DA verwelkom parlement se Nkandla-ondersoek

Die DA se nuwe parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko. Foto: Facebook

Die DA se nuwe parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko. Foto: Facebook

Die DA het Dinsdag Max Sisulu, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), se voorstel verwelkom dat ‘n veelparty-parlementêre komitee die Nkandla-verslag voor die algemene verkiesing op 7 Mei moet ondersoek.

Lindiwe Mazibuko, die Da se parlementêre leier, het in ʼn verklaring gesê die party verwelkom die NV se besluit om te reageer op hul versoek dat ʼn ad hoc-komitee gestig word wat die “Nkandla-skandaal” sal ondersoek.

“Ek het versoek dat so ʼn komitee opgestel word nadat die Openbare Beskermer (OB) op 19 Maart die finale Nkandla-verslag bekendgemaak het,” het Mazibuko gesê. “Ons het egter daarna nie weer van die NV gehoor nie en sal eers behoorlik kan kommentaar lewer wanneer die komitee amptelik saamgestel is. Ons sal dan ook weet wat die presiese mandaat van die komitee sal wees.”

Sisulu het besluit om ʼn veelparty-parlementêre komitee aan te wys om die OB, Thuli Madonsela, se bevindinge oor opgraderings by president Jacob Zuma se privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal, te ondersoek, het Beeld Dinsdag berig.

Volgens die koerant het Watty Watson, die DA se hoofsweep, en Corné Mulder, hoofsweep van die Vryheidsfront Plus, bevestig dat Sisulu die ad hoc-komitee gaan aanwys. Lees meer hier.

Volgens parlementêre reëls moet die speaker verskeie politieke partye raadpleeg voor ʼn ad hoc-komitee aangewys kan word.

Sisulu het aan die koerant gesê dat ʼn verklaring uitgereik sal word sodra ʼn besluit oor die komitee geneem is.

Madonsela het haar finale verslag, genaamd “Secure in Comfort”, op 19 Maart vrygestel. Sy het bevind dat Zuma en sy familie ruimskoots voordeel getrek het uit die opgraderings ter waarde van R246 miljoen, wat ʼn swembad, veekraal en amfiteater insluit. Sy het ook bevind dat Zuma die land se Etiekwet vir Uitvoerende Lede oortree het. Madonsela het voorgestel dat Zuma ʼn persentasie van die geld moet terugbetaal.

Zuma het verlede week in reaksie op die verslag gesê hy sal die saak omvattend oorweeg sodra die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sy ondersoek afgehandel het.

Intussen het die SOE aangedui dat sy ondersoek eers aan die einde van Mei, ná die verkiesing, afgehandel sal wees. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.