DA verkla ANC LP’s by etiekkomitee

Argieffoto

Argieffoto

Die DA het Donderdag gesê hy het die speaker van die Nasionale Vergadering en die ANC LP’s wat pres. Jacob Zuma verdedig het tydens ʼn stemming in ʼn mosie om hom uit sy amp te laat verwyder by die parlement se etiekkomitee verkla.

John Steenhuizen, die DA se hoofsweep, het in ʼn verklaring gesê aangesien die ANC-koukus en die speaker die president “gehelp en bygestaan het om die grondwet te verontagsaam”, het die DA ʼn formele klag by die etiekkomitee ingedien teen dié LP’s se betreurenswaardige rol in die parlement.

“Die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, het gister ʼn mediakonferensie gehou om die blaam vir die Nasionale Vergadering se swak besluite oor die OB se Nkandla-verslag op die parlement se regsadviseurs te plaas en te beweer dat dit bloot ʼn algehele ‘misverstand’ was,” het Steenhuisen gesê.

Volgens Steenhuisen is dit belangrik om te onthou dat die parlement se regsadviseurs nie die mense is wat in Augustus verlede jaar in die Nasionale Vergadering gesit het toe die ANC LP’s hul meerderheidstemme gebruik het om die OB se bevindinge en regstellende stappe ter syde te stel nie. “Daardie besluit is nou deur die konstitusionele hof as ongeldig bewys en tersyde gestel,” het hy gesê.

Steenhuisen het gesê die ANC was ongetwyfeld aandadig aan die “onwettige besluit” oor die OB se verslag wat in die parlement geneem is en die gevolglike verontagsaming van die grondwet en moontlike oortreding van die parlement se etiekkode.

“Die ANC moet verantwoordelik gehou word vir sy selfvoldaanheid in hierdie waansinnige regsdwaling en die DA sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat dit gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Die DA mors net hul tyd en energie met die trop. Hulle kan of wil nie binne die reëls v parlementêre reëls speel nie.

Luister ·

Wonder of die klomp begin benoud raak; of is hulle regtig so dikvellig?

Veritas ·

Luister. Dié spannetjie glo dat hulle onaantasbaar is. Die groot meerderheid waarmee die ANC die vorige algemene verkiesing, gewen het, laat hulle selfvoldaan en onoorwinlik voel. Hulle weet dat, solank hulle die ‘wit gevaar’ aan kiesers voorhou, hulle kan staatmaak op die steun van die meerderheid van die swart stem. Voeg daarby die president se rassistiese uitlating dat hulle vir ‘n swart president moet stem en die kieserskape sal sorg dat die ANC aan bewind bly. Die politieke opvoedingsproses word doelbewus deur die ANC vertraag om die magsposisie te behou.

alida ·

Mens kan nie sê die ander partye mors hulle tyd nie. Ons weet al by hierdie tyd dat die regering hulle nie steur aan die Hof se bevindinge nie, maar solank daar voordurend druk op hulle geplaas word om reg op te tree moet daar net eenvoudig ‘n oplossing wees. Die DA moet hulle oral druk waar hulle kan op elke klein puntjie. Dit is al hoe hulle sal leer om ‘n land behoorlik te regeer en ontslae raak van die vrot aartappels in die sak en mense verkies wat weet wat hulle doen en nie in die parlement sit en die land besteel nie. Dit is lagwekkend dat hulle beweer JZ se huis is nie geskik vir menslike gebruik nie. Wys my een van die duisende plakkershutte sonder krag en water, wat geskik is vir mense om in te bly. Daardie arme mense moet na oupas en oumas en kleintjies omsien in haglike omstandighede. Dit is ‘n skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.