DA-stryd oor kwotas kring uit

da-verkiesing

Argieffoto: Reint Dykema

Die stryd oor die hantering van diversiteit in die DA het oornag uitgekring met ʼn streng standpunt teen raskwotas wat nou deur twee parlementslede voorgestel word.

Ter sprake is ʼn voorgestelde grondwetwysiging wat op 7 en 8 April voor die DA-kongres in Pretoria sal dien, en waarvolgens kulturele, taal-, godsdiens- en verwante diversiteit in die strukture van die DA weerspieël moet word.

In reaksie het twee parlementslede, dr. Michael Cardo en Gavin Davis, ʼn brief aan al 2 000 afgevaardigdes na die DA-kongres gestuur waarin beweer word dat die DA teenstrydig met die party se nierassige erfenis optree en gevaar loop om so rasbewus soos die ANC te raak.

Dit het ʼn hewige woordewisseling ontlok met die KwaZulu-Natalse LPW, Hlanganani Gumbi, wat sterk kapsie gemaak het dat die erkenning van diversiteit geen aantasting van nierassigheid is nie.

Nou het Cardo en Davis die bal reguit teruggegooi in die baan van die afgevaardigdes na die kongres met ʼn voorgestelde amendement wat kwotas spesifiek uitsluit. Dit gaan waarskynlik raskwessies in die DA soos lanklaas na die oppervlak bring.

Eerstens voer die twee parlementslede aan dat enkelinge se reg op individuele voorkeure wat van die groep s’n verskil, beskerm moet word in enige DA-verklaring oor diversiteit.

Tweedens benadruk hulle die DA, as liberale party, moet verseker dat individue nie deur ander mense oorheers word in die naam of onder die voorwendsel van kultuur, ras, geslag of geloof nie.

Derdens meen Cardo en Davis dat die “apartheidsgedrewe leerstelling van verteenwoordigendheid”, wat mense tot blote verteenwoordigers van hul rasgroep reduseer, in die kiem gesmoor moet word.

Hulle stel dus die volgende wysiging in die DA-bepaling oor diversiteit voor:

“Suid-Afrika is ʼn ryklik diverse gemeenskap. Hoewel ons mense uit verskillende oorspronge stam, op verskillende maniere aanbid en verskillende kulture en gebruike het, is ons almal unieke individue.

“Diversiteit is een van Suid-Afrika se grootste bates. Die DA vier diversiteit en erken die reg van elke individu om te wees wie hy of sy wil wees, vry van oorheersing deur andere.

“Die DA onderskryf die aanhef tot die Grondwet, wat die onregte van die verlede erken, en bevestig dat Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon, verenig in ons diversiteit.

“Die DA sal aktiewe stappe doen om diversiteit in ons strukture te bevorder en te onderskryf, sonder om regressiewe stappe soos kwotas in te stel.”

Cardo en Davis vra dan ʼn ope debat oor die onderwerp sodat ʼn behoorlike bespreking daaroor op die DA-kongres kan plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Maya ·

Ek weet nie of ek dom is maar raskwotas in politieke party??
Ek dink Suid Afrikaners is so moeg van raskwotas in sport dat ons dit nie sal duld in ons gekose politieke party. Totsien DA as julle met die twak begin!

Paul ·

Mmusie Maimane is die een wat die voorstelle op die tafel gesit het en waaroor hy baie sterk voel, dit is nou daardie oor ‘ras transformasie’ en ‘demografiese verteenwoordiging’, want die gevoel is die party is ‘te wit’.

Eish ·

Dit help nie hul wil die wiel herontdek nie.
Dis oor en oor en oor en oor en oor en oor in die geskiedenis bewys dat integrasie nog nooit en nêrens ter wêreld gewerk het nie.
Die wit liberaliste ( Artikel verwys dat die DA n liberale party is) sal maar ander werk moet gaan soek in n transformeerde BEE omgewing. Jul witheid is n Direkte Aanklag tot bevoordeling. Die uitrafeling is ten goede.

Oom Kalahari ·

Raskwotas is ‘n woord van onreg en vertrapping. Wat beteken Raskwotas en hoe word dit toegepas? Ons is 50 swart, 10 Indiers, 6 kleurling en 4 wit. So uit 10 verteenwoordigers is 7 swart, 2 Indiers en 1 kleurling en geen wit want hul is in die minderheid. Kwotas beteken die uitsluit van ‘n spesifieke groep, taal, Godsdiens, regte ens

Olga ·

Besef iemand hoe belaglik dit is dat SA seker die enigste land ter wereld is wat die grondwet moet wysig om die MEERDERHEID teen ‘n handjievol MINDERHEID mense te “beskerm” deur absolute onsinnige “Affirmative Action” en kwotas ens in te stel – HOE MAAK DIT ENIGSINS SIN?

Conrad ·

Dit is of die regerende party wat die DA probeer verdeel of die DA het besluit sy wit kiesers moet gaan , ek gee eintlik regtig nie om wat my kruisie sal vir die heel eerste keer agter die VF+ getrek word.

honourable member ·

Hoe nou? Nou verstaan ek glad nie. Hoe de hel is daar nou rassekotas in n politieke party. Die land word sieker by die dag. Dit kom nou seker daarop neer ons is te veel wittes in die DA, maar dis geen problem want hulle verloor baie vinnig steun onder die wittes so problem solved!!!!

Koos ·

mense ek het al baie gewonder en die artikel laat my net meer en meer besef dat die DA nie die oplossing is nie. Ons moet vir die VF+ stem. hulle sal meer vir ons doen as enige ander party – kyk maar die EFF slaan die kitaar met 6% van die stemme. As ons die DA veruil vir die VF+ kan hulle baie meer vir ons beteken met die 6% wat hulle dalk kan kry…. en hulle is nie rasisties soos almal beweer nie maar kyk na minderheidsbelange – en so by the way ek stem altyd DA maar ek dink ons moet heroorweeg – wat dink julle?

Vermeendes ·

As hulle mer raskotas wil speel dan sal dit goed wees om dit op alle vlakke in die werksplek te implementeer, aangasien die blanke bevolking klein genoeg is om alleen net in top bestuur poste nog steeds nie die nodige getalle het om hul kota te vul nie.
Implementeer dit sodat elke blanke n top salaris kan verdien!!!!

Louw ·

Ek het onlangs ‘n vraag aan die DA gestel oor ras. Eers was dit Helen Zille wat ontstae van geraak is en nou Patricia de LIlle. Ek wag nou nog vir ‘n antwoord want ek weet indien hulle dit antwoord sny hulle hul eie keel af. So hulle wys duidelik dat die blankes en kleurlinge nie meer welkom is by hulle nie. Gaan kyk maar na hul arbeidswetgewing en jy vind dit stem amper 100% ooreen met die ANC. Word wakker mense, die kwessie is nie aan watter party jy behoort nie, dit is alles ras gebaseerd.

Sonja ·

Die politiek van SA is presies soos WWE….hulle wil jou laat glo dat hulle ‘n groot baklei op sit, maar agteraf word die hele “show” gereperteer. Dit is ‘n act. Die EFF en die ANC baklei so, maar agteraf is die klein persentasie wat die EFF steun daar om aan te huts wat die ANC in geheim wil regkry, maar nie soos hulle idee wil laat lyk nie. Met die volgende verkiesing gaan die EFF die DA drop soos ‘n vrot lap en die ANC join en hulle sal een happy party wees met die meerderheid van stemme. Die DA sal stadig maar seker die massas join omdat hulle hulle nie kan wen nie of ook saam met die ANC sal smelt. Ek dink nie dit maak saak vir wie ons stem nie……die EFF en die ANC sal kry wat hulle wil….al kos dit hulle elke liewe grondwet verander. Eintlik erger as in Zuma se tyd as ek moet se….Zuma was net korrup en het miljoene rande se bedrog gepleeg…… Nog niks het beter geword vandat hy uitgetree het nie…inteendeel dink ek dat die land nou in net nog meer rep en roer is….!!!!!! Ons kan net bid vir die Here se genade oor ons almal.

Jaco ·

Die DA is beslis nie die oplossing vir minderheidsgroepe nie. In my opinie is daar slegs 2 moontlikhede en dit is die VF+ of moontlik Cope. Nogal respek vir Lekota gekry die laaste tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.