DA versoek ondersoek oor pasiënt-selfmoordpoging

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal Woensdag versoek om “dadelik stappe te doen” om verpleging- en veiligheidstekorte by die provinsie se psigiatriese hospitale op te los.

Dr. Iman Keeka, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het gesê ʼn pasiënt by Townhill-hospitaal was sonder toesig en het homself met ʼn mes in die bors gesteek en sy eie keel gesny. Die persoon het selfmoordneigings getoon en moes onder toesig wees, maar is alleen gelaat weens ʼn tekort aan verpleegpersoneel en veiligheidsbeamptes.

“Volgens die DA se bron by die hospitaal in Pietermaritzburg het die voorval byna 10 dae gelede plaasgevind toe ʼn verpleegster, wat nie gekwalifiseerd is nie, oornag in beheer gelaat is van die saal, sonder enige personeel of veiligheidsbeamptes,” het Keeka verduidelik.

“Die pasiënt is eers die volgende oggend tydens ʼn skofruiling in ʼn plas bloed aangetref. Hy is na Grey’s-hospitaal geneem en, ten spyte van sy ernstige beserings, het hy oorleef.”

Keeka het bygevoeg die pasiënt moes “in ʼn veilige of geslote saal” gewees het, maar hy is in die psigoterapie saal gelaat.

“Dit is hoegenaamd nie die eerste gruverhaal van KwaZulu-Natal se staatsbeheerde psigiatriese fasiliteite nie, en dit werp weer die lig op die gevolg van ʼn gebrek aan gekwalifiseerde verpleegpersoneel en die tekort aan veiligheidsbeamptes.

“Die DA het vroeër vanjaar ook ʼn voorval by Townhill aan die lig gebring, waar een pasiënt ʼn ander pasiënt vermoor het. In nóg ʼn voorval is ʼn polisiebeampte vermoor toe ʼn pasiënt uit die Madadeni- psigiatriese hospitaal in Newcastle ontsnap het.”

Hy het gesê die DA het die kwessie van personeeltekorte al herhaaldelik tevergeefs onder LUR Sibongiseni Dhlomo se aandag gebring.

“Gegewe die gebrek aan optrede tot dusver, het die DA verlede week ʼn mosie in die KwaZulu-Natalse wetgewer gebring en versoek dat die Townhill- en Madadeni-voorvalle intern ondersoek moet word.

“Vrae wat nog antwoorde eis, sluit in waarom die Townhill-pasiënt nie in die toepaslike saal was met toepaslike personeel nie. Hoe het die pasiënt die wapen bekom om homself mee te beseer? Waarom was daar nie enige veiligheid in die saal nie? Is daar ʼn algemene verpleging- en veiligheidstekort by KwaZulu-Natal se psigiatriese hospitale?”

Keeka het gesê daar is slegs 26 psigiaters om meer as 2 000 pasiënte te versorg in KwaZulu-Natal.

“Die premier Willies Mchunu moet ook hierop let, aangesien hy steeds dr. Dhlomo ondersteun in plaas daarvan om hom af te dank ná die verdoemende bevindings deur die Menseregtekommissie oor die provinsie se onkologie-krisis.”

Owerhede by die hospitaal was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael ·

Waneer vra die DA vir n ondersoek na die hoë moordsyfer waaronder plaasmoorde val?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.