.

“ʼn Toename in bybelasting terwyl skepe wag om vas te meer, sal verbruikerskoste verhoog en inflasiedruk vererger. Die bedreiging van werksverliese is werklik, veral vir invoerders wat finansiële druk ervaar as gevolg van verhoogde rentebetalings. Eskom se afhanklikheid van diesel vir kragopwekking verhoog verder kommer, aangesien vertraagde dieselvoorsiening verhoogde vlakke van beurtkrag kan veroorsaak.”

Volgens hom beklemtoon hierdie krisis die mislukking van die staatsgeleide SBO-model en onthul tekortkominge in Transnet se kapasiteit en instandhoudingspraktyke.

Die DA beklemtoon ‘n reeks langdurige probleme, insluitend personeeltekorte, ontoereikende instandhouding van infrastruktuur ondanks begrotingstoewysings, stygende skuldvlakke en die gebrek aan ‘n omskakelingsplan van Transnet.

Steenhuisen benadruk ook die noodsaaklikheid van privaatsektor-deelname om doeltreffendheid en produktiwiteit te verbeter. “Ondanks aanvanklike optimisme rondom Transnet se samewerking met privaat entiteite, wek die gebrek aan vordering kommer.”

Die DA versoek parlementêre ingryping, met verwysing na oorsigbesoeke aan die hawens van Durban en Richardsbaai wat geskeduleer is vir begin Desember.

Die DA eis ook die onmiddellike ontslag van minister Pravin Gordhan, met verwysing na sy nadelige impak op sowel Eskom as die Transnet-hawe- en spoorkrisis wat ‘n multi-miljard-rand-uitvoerekonomie van Suid-Afrika bedreig.

“Gordhan het alle skyn opgegee en is eenvoudig nie geraak deur die ekonomiese verwoesting wat deur falende SBO’s veroorsaak word nie. Hy is nou ‘n las vir die land se ekonomie, en hoe langer hy in sy pos bly, hoe erger sal die ekonomiese krisis word wat tans deur Suid-Afrika in die gesig gestaar word.

Die DA waarsku Transnet se uitvoerende beamptes dat hul plan om vragmotors op te hou wat steenkool na die hawe vervoer, teenproduktief is en nadelig is vir die volhoubaarheid van kommoditeitsuitvoerende ondernemings. “Die omvang en diepte van die hawekrisis is sodanig dat Transnet nie net die bestaande agterstand moet inhaal nie, maar ook moet verseker dat die handel- en uitvoersektor voortgaan om te funksioneer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marous ·

Die vernietiging wat hierdie ploerte die land aangedoen het sal nooit herstel kan word nie .

kragaap ·

Opmerklik is waar die presidensie betrokke is ontstaan of vererger die grootste krisisse.

Kerrie ·

Ons almal weet wat doen die korrupte regerings en China met hawens…hulle vat n groooot lening by China om die “port” te opgradeer, maar n tiende van die geld kom daar uit,die res is geplunder, en die “belasting-betaler” kan nie byhou nie, dan neem China bloot die port oor…gaan kyk hoeveel hawe “ports” word in die VSA besit deur China.

Sobymykoolkop ·

Die hele SOC Transnet is haglik. Baie baie min sinjale werk nog.Na ’94 is al die bekwame tegnikuste laat gaan en vervang met onbekwames.So het die oral gebeur. Kan onthou wanneer laas wittes in enige pos aangestel is nie.Niks ingryping gaan die skip omdraai nie.Te veel wat niks doen met atronomiese salarisse.

Sean ·

Bietjie vir bietjie verwoes die anc en eff hierdie land maar ongelukkig is hulle te onbevoeg om dit te verstaan

Raadsman ·

Wat is nie in ‘n krises nie?
Transnet; Post Office; Water raad; Onderwys stelsel; Eskom; Munisipaliteite; Regstelsel; Weermag; Lugmag; SAL lugdiens; Vloot; Mediese fondse; Pensioen fonds.

Pinoccio ·

Hier kom nog ‘n ministers pos met ‘n rits geldsuiers en verdere agteruitgang….

Jan Jacobs ·

Die probleem le by onbevoegde onopgeleide bee aanstellings vir dekades, jy Kan nie n bad uittap as die krane oop bly nie.

Michael ·

Hierdie sal waarskynlik die ANC oplossing wees:nuwe minister van skeepsvraghouers, nuwe minister van treinspore, nuwe minister van wagtende skepe voor die hawens, nuwe minister van skeepsgoedere ontvangs en nuwe minister om hierdie ministers te monitor. En siedaar als is weer reg

Theresa ·

Nee Sean, hulle is nie onbevoeg om te verstaan nie, hulle weet presies wat hulle doen, hulle doel is om alles te vernietig wat voor ‘94 gebou is…word gesien as kolonialisme!

Suzette ·

Die anc gaan hulle nie aan die voorstelle steur nie – hoe vrotter hoe beter en gelukkiger is hulle.

Johan Botha ·

Dis die apartheid se skuld….hulle moes ‘n klomp kleiner hawens gebou het dan was daar nou plek vir al die skepe!

Heinrich ·

Bietjie kortsigtig van die DA: die ANC was deel van die eerste opgemorsde projek en nou wil hulle hê dieselfde klomp onbevoegdes moet weer ‘n taakspan saamsit om die probleem aan te spreek. Dis soos die ANC wat uitkom en sê “Jammer dat ons die beurtkrag veroorsaak het, ons is net die mense om dit vir julle reg te maak”. Raak ontslae van alle ANC inmenging om die hawens weer aan die gang te kry.

electricmango ·

Johnny calls the chemist but the chemist does’nt come. Dis verby Johnny – die nodige kennis om die goed te laat werk het op die laaste skip geklim en verdwyn. Wil jy regtig probeer om n kers onder die water te laat brand? Bemoeie jouself eerder met iets wat jy kan verander, soos om jou visa reg te kry……..

JohanR ·

Kom ek se maar in Engels – does someone else always have to come to the rescue of the ANC?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.