DA stel sy alternatief tot grondhervorming bekend

Argieffoto

Die DA het Dinsdagoggend sy alternatief tot die ANC en die EFF se visies van grondhervorming bekend gestel toe die provinsiale DA-leier in KwaZulu-Natal, Zwakhele Mncwango, inwoners van die Mount Moriah-gebied in KwaMashu noord van Durban toegespreek het.

Mncwango het gesê die DA sal die klem laat val op die oordra van titelaktes sodat Suid-Afrikaners self eienaars van eiendom kan word.

Anders as die ANC en die EFF meen die DA dat die Grondwet meer as genoeg ruimte laat om grondhervorming sinvol uit te voer in landelike en stedelike gebiede, het Mncwango gesê. Hy meen dis bloot dat die ANC slap is oor die kwessie wat veroorsaak dat daar spesifiek in KwaZulu-Natal en in die Ethekwini-metro, wat Durban en omstreke bedien, nie meer vordering gemaak word met grondhervorming nie.

“Die DA het, waar ons regeer, al meer as 100 000 titelaktes aan nuwe private eienaars oorgedra, maar die ANC bestee meer aan persoonlike beskerming van ampsdraers as aan die bemagtiging van individue en gemeenskappe deur die oordrag van titelaktes sodat hulle eiendom kan besit,” het Mncwango gesê.

KwaZulu-Natal is ’n interessante onderafdeling van die debat oor grondhervorming omdat die Zoeloekoning, Goodwill Zwelethini, ’n uitgesproke teenstander van onteiening sonder vergoeding is en sterk steun in Zoeloegeledere geniet. Dit beteken die rasdinamika in KwaZulu-Natal oor die kwessie is anders as wat die geval klaarblyklik in ander provinsies is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Volgens die vise-prez, nou die dag op tv, moet mense glo nie angstig wees oor die baie grond onder die beheer van die tradisionele leiers nie, want dit is glo van die swakste gehalte wat die destydse apartheidsregering aan hulle afgesmeer het as sou dit swart gebiede moes word. Daar sal glo ook niks groei nie en die kapteins hou dit nou maar net in pag ~ die glo nikswerd gebiede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.