DA-stemme word getel

Die stembrief by die Demokraties Allianse se federale kongres in Port Elizabeth Foto: @LinusMullerDA, Twitter

Die stembrief by die Demokraties Allianse se federale kongres in Port Elizabeth Foto: @LinusMullerDA, Twitter

Die stemproses vir nuwe partyleierskap by die Demokratiese Alliansie se federale kongres in Port Elizabeth, is Sondagoggend omstreeks 08:30 afgehandel.

Die stemme word tans deur die party getel.

Minstens 1 370 afgevaardigdes het vir hul kandidaat van keuse gestem vir die verskillende posisies in die party.

Die DA se parlementêre leier, Mmusi Maimane, uittredende federale voorsitter Wilmot James en twee ander lede, Adrian Naidoo en Morgan Oliphant, ding mee om die federale leierskapsposisie.

Die deure het stiptelik om 06:30 oopgemaak, maar die kongressameroeper Greg Krumbock het aan News24 gesê afgevaardigdes het reeds om 05:45 gereedgestaan om te stem. “Teen 07:15 het 30% van die afgevaardigdes reeds gestem,” het hy gesê. “Die stemproses het baie goed afgeloop.”

Krumbock en die toesighoudende beampte Penny Tainton sal na verwagting om 13:00 die uitslag aan die afgevaardigdes bekend maak. “Ons sal die federale raad, drie adjunk federale voorsitters en die federale voorsitter bekend maak. Helen Zille sal self die uitslag van die nuwe federale leier aankondig.”

Die kandidate wat meeding om die pos vir federale voorsitter is die party se leier in die Oos-Kaap Athol Trollip, uittredende adjunk Makashule Gana en LP Masizole Mnqasela. “Ek het vir myself gestem,” het Gana Sondagoggend geskerts.

Bron: Amanda Khoza and Ahmed Areff, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.