DA veg voort om Motsoeneng uit SAUK te verwyder

Motsoeneng tydens Dinsdag se mediakonferensie.

Motsoeneng tydens Dinsdag se mediakonferensie.

Die Demokratiese Alliansie sal ʼn bykomende beëdigde verklaring in sy hofsaak byvoeg teen Hlaudi Motsoeneng, hoof van korporatiewe sake by die SAUK.

Die DA het Sondag gesê dit kom na nóg bewyse in die media aan die lig gekom het wat dui op Motsoeneng se ongeskiktheid om enige senior posisie by die SAUK te beklee.

“Aangesien die DA se saak op 23 en 24 November 2016 aangehoor sal word, sal die party nou ʼn bykomende beëdigde verklaring indien wat die inligting bevat wat Sondag in die media bekend gemaak is, as bykomend tot die reeds omvattende lys van redes waarom mnr. Motsoeneng nie geskik is om enige posisie by die nasionale uitsaaier te beklee nie en dadelik verwyder moet word,” het James Selfe, federale uitvoerende voorsitter van die DA, gesê.

Volgens die berigte het:
– Motsoeneng nie voldoen aan die SAUK se beleid op versoek vir voorstelle wat in 2014 goedgekeur is nie, en het gevolglik die SAUK se eie beleid oortree;
– deur dié beleid te oortree en gevolglik te versuim om ʼn nuwe protokolbeleid goed te keur, soos die bedryfswaghond, die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) vereis, het Motsoeneng dus Okosa-regulasies oortree;
– Motsoeneng het die SAUK se voormalige groepshoof vir televisie, Verona Duwarkah geboelie en mishandel;
– Motsoeneng het die kwota 80% plaaslike inhoud op televisie ingestel sonder om ʼn risiko-assessering te doen; en
– Motsoeneng het R600 miljoen se plaaslike televisieprogramme goedgekeur waar hy boonop bekende akteurs as vervaardigers aangestel het.

Die DA het in Oktober sy verklaring by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om die aanstelling van Motsoeneng, as groepshoof van korporatiewe sake, ongeldig te verklaar, het Selfe bygevoeg.

“Die DA versoek dus die hof om te bevestig of mnr. Motsoeneng geskik is om enige amp by die SAUK te beklee. Alhoewel dit nie ideaal is om die hof te nader nie, glo die DA dat die raad van die SAUK, wat nou net uit een lid bestaan, en die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, versuim het in hul plig om die integriteit van die nasionale uitsaaier te beskerm.

“Die DA het dus geen ander keuse nie as om die hof te versoek om in te gryp, in die belang van die publiek, om Motsoeneng te verhoed om sy verwoestingsveldtog voort te sit.”

Selfe het gesê die DA is verbind daartoe om die integriteit en onafhanklikheid van die SAUK te herstel. “Die eerste noodsaaklike stap is om Motsoeneng te verwyder,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Moetseneng het n engel in die vorm van n minister wat hom beskerm want as hy val droog haar put ook op. Plus hy skud blad met zuma

Jan ·

Jip, Pos “Geloof” saam met hom, of is dit nou Faith. Skuus, maar ek hou maar van my Afrikaans.

snoefie ·

waar gaan die saak voorkom? miskien kan ons rent a crowd kry om ons te kom leer how om “hlaudie must fall” pkakkate rond te swaai.

Renée Meyer ·

Mooi so DA, dit help nie om die bobbejaan agter die berg te gaan haal met verskonings dat dit nie aal werk nie, elke aksie dra gevolge, al lyk dit moontlik soos hoes teen donderweer! Gee hom gas, DA!!

Tannie ·

Aan die pessimiste: om NIKS te doen sal beslis geen verskil maak nie. Ten minste probeer die DA om iets aan hierdie stink saak te doen.

Wolkombers ·

Ja Tannie, die stink laat my dink aan die uitdrukking van goed wat vassit in ‘n wolkombers, hierdie is net veel erger.

Johann ·

Naief glo ek dat ook die pion sy zirrrr gaan sien. MAAR ASB ASB ASB…hyt in sy omgaan en heengaan nie net MILJOENE GEMORS nie…hyt HoMSELF via sy cronies met miljoene verryk. Waarskeinlik as deel van sy “fooie” om Zuma en sy Zumaikies te dien. Hy MOET aanspreeklik gehou word daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.