DA ‘teleurgesteld’ oor Shackleton se bedanking

Michael Shackleton. (Foto: Facebook)

Die DA is oënskynlik onkant betrap en teleurgesteld nadat Michael Shackleton, die DA se voormalige streeksvoorsitter van Gauteng-Noord, skielik bedank het.

Fred Nel, Gautengse voorsitter van die DA, sê Shackleton het vroeg Donderdagoggend sy bedanking by die amptelike opposisieparty ingedien. Minder as ’n uur later het ActionSA bekend gemaak dat Shackleton eersdaags by dié party sal aansluit en het laasgenoemde breedvoerig in ’n verklaring oor die DA se tekortkominge uitgebrei.

Nel het by navraag aan Maroela Media gesê Shackleton het geen redes vir sy bedanking aan die party verskaf nie. Shackleton het egter later, in ’n video op sosiale media, uitgewei oor die redes vir sy bedanking en verskeie bewerings teen die DA gemaak.

Dit sluit in dat die DA nie behoorlik aandag gee aan sy wyke nie en verskeie oproepe oor korrupsie by die Rooiwal-suiweringsaanleg geïgnoreer het.

Nel sê dié bewerings is van alle waarheid ontbloot.

Hy sê wat die Rooiwal-suiweringsaanleg betref, het Randall Williams, burgemeester van die Tshwane-metro, proaktief opgetree en dadelik ’n ondersoek gelas. “Ons het gevoel daar is iets nie pluis nie en dadelik opgetree.”

Shackleton se bewerings oor die DA se slegte behandeling van raadslede is ook van alle waarheid ontbloot, sê Nel.

“Toe Tshwane twee jaar gelede onder administrasie geplaas is, was ons die enigste party wat ons lede finansieel en emosioneel bygestaan het.

“Michael het van alles geweet. Hy was ’n leiersfiguur in die DA.”

Oor die moontlike rede waarom Shackleton juis op ActionSA besluit het, sê Nel: “Hy wou meer regswerk doen en hy is ’n posisie aangebied.” Shackleton beskik oor ’n LLB-graad van die Universiteit van Pretoria (UP) en is ’n toegelate prokureur.

“Dit is duidelik dat hy ’n ander rigting wou inslaan … maar hy kon dit gedoen het sonder om die DA te verlaat.”

Volgens Nel het Shackleton wel ’n paar interne verkiesings verloor en daar was interne poste waarvoor hy aansoek gedoen het, maar nie gekry het nie.

Maroela Media het vroeër berig verskeie grootkoppe van die DA het die afgelope tyd hul poste by dié party verruil vir ’n pos by ActionSA. Athol Trollip is een van die hoëprofielpolitici wat hom onlangs by Mashaba se party geskaar het.

Tog is Nel nie bekommerd nie.

“Ons het baie bekwame mense in diens wat Michael se posisie kan vul. Ons is wel bekommerd dat die party waarheen hy nou gaan, die DA teiken en die opposisie versplinter eerder as om kiesers teen die ANC te verenig.”

Nel meen dit gaan goed met die DA. “Ons is deur verskeie interne prosesse waartydens ons sterk strategiese planne saamgestel het. Ons openbare verteenwoordigers is ook van die mees hardwerkende verteenwoordigers en sorg dat ons ons gemeenskappe dien.”

Herman Mashaba, president van ActionSA, het vanoggend gesê dié party gaan in die komende maande nóg ’n hele paar gesoute en opkomende politici as deel van ActionSA bekendstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Die DA is maar net verlenging van die oud Engelse mag wat neersien op Afrikaans sprekende mense wat net omsien na hul eie belange. Hierdie belange is beleggings in die vorm kapitaal en eiendom. Action SA is meer verteenwoordigend vir die meerderheid Suid Afrikaners se belange. Hulle gaan my stem in die volgend verkiesing kry.

Kobus

Iets is fout by / met die DA. Leierskap? Beleid? Faksies?

Jacobus

ActionSA is dit ‘n onafhanklike politieke party, of Hermann Mashaba se “pet project”?

Trish

Micheal is redelik verward. Hy beweer een oomblik dat Coetzee al hierdie wonderlike werk gedoen het en in die volgende asem dat dat due DA niks gedoen het nie. Was Coetzee dan nie n DA raadslid nie? Maak op jou mind Micheal. Of die DA het n goeie job gedoen of Coetzee was treurig. Kan nie albei wees nie. Action SA is n ashoop vir ander partye se leftovers.

Blikkies

Maak nie saak wie dit is, van watter party en waar nie, dit is vir my oor hoe dit gedoen is. So persoon is maar lekker slapgat om eers weg te hardloop en van anderkant die draad beskuldigings te maak. Kon die persoon nie eers sy man staan en redes gee hoekom hy bedank nie. In my oë wys hy swak leierskap, is onbetroubaar en het geen integriteit nie. Wie ookal so persoon gaan vat moet maar ligloop.