DA-stryd met De Lille: ‘Kapenaars betaal die prys’

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep en leier in die Wes-Kaap, sê Kapenaars is die enigste “werklike verloorders” in die voortslepende stryd tussen die DA en Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad.

Die hooggeregshof in Kaapstad het Woensdag in die guns van Patricia de Lille, die burgemeester van Kaapstad, beslis nadat sy die DA hof toe gesleep het oor die beëindiging van haar partylidmaatskap.

Die hof het bevind die DA het sy eie grondwet en reëls oortree toe hy De Lille van haar lidmaatskap onthef het.

“Weens die interne probleme in die DA sal die ANC met aanstaande jaar se algemene verkiesing hom met hernude moed en ywer voorberei om ontnugterde kiesers na sy kamp te lok en sodoende weer beheer oor die stad én provinsie probeer neem,” sê Mulder.

“Dit mag nie gebeur nie. Die VF Plus sal in ʼn koalisie met ander partye saamwerk om die ANC uit regering te hou in die belang van al die Wes-Kaap se mense.”

Mulder meen die krisis wat dié struwelings binne die DA veroorsaak het, het daartoe gelei dat Kaapstad op “noodbeplanning” aangewese is om te funksioneer.

“Die DA se besluit om aansoek te doen om appèl aan te teken teen die uitspraak van ʼn volbank regters van die Kaapstadse hooggeregshof wat aan De Lille weer volle lidmaatskap van die DA besorg het, is ook betreurenswaardig. Dié party wys daardeur dat hy, net soos oudpres. Jacob Zuma, hom nie neerlê by die uitspraak van ʼn hof nie en bereid is om die proses van litigering uit te rek ten koste van sy kiesers wat beter as dit verdien.”

Die VF Plus meen dat daar waarskynlik nie gou ʼn einde aan dié geveg gaan kom nie aangesien De Lille vandag (28 Junie) in dieselfde hof ʼn aansoek gaan indien dat die DA dokumente met ernstige beweringe oor haar aan haar beskikbaar sal stel.

“Dit kan ʼn lang, uitgerekte en duur proses raak wat dalk ʼn klimaks kan bereik kort voor aanstaande jaar se algemene verkiesing. Kapenaars kan nog ʼn duur prys vir hierdie DA-debakel betaal, en dit moet tot elke prys vermy word.”

De Lille het reeds in Mei die eerste ronde van haar regsgeding gewen nadat sy tydelik weer in haar pos as burgemeester aangestel is totdat die hof ʼn finale beslissing kon maak oor die wettigheid van die manier waarop sy onthef is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

White Rhino ·

Ai het die vrou nie einde nie? Het sy nie iets anders om te doen nie? Sy mors baie mense se tyd.
Die ego is so groot.

Snowball ·

Miskien staan DA vir Dom Astrant…hou nie op nie, daar moet ‘n beter oplossing tussen albei partye wees as die ewige ge-hof- toe- slepery wat die DA elke keer verkeerd bewys, niks oplos nie.. . Dom as jy dieselfde ding oor en oor doen maar ‘n ander uitkoms verwag.

TDW ·

De Lille moes nooit in die DA gewees het in die eerste plek nie, maar sy moet verseker nou verwyder word, net vir die feit dat sy die spesiale taakmag, aangestel om bende-geweld en dwelm-verspreiding uit te roei, wat sy ontbind het, met geen goeie rede nie. Sy is nie betroubaar nie.

Michael ·

En so baklei hulle in die hof en vergeet skoon waarvoor hulle eintlik daar is om na die publiek om te sien. Wys jou net hier gaan dit net oor hulle eie sakke. Dit sal jy by die stembus volgende jaar sien. Dan is dit te laat DA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.