DA verwelkom betaling deur Esidimeni-NRO’s

Die Demokratiese Alliansie het die hofuitspraak ten gunste van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwelkom wat bepaal dat twee NRO’s wat by die Life Esidimeni-tragedie betrokke was, meer as R660 000 aan die Gautengse departement van gesondheid moet terugbetaal.

Die hooggeregshof in Pretoria het die Anchor Center en die Dorothy Evangeline Franks-fasiliteit beveel om die geld terug te betaal, aangesien hulle steeds betaling geëis het ná die psiagiatriese pasiënte uit hul sorg verwyder is, het DA-woordvoerder Jack Bloom Sondag gesê.

Die SOE beplan ook siviele stappe teen nege ander NRO’s wat fakture vir betaling ingedien het vir pasiënte wat nie bestaan nie, het hy bygevoeg.

“Ek hoop dat strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak sal word teen persone by dié NRO’s wat die betalings op ʼn bedrieglike wyse bekom het. Dit werp lig op die administratiewe onvermoë van die departement omdat hulle geld oorbetaal het, alhoewel hulle moes geweet het dat die pasiënte reeds oorgeplaas is.”

Bloom het gesê hy is egter besorg oor die stadige vordering wat gemaak word om diegene, wie se kriminele nalatigheid tot die afsterwe van 144 psigiatriese pasiënte gelei het, aan te kla. “Hoekom duur dit so lank voor dit in die hof voorkom? Die lewensverlies is sekerlik meer kosbaar as gesteelde geld.”

Die DA plaas steeds druk op die Gautengse premier David Makhura om die wet te gebruik om seker te maak dat die voormalige LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, en haar topbeamptes uit hul eie sak ʼn bydrae sal lewer tot die meer as R300 miljoen wat reeds in vergoeding aan Esidimeni-slagoffers oorbetaal is, het Bloom bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ig ·

Julle blydskap is van korte duur want julle gaan nie n sent daarvan sien nie, alles geblaas op voertuie en oorsese reise

wilma ·

al wat ek vi die skuldiges wil se. SIES jul het die weerloses gefaal. jul hoort ini tronk vi life

Maljan ·

Hulle families het hulle gefaal. Was die “slagoffers” nie ten eerste hulle verantwoordelikheid nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.