DA verwelkom Dirco-hoof se afdanking

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die DA het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se besluit om sy finansiële hoof, Caiphus Ramashau, die trekpas te gee ná sy beweerde betrokkenheid by ʼn omstrede transaksie in New York, verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig dat Ramashau afgedank is na afloop van ʼn tugsaak teen hom oor die aankoop van ʼn stuk grond in dié stad. Die onbeboude stuk grond sou glo vir kantore en verblyf vir Suid-Afrikaanse diplomate by die Verenigde Nasies en die konsulaat in die stad ontwikkel word.

Mergan Chetty, die DA se adjunk-skaduminister vir internasionale betrekkinge, het in ʼn verklaring gesê die departement het altesame R118 miljoen in belastinggeld aan die Simeke Group en JV Regiments Capital betaal om die grond aan te koop en ontwikkel.

Die bedrieglike saketransaksie is egter eers geopenbaar tydens ʼn oorsigbesoek aan die perseel toe die betrokke parlementêre portefeuljekomitee ʼn vervalle gebou op die perseel gewaar het.

Die reusebedrag geld wat aan die stuk grond bestee is, is glo deur die direkteur-generaal, Kgabo Mahoai, goedgekeur sonder die nodige toestemming van die tesourie. Dié is verlede maand reeds in die pad gesteek.

Die DA meen hoewel stappe teen Ramashau en Mahoai noemenswaardig is, moet pres. Cyril Ramaphosa steeds ʼn aantal figure in die departement uit hul poste skors of ontslaan.

“Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, moet ook aanspreeklik gehou word vir haar betrokkenheid by die saak, aangesien die transaksie onder haar leierskap plaasgevind het,” het Chetty gesê.

Sy sê die ambassadeur van Suid-Afrika in New York, Jerry Matjila, wat destyds die direkteur-generaal was, moet ook aan die pen ry.

Die DA gaan glo ʼn brief aan Ramaphosa in dié verband rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Mooi DA anders het hulle promosie gekry want lyk my Ramaposa hou geen minister verantwoordelik, veral as daar meer as R100mil betrokke is!

Sarel

Vandag weg geen vervolging more terug en word net herontplooi

Hendrik

Afdanking is nie genoeg nie. n Misdaad is gepleeg. Almal daarby betrokke hoort in die tronk, en die land het die geld bitter nodig.

absoluut

wys my 1 persoon in die anc wat nie skuldig is aan korrupsie nie asb

Wakkerslaper

Die DA…. ppfffttt! Die anc se ou skoothondjie…