DA takel Lesufi oor onregmatige besteding van R1 miljard

(Argieffoto: ANA)

Die Gautengse departement van onderwys is weer in die pekel oor sy beweerde vrotsige finansiële bestuur. Die DA sê hy is bekommerd oor onregmatige besteding van meer as R1 miljard wat in die 2019-’20-jaarverslag bekend gemaak is.

Khume Ramulifho, ʼn DA-lid in die Gautengse wetgewer, sê volgens die ouditeur-generaal (OG) is doeltreffende stappe nie gedoen om die onregmatige besteding – wat altesaam R1 030 657 000 beloop – te voorkom nie.

“Die onreëlmatige uitgawes is die gevolg van ʼn gebrek aan voldoening wat betref verkryging- en kontrakbestuur.”

Ramulifho sê die meer as R431 miljoen wat bestee is om skole verlede jaar te midde van die Covid-19-pandemie te ontsmet, bevestig dat die departement die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) verontagsaam.

Maroela Media het vroeër berig die bedrag is in net drie maande bestee om skole in die provinsie te ontsmet. In ʼn verslag daaroor wat aan die provinsiale wetgewer se onderwyskomitee voorgelê is, is daar meer as 200 diensverskaffers wat glo ʼn diens aan die departement gelewer het deur skole te ontsmet.

“Die senior bestuur het versuim om voldoening aan wetgewing en tesouriebepalings behoorlik te hersien en te monitor. Daar is ʼn hele aantal bewerings van ongerymdhede met verkryging, finansiële wangedrag, bedrog en diefstal wat met vorige jare verband hou.”

Die DA het geskrewe vrae aan Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, gerig om vas te stel hoe die ondersoeke na die bewerings vorder.

“ʼn Gebrek aan opvolgbestuur dra by tot die onregmatige besteding. Die bedrae neem elke jaar toe en dit dui duidelik daarop dat die regering in die hek duik wanneer dit kom by behoorlike bestuur,” sê Ramulifho.

Die DA sê die hoof van die departement asook die finansiële hoof moet verduidelik waarom die departement nie die nodige stappe gedoen het om die uitgawes te vermy nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aai ·

Daai mense steek geld weg oorsee hulle weet hier kom anargie dan vlug hulle eerste.

Heinrich ·

Net nog wanbesteding van ‘n korrupte ANC, geen verassings hier nie!

Mariana ·

Moenie enige eerlike of reguit antwoorde verwag van daai een nie. Hy kan net Wit Afrikaanse Skole aanvat verder is hy ‘n nul. Hulle hele bestaan is bedrog.

Dup ·

Baie van die geld/fondse word gebruik om flambojante lewensstyle te finansier.Blink motors,kleredrag,duur sonbrille, pruike en drank.Hulle het nie ʼn saak met die onderwysstelsel en hulle kiesers nie.

Sarel ·

Niemand verskaf ooit antwoorde en.niemand rig ooit iets uit nie. Dasrr kan net sowel geen opposissie Party wees nie. Die ANC se houding van ” ons regeer en hoef vir niemand te antwoord nie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.