DA verwelkom MRK se verdoemende verslag oor KZN-onkologiediens

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Die DA het Saterdag die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se verklaring dat die verslag oor KwaZulu-Natal se onkologiekrisis afgehandel is en binnekort gepubliseer sal word, verwelkom.

“Volgens Bongani Majola, voorsitter van die MRK, sal die kommissie nou sy eie interne prosedures volg wat insluit dat die verslag op sy webwerf gepubliseer sal word,” het DA-LP Iman Keeka gesê.

Die MRK het ook in die verklaring gesê die verslag is reeds aan die respondente gestuur asook die speakers van die nasionale en provinsiale departemente wat, in hierdie stadium, nog nie ontvangs erken het nie.

“Die verslag het bevestig wat die DA nog die heeltyd sê, dat toerusting wat noodsaaklik is vir ondersoek en behandeling óf gebreek is óf glad nie beskikbaar is nie, dat daar ʼn tekort is aan personeel en dat daar ʼn reuseagterstand is wat daartoe lei dat behandelbare kankers vinnig ongeneeslik word,” het Keeka gesê. “Ons bedank die MRK dat dit een van die min hoofstuk 9-instansies is wat klaarblyklik nie deel is van die staatskaping nie.”

Die MRK het Donderdag in ʼn verklaring gesê die klag, wat in Februarie 2016 ontvang is, het ʼn aantal probleme aan die lig gebring wat betref die verskaffing van gesondheidsdiens aan onkologiepasiënte in KwaZulu-Natal.

“Die klaer voer aan daar is nie voldoende radioterapiebehandelingstoestelle of fasiliteite in die provinsie nie en dit het ʼn negatiewe impak op die behandeling van kankerpasiënte. Die radioterapiemasjiene wat vir radioterapiebehandeling by Addington-hospitaal gebruik word, werk nie.

“Dit het vertragings tot gevolg gehad in die behandeling van onkologiepasiënte wat die klaer toeskryf aan die tekort van werkende gesondheidstegnologie. Die klaer voer aan die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal versuim om voldoende gesondheidsdienste aan onkologiepasiënte te verskaf,” het die MRK gesê.

“Die omvattende ondersoek deur die kommissie het bevind dat die respondente, naamlik Addington-hospitaal, Inkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal (IALC), die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal, en die provinsiale LUR van gesondheid, het die regte van onkologiepasiënte by Addingtong-hospitaal en IALC geskend om toegang tot gesondheidsorgdienste te ontvang as gevolg van sy versuim om te voldoen aan die norme en standaarde wat in wetgewing en beleide uiteengesit word,” lui die MRK-verklaring.

“Die kommissie se aanbevelings is dat die respondente vereis word om onmiddellik stappe te doen om alle gesondheidsmasjiene te herstel en te monitor, ongeag kontraktuele dispute wat nog in die hof gefinaliseer moet word; dat ʼn bestuursplan ingestel moet word om die agterstand te hanteer insluitend om openbare of privaat vennootskappe met privaat onkoloë aan te gaan en dat pasiënte verwys word na privaat diensverskaffers vir ondersoeke, diagnose en die behandeling van kanker.

“Die respondente moet binne 10 dae aan die kommissie verslag doen oor sy ondersoek,” het die MRK bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Meer van die Natalse hospitale moet indringend ondersoek word tov van wrede gedrag teenoor pasiente. ‘n Pasient van ‘n staatshospitaal loop vandag met ‘n been wat 7 cm korter is omdat dit verkeerd angegroei het agv van die weiering om hom (vir ‘n volle maand) oor te plaas vir ‘n dringende operasie nadat hy weens ‘n val sy bobeen gebreek het. Al wat voorgestel is, nadat hy uiteindelik oorgeplaas is, is dat hy weer moet kom sodat die been weer gebreek en geheg kan word. Skande en skade deur sogenaamde mense wat die mediese eed neem om hul naaste te dien.

Johann Marx ·

Te hel met al die armes, siekes en behoeftiges….solank daar net ‘n nuwe Merc in elke amptenaar se drive-way staan…is die reënboog droom helder!!

al ·

Is die MRK dan gekaap met dubbelsinnige rassistiese uitsprake?
Nietemin hierdie is goeie nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.