DA: Verslag ‘bewys’ De Lille se wangedrag

Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad. Foto: Chantall Presence/ANA

ʼn Forensiese verslag skets ʼn treurige prentjie van Patricia de Lille se termyn as Kaapse burgemeester en dui op wangedrag aan haar kant, het die DA Dinsdag gesê.

Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, sê die verslag sal Donderdag ter tafel gelê word tydens die Stad Kaapstad se raadsvergadering. Sy versoek dat De Lille dit nie vooruitloop nie.

Luidens mediaberigte word in die verslag aanbeveel dat tugstappe gedoen word teen die burgemeester, wat einde vandeesmaand uittree ná ʼn pynlike jaar lange stryd met die party oor aantygings van korrupsie in die Kaapse stadsraad.

Mezzone sê dis belangrik om daarop te let daar is twee verslae oor tweedrag in die raad en “albei dui beslis op voortdurende inmenging en wangedrag deur Patricia de Lille”.

Sy sê die tweede, lywiger verslag van ongeveer 2 000 bladsye gedetailleerde getuienis, gegrond op onderhoude, regsvoorleggings en ander insette, skets “ʼn treurige prentjie van Patricia de Lille se optrede as burgemeester”.

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, kom opnuut onder skoot oor beweerde ongerymdhede in die stadsraad. Foto: ANA

De Lille het aan African News Agency gesê sy sal kommentaar lewer op die bevindings nadat sy ʼn regsmening ingewin het.

Die DA het die gesiene regsfirma Bowmans verlede jaar aangestel om beweerde wanadministrasie en wangedrag in die raad te ondersoek nadat fluitjieblasers melding gemaak het van tenderongerymdhede met die magtige Vervoer-en-Ontwikkelingsowerheid. Die ondersoek het aanleiding gegee tot tugstappe teen die voormalige vervoerkommissaris Melissa Whitehead.

Die stadsbestuurder, Achmat Ebrahim, het in Januarie bedank midde-in optrede om hom te skors nadat hy glo nie korrupsie in die munisipaliteit aangemeld het nie.

Luidens mediaberigte het Bowmans se ondersoekers aanbeveel dat die burgemeester én die voormalige bestuurder aangekla word omdat hulle nie inligting oor ongerymdhede onder die raad se aandag gebring het nie.

De Lille het ingestem om as burgemeester uit te tree ná onderhandelings in Julie vanjaar met die DA-leier, Mmusi Maimane. Sy het destyds beweer sy is van alle blaam rakende wangedrag onthef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waarheid ·

Haar probleem is haar ego
Sy wil aanbid word
Arme ding
Hoop sy word wakker en besef sy is uitgedien
Kap haar n ignore.

Piet Snot ·

Moes ‘n behoorlike ondersoek en verslag soos dié een nie afgehandel gewees het voor die heel eerste van die baie pogings om van haar ontslae te raak nie?
Dis mos nou agterent oor kop. Het dit sin noudat sy iedergeval gaan uittree?

jaco ·

Mev. De Lille het n klein bietjie tenderbedrog gepleeg. wats nou so erg daaraan? dit gebeur baie in SA en niemand kom iets daarvan oor nie. In elk geval is die absoluut reusagtige salarisse en ander byvoordele van ALLE verkose politici van ALLE politieke partye ‘n VEEL GROTER geldmorsery as die bietjie bedrog wat Mev. De Lille gepleeg het.
Munisipale raadslede se salarisse begin op R500 000 per jaar. Parlementslede se salarisse begin op R1.3 miljoen per jaar. Ministers kry nog baie meer; so ook provinsiale premiers. So die DA se eie Mev. Zille kry self meer as R2 miljoen per jaar. President Ramaphosa kry R3.6miljoen per jaar.
By al hierdie vet salarisse kom nog lekker motors, ‘n petroltoelaag, lekker huise, verniet vlieg en ‘n onthaaltoelae. Amper AL die geld wat inkom word gespaar, want daar kan gerieflik uit die byvoordele geleef word.
Met hierdie lekker vergoeding wat ALLE verkose politici, ook dié van die hoogheilige DA, kry, is ELKEEN van hulle maar lekker besig met die bou van n mini-Nkandla.

nico k ·

Minstens probeer die DA nog om mense wat bedrog pleeg uit hul ampte te verwyder. Nie seker hoekom almal hierbo daarteen gekant is nie. En wat hulle nou eintlik wil hê nie.

koos1 ·

Nog ‘n rede waarom koaliesies en party samesmeltings nie werk nie.
Die ANC het in 1996 die NP oorgevat en wat het gebeur?
Die DA en kie het PE by die ANC oorgevat en wat het gebeur?
Die DA is permanent onder druk in Pretoria en JHB.
Dit gaan oor poste en geld, en nie die kiesers nie, en nou is dit tyd dat die kiesers moet terug slaan.

AA ·

Koos, wie sal jy nou voorstel moet die kiesers volgende jaar voor stem?

koos1 ·

Ek kan en mag nie vir jou sê vir wie om te stem nie, maar ek sal beslis ‘n party ondersteun wat my belange op die hart dra en nie my stem goedkoop gaan maak vir eie gewin nie.
Op hierdie stadium is kiesers wat nie ANC stem nie redelik moeg vir die ANC en kies enige party wat teen die ANC uitspreek. Dis hoe die EFF in die lewe geroep is en het tans 6% ondersteuning. Dis asof die kiesers vir enige party stem behalwe die ANC. En dan, daarna begin die probleme met koaliesies en sameselting, wat gewoonlik nooit aan die kiesers geopenbaar word voor die verkiesings nie!
Ek ,o ja, ek werk nie vir enige politieke party nie.

Pieter ·

Dit is moes nou al oor en verby, hokom hou hulle aan ou koeie uit die sloot te grawe? Die DA lyk al hoe meer na `n party wat niks kan bereik nie en net aan hou kla. Tyd om vir mense van aksie te stem soos die VF+

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.