DA steun maksimum afwenteling van gesag aan Wes-Kaap

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA sal hom tans beywer vir groter afwenteling van regeringsmagte vir die Wes-Kaap omdat dit binne bestaande wetgewing en die huidige grondwetlike opset baie meer uitvoerbaar is as afstigting of sesessie.

“Die beweging vir afstigting of sesessie deur die Wes-Kaap het juis ontstaan uit die suksesvolle wyse waarop die DA die provinsie regeer, vergeleke met hoe die ANC regeer waar hulle aan bewind is,” het John Steenhuisen, DA-leier, in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Steenhuisen sê hy vind dit vreemd dat sommige van diegene wat sesessie of afstigting voorstaan, terselfdertyd die einste DA tot teiken maak.

“Diegene wat sesessie of afstigting vir die Wes-Kaap voorstaan, moet in ag neem hoe lank die pogings om Katalonië te laat afstig van Spanje, en Quebec te laat afstig van Kanada, reeds duur.”

Die DA meen ’n mens moet versigtig opweeg wat binne huidige wetgewing en die Grondwet moontlik is. “Dit is waarom die DA so hard veg vir meer haalbare stappe soos die afwenteling van besluitnemingsmag sodat die Wes-Kaap groter selfstandigheid kan hê oor ekonomiese beleid, die polisie en vervoerkwessies, om maar drie te noem.

“Tans maak die feit dat verskillende dele van die vervoerstelsel in die Wes-Kaap onderskeidelik deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfeer bestuur word, dit byvoorbeeld prakties onmoontlik om ’n geïntegreerde vervoerstelsel soos in suksesvolle lande en stede wêreldwyd te vinde is, daar te stel. Ons werk dus hard om daardie magte van die nasionale na die provinsiale regering verskuif te kry,” het Steenhuisen gesê.

Die DA is ook ten gunste van heelwat groter Wes-Kaapse beheer oor die polisie as wat tans die geval is ten einde doeltreffender polisiëring te verseker – dieselfde model wat wêreldwyd bewys is as die een wat die beste werk.

Steenhuisen het uitgewys dat artikel 235 van die Grondwet die reg op selfbeskikking definieer, met die amptelike Afrikaanse vertaling van die Engelse grondteks soos volg: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van hierdie reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”

Volgens Steenhuisen beteken dit daar is tans baie grondwetlike struikelblokke wat sesessie of afstigting van die Wes-Kaap verhoed. “Die inwoners van die Wes-Kaap deel byvoorbeeld nie ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis nie – die provinsie se inwoners is ’n heterogene, uiteenlopende versameling mense. Dit is voorts duidelik dat die besluit oor sesessie of afstigting by die nasionale parlement lê en nie by die provinsie nie,” het Steenhuisen gesê.

Hy het reeds verskeie kere met die leidende groepe wat hulle vir sesessie of afskeiding beywer vergader, en aan hulle verduidelik dat dit vir hom onverstaanbaar is dat hulle teen die DA uitvaar.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

“Dit wil soms voorkom asof sommige van hulle wil hê die DA moet onder die 50%-steunvlak in die Wes-Kaap gedwing word om ’n koalisie vir afskeiding daar te stel. Hulle moet net baie versigtig wees dat hulle nie in die hande van die ANC, EFF en Good speel nie,” het hy gemaan.

Laastens het Steenhuisen op ’n paar ernstige praktiese struikelblokke met betrekking tot Wes-Kaapse afstigting of sesessie gewys.

“Dit sou byvoorbeeld baie onwaarskynlik wees dat die Suid-Afrikaanse regering bereid sou wees om van strategiese infrastruktuur soos die Koeberg-kragstasie afstand te doen. Op medium- tot lang termyn moet sakeondernemings wat handelsbande buite die provinsie het, bereken wat die invloed van byvoorbeeld invoerheffings op hul lewensvatbaarheid sal wees,” aldus Steenhuisen.

“Daar is ’n goeie en beproefde politieke beginsel dat jy 80% van jou politieke energie moet wy aan die 20% van jou beleid waarmee jy die grootste moontlike praktiese verbetering in kiesers se lewens kan bereik.

“Met die inligting tans tot ons beskikking maak dit dus meer sin om jou energie toe te spits op die volle verwesenliking van die aansienlik groter provinsiale magte waarvoor die Grondwet reeds voorsiening maak,” het die DA-leier afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wilhelm ·

Die DA praat al jare van groter ‘afwenteling’… soos byvoorbeeld by die vorige verkiesing het hulle belowe dat ons ‘n eie polisie mag in die weskaap sal hê. Tog sit ons nogsteeds opgeskeep met Cele, met ‘n tuinroete wat gesluit word wanneer die ANC so besluit, en met skole wat gesluit word op die ANC se terme. Ons sit met ‘n reuse grond besettings probleem hier in die Kaap in ons woonbuurte waar strukture onwettig opgerig word en ons word deur die ANC verhoed om enige iets daaraan te doen. Al wat die DA doen, is praat. Hulle kan niks regkry op nationale vlak nie. Hulle vergeet dat hulle aangestel is deur die stemmers van die weskaap, en ons wil onafhandlikheid hê en klaar – met of sonder die DA. Nie mooi praatjies en beloftes nie. Steenhuizen maak ‘n lawaai oordat die ANC nie die land eerste stel nie (en dit is reg), maar net so stel die DA nie die weskaap en hulle stemmers eerste nie.

Eltan ·

Goed gestel Wilhelm. Ek stem saam. Tyd vir praat is verby…aksie moet nou volg..

Piet ·

Nee wat, as jy regtig net saam met jou “eie” mense wil bly, is dorpies soos Orania maar eintlik jou enigste uitweg, SA is ‘n mengelmoes van kleure en geure. Jy gaan nie kan maak en breek soos jy wil nie maar jy bly darem tussen jou eie mense (vir diegene wat daai spesifieke behoefte het, nou nie ek nie).

Thom ·

Piet , ek dink dat dit hier gewoon gaan oor ‘n meer doeltreffende regering . Die Wes-Kaap is al die ander provinsies reeds baie ver voor maar kan steeds beter sou hulle nie so gekortwiek word deur die sentrale regering nie . Die ou spul regses kan maar gerus dsar iewers aan die Wes-kus gaan sit en hulle eie ding doen op hulle eie sandduin .

Piet ·

Nee, nie die Weskus vir hulle nie asseblief. Ver weg, Orania se kant toe.

gatgogga ·

Piet en Thom, mens kan duidelik sien julle verstaan nie. Hoekom lees julle nie die artikel stadig deur nie – alles – en probeer begryp wat Steenhuisen vertel. Waar lees jy van eie mense? Die sogenaamde regses het dertig jaar gelede vir julle verduidelik wat gaan gebeur, maar julle was toe te verlig en te bang om vas te skop.

Deon ·

En dan? Dan het julle groter afwenteling en ons word steeds deur die ANC regeer? So, my mening is dat jy en jou DA baie geld, energie, tyd, en watookal daarmee gepaard gaan, gaan opgebruik om soos die hond die kar te vang om niks met dit te kan doen nie…. My mening, stig af, anders help dit sokkerbollie, of “stay and suffer”

Kanjynoumeer ·

Lees gerus die boek “Die pad na Selfbestuur van Flip Buys.” John Steenhuisen het waarlik alles mooi uiteengesit en verduidelik in die artikel.
Die DA Wes Kaap kan baie meer uitrig op Provinsiale vlak as wat afstigting in die Wes Kaap dit moontlik sal maak.

Grassie ·

Dit is ‘n stappie in die regte rigting maar ek twyfel of die regering ooit daartoe gaan instem. Die ANC-regering ly aan hebsug, grypsug en ‘n sieklike begeerte na totale mag oor alles binne die landsgrense, soos hul beplande eiendomsroof sonder vergoeding alte duidelik bewys. Hulle sal nie ‘n ekonomies gesonde gebied soos die Kaap prysgee nie want dan is daar minder om te plunder.

annie ·

En daar het jy dit. Die DA sal natuurlik nog ryk wittes in die Kolonie verwelkom. Talle Kaapses wil afstig, saamwerk, in die bed spring of op die soustrein klim en die ANC glimlag breed. Selfs Max vra slinks nederig omverskoning omdat hy glo Solidariteit se versies altyd verkeerd opgesè het, want ons mòèt saam-werk, self-doen en op-hef… almal van Afrikaanses tot Afrikases… wat in elke geval nog altyd deur die ANC voorsien is: Los en wag en kyk want gou-gou gaan die wittes inspring en die joppies doen en ons spaar en rus lekker. Die ek-sal-self-ers is ons flukse slawe en hulle glo sowaar hulle wen.

wim ·

Die DA se dade weerspreek Steenhuisen se woorde ‘n Oos Kaapse trekarbeider is hulle provinsiale leier, en die minderheidstaal is die voertaal in die wetgewer waar hulle heers

Eugene ·

Daar is mos geen manier wat cANCer meer magte vir die Weskaap gaan toelaat nie. Hulle gaan net nog meer stemvee Weskaap toe jaag om vir cANCer te stem, sodat hulle ook die Weskaap kan regeer. Afstigting is ongelukkig die enigste oplossing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.