DA verkla ANC by MRK oor waterkrisis

DA leier John Steenhuisen op Menseregtedag, by die bekendstelling van die DA se provinsiale verkiesingsmanifes in Mpumalanga (Foto: x/DA Mpumalanga)

Die DA wil ʼn klag teen die ANC by die Menseregtekommissie (MRK) indien vir die skending van menseregte in verband met die verergerende waterkrisis.

Die DA leier John Steenhuisen het Donderdag op Menseregtedag, by die bekendstelling van die DA se provinsiale verkiesingsmanifes in Mpumalanga, gesê die regte wat in die Handves van Regte uiteengesit word, bestaan net op papier.

“Om van Suid-Afrikaners te verwag om die dag te vier terwyl die ANC hul van hul mees fundamentele mensereg – toegang tot water ontneem het – is ʼn belediging vir die mense van die land,” sê Steenhuisen.

Volgens die DA-leier het die Johannesburg-metro se “marionet-burgemeester”, Thapelo Amad, Dinsdag gesê daar is geen waterkrisis nie.

“Selfs al leef die mense van Johannesburg vir weke aaneen sonder lopende water, kon die ANC en sy vennote nie die moeite doen om eers die omvang van die krisis te erken nie. Hulle ontken eenvoudig dat dit bestaan,” sê Steenhuisen.

Sommige provinsies sukkel al bykans drie dekades lank met ʼn waterkrisis en volgens Steenhuisen word slegs een provinsie nie deur ʼn dreigende waterramp in die gesig gestaar nie.

“Die enigste rede waarom die Wes-Kaap nie soos die res van Suid-Afrika in ʼn waterkrisis gedompel is nie, is omdat die Wes-Kaap deur die DA bestuur word”, sê Steenhuisen.

Hy sê met die waterkrisis skend die ANC art. 27 van die Grondwet wat handel oor die reg op gesondheidsorg, kos en water.

In Johannesburg sit mense dae aaneen sonder toegang tot water en Maroela Media het vroeër berig dat die Pretoria-stadsraad ʼn dringende vergadering met Rand Water, Johannesburg en Ekurhuleni belê oor erge druk op die Rand Water-verskaffingstelsel.

Daar is ʼn ruk gelede gewaarsku dat dié stelsel “op die rand van ineenstorting” is.

Themba Fosi, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, het vroeër gesê Rand Water se algehele waterberging het tot minder as 30% gedaal. “Onmiddellike ingryping is nodig om die krisis te verlig.”

Die DA se beoogde klag by die MRK hou verband met die gebrek aan voldoende waterverskaffing deur verskeie plaaslike regerings in Gauteng en KwaZulu-Natal, onder meer die metrogebiede van Johannesburg en eThekwini.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rooikopheks ·

Die Wes Kaap beleef ook al baie jare na mekaar water probleme. Hierdie is ń landswye Suid Afrika probleem, party dorpe en stede is net erger af as ander.

Shakespeare ·

Hoe slegter dit gaan hoe meer gaan die verraderlike ANC sê: “We have a good story to tell”. Miljoene ongeletterde gepeupel glo hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.