DA stuur petisie oor Afrikaans van stapel

Die DA het ‘n petisie van stapel gestuur om Afrikaans as inheemse taal te laat verklaar. (Argieffoto: Wikimedia Commons)

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, moet die Afrikaanssprekende gemeenskap in die openbaar en onvoorwaardelik om verskoning vra vir sy klassifisering van Afrikaans as sogenaamde uitheemse taal.

Dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof op Stellenbosch, sê die party glo dat die klassifisering inbreuk maak op die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap se reg op moedertaalonderrig, gelykheid en waardigheid.

“Die definisie wek ook die indruk dat die ANC-regering die sprekers van Afrikaans as ‘uitheems’ of op die een of ander manier ‘vreemd’ aan Suid-Afrika beskou,” sê Schreiber.

Die DA eis ook dat Nzimande openbare universiteite moet vra om hul taalbeleid aan te pas om ruimte te skep vir Afrikaans se status as inheemse taal.

Schreiber sê Nzimande volhard met die “haatlike, kwetsende en onwetenskaplike klassifisering van Afrikaans as ‘uitheems’ ten spyte van die Konstitusionele Hof se eenparige uitspraak in die onlangse Unisa-hofsaak, waartydens regter Steven Majiedt uitdruklik daarop gewys het dat die begrip ‘inheemse tale’ ook Afrikaans insluit”.

Die regter het in sy uitspraak gewaarsku dat die wanopvatting van Afrikaans as die “wit mense se taal” en die “taal van die onderdrukker”, ʼn wanvoorstelling van die taal en die ware oorsprong daarvan is.

Nzimande het vroeër vandeesweek gesê hy erken Afrikaans as een van die land se 11 amptelike tale, maar kan nie toelaat dat Afrikaans gebruik word as ʼn manier om uit te sluit of te onderdruk nie en ook nie as ʼn manier om ʼn “eng en rassistiese Afrikaner-nasionalistiese agenda” te bevorder, soos “die geval onder apartheid” was nie.

Schreiber sê dit verg herhaling dat Afrikaans tans oorheersend die taal van swart mense is. “Dit word gebesig deur swart mense, nie net in sogenaamde ‘bruin’ woonbuurte nie, maar ook in baie swart woonbuurte in verskeie streke van ons land,” sê hy.

Die DA het reeds ʼn klag oor Nzimande se definisie van Afrikaans as “uitheems” by die Menseregtekommissie ingedien, en het nou ook ʼn petisie van stapel gestuur vir die regering om Afrikaans amptelik as inheemse taal te erken.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sê hy distansieer hom ook van die minister se “uitgediende stereotipering van die Afrikaanse taalgemeenskap”.

“Die agbare minister se bedenklike taalpolitieke uitlatings oor Afrikaans en die gepaardgaande taalgemeenskap laat die SA Akademie met geen ander keuse nie as om sy uitlatings ten sterkste te betreur en ʼn dringende beroep op dr. Nzimande te doen om hom van ingeligte taalkundige raadgewing te laat bedien,” sê prof. Anne-Marie Beukes, hoof van die SA Akademie.

Die organisasie het die minister se uitsprake as “onverskillig” en “ongegrond” bestempel en Beukes sê hulle verwerp dit met minagting.

Beukes sê Afrikaans word net op een of twee universiteitskampusse as ʼn medium van onderrig gebruik en sê universiteitslesingsale landwyd is “vertoonvensters vir Engelse hegemonie, ten koste van ons inheemse tale, waarby Afrikaans natuurlik ingesluit is”.

Die SA Akademie sê die Afrikaanse taalgemeenskap is die mees diverse in Suid-Afrika.

“Hierdie gemeenskap het ver gevorder op ʼn pad van versoening en inklusiwiteit binne en buite ons gemeenskap. Afrikaanssprekendes beskou ons jong taal as ʼn onskatbare bate vir al sy sprekers en mede-Suid-Afrikaners in die strewe na nasiebou in ʼn konteks van diversiteit.

“Ons bestuur ons taal- en kultuurbates met groot sorg en beslis nié ten koste van ander taalgemeenskappe nie. Ons is trots op die opbouende rol wat ons gemeenskap, die derde grootste taalgemeenskap in Suid-Afrika, in die heropbou van ons land vervul,” sê Beukes.

Aan Nzimande sê Beukes: “U verklaar ‘Afrikaans moet in ʼn demokratiese Suid-Afrika inpas’. En u wil Afrikaans ‘red van ʼn wit regse agenda’? Dit noop ons om te vra: Waar woon en werk u, dr. Nzimande?

“Beskik u oor kundige taalsosioloë en -raadgewers? Die SA Akademie bied graag die dienste aan van ons kundige lede en veral dié van ons Onderwys- en Taalkommissies. Hulle staan gereed om u by te staan, as u so sou versoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Waar DA het julle al OOIT gesien dat ‘n ANC, SAKP, Cosatu, EFF verskooning vra vir ENIGEIETS. Al wat ou Cyril kon se is dat hulle foute gemaak het, en moet hulle asseblief ‘n tweede, derde, vierde, vyfde en sesde kaans gee. In Engels sal mens kan se – that’s about the closest he cam to apologising!

piet ·

Daar’s meer bruin Afrikaanse kiesers as wit Afrikaanse kiesers. DA kyk nie vas in die kleur van mense se velle wat gehelp moet word nie. En wat doen die VF+…..niks.

Piet Snot ·

Wat het skielik met die DA verkeerd gegaan? Hulle was nog altyd baie erg anti-Afrikaans; wat het nou verander?
Hulle voel seker siek of iets.

Johann ·

Dink ons moet Blade voorsien van ‘n paar Afrikaanse sê goed om ons misnoë met sy anti Afrikaanse rasbehepteit te demonstreer. Hys dan welkom om dit te laat vertaal. Ek sal begin.

GATVOL.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie, niemand is so doof soos hy wat nie wil hoor nie. ANC uitgeknip!

Martie Smartie ·

Janee Evert die DA is nou hard aan die stemme werf. Dis bietjie ooglopend. Ek sou eerder dink dat Afriforum dit moet dryf. Die DA ploeg mos nou met hulle kallers.

piet ·

Afriforum is nie ‘n politieke party nie maar VF+ is. Hoekom is die VF+ so stil, dis mos eintlik “hulle mense” se lot wat hier op die spel is?

Cherokee ·

Martie Smartie, so anti Da as wat ek is, net so ferm het ek jou geduim-af.
As jy ons taal goed genoeg geken het, sou jy bewus gewees het van die uitdrukking ‘moet nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie’.

Jaco ·

Dis net ‘n klein groepie wit mense wat kla oor alles verengels. Ek sien en hoor nooit Afrikaanssprekende kleurlinge kla nie. Swart sprekers van Xhosa, Tswana ens kla ook nie. Is al die gekla nou ook regtig nodig?
1. Almal verstaan tog Engels. Dis dan al uit die ou SA se tyd ‘n verpligte vak op skool.
2. Wees bly julle wat so kla woon nie in Indië nie. Daar is Hindi, wat net deur 2 derdes van die bevolking gepraat word, die amptelike taal saam met Engels. Miljoene Indiërs wat nie Hindi praat of verstaan nie, nie ly daaronder.
3. Lag eerder vir die ANC se taalbeleid, want hulle vervang ‘n klein wit taal van onderdrukking net met ‘n baie groot wit taal van onderdrukking. Ja, Engels is ‘n wit taal uit ‘n landjie Engeland in Europa. En dié wit Engelse onderdruk al vir eeue in die Engelse taal. Eers in Wallis, Skotland en Ierland; later dwarsoor die British Empire (1 derde van die wêreld in 1921).

piet ·

Daar is hard gewerk om Afrikaans tot ‘n vaktaal te verhef tot op dieselfde vlak as Engels vir hoer onderrig en ons behoort trots te wees daarop. Ons kan nie net alles prysgee waarvoor daar hard gewerk is om ander mense tevrede te stel nie. Afrikaans moet geakkommodeer, erken word en mense wat dit wil neem as hul medium van onderrig moet toegelaat word om dit te doen. As ander tale tot dieselfde hoogtes verhef word, moet dit ook toegelaat word as keuse van onderrig .

Piet Snot ·

Jaco, ek praat 4 tale, en as ek in die buiteland is, skik ek my na omstandighede.
In ZA is ek egter ‘n burger, en my keuse oor taal moet gerespekteer word. Dis my reg, ongeag of jy daarvan hou.

JJB ·

Wat ‘n politieke party nie alles vir ‘n paar stemme sal doen nie…

Dries ·

N kommunis vra nooit om verskoning nie. Net soos ek nie omverskoning vra oor wat ek van hom dink nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.