DA verwerp LUR se poging om Gauteng-leerders se verkiesingskeuse te beïnvloed

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto: Kohji Asakawa / Pixabay)

Die DA veroordeel Matome Chiloane, Gautengse LUR vir onderwys, se sogenaamde pogings om skoolleerders se keuse van politieke party in die komende algemene verkiesing op 29 Mei te beïnvloed, ten sterkste.

Solly Msimanga, ʼn DA-lid van die provinsiale wetgewer, sê die DA is in besit van ʼn memorandum wat aan alle Johannesburg-Oos-distriksdirekteure en gr. 12-lewensoriëntering-onderwysers gestuur is, waarin opdrag gegee word om ʼn projek vir dié vak, getiteld “Swak toegang tot skoon water”, wat op 17 April aan leerders uitgereik is, te herroep.

Volgens die memorandum was die terugtrekking gegrond daarop dat die onderwerp ʼn uitwerking kan hê op leerders se stemkeuses en sekere elemente glo spesifieke sienings bepleit of stemopsies beïnvloed.

“Die skielike besluit deur Chiloane wek vrae, ​​omdat die gr. 12-leerders veronderstel was om die opdrag te ondersoek en voor die aanvang van eksamens teen einde Mei te voltooi. Dit is onaanvaarbaar vir die LUR om te dikteer watter onderwerpe leerders moet navors, net omdat hy angstig is oor wat hulle mag ontdek,” sê Msimanga.

Hy sê Chiloane is bewus van Gauteng se ernstige diensleweringsmislukkings, onder meer ʼn gebrek aan toegang tot skoon water. Leerders sien die waterkrisis en om hierdie rede glo hy enige kans om die onderwerp te bespreek sal die ANC se tekortkominge blootlê en aandui waarom die party nie toegelaat moet word om dié provinsie ná die verkiesing te regeer nie.

Msimanga sê die skending en ondermyning van die reg op gratis onderwys, waarvoor Suid-Afrika as ʼn land geveg het, is onaanvaarbaar.

“Onderwys is ʼn fundamentele reg, wat sonder politieke inmenging gehandhaaf moet word, en enige optrede wat hierdie reg ondermyn, moet onmiddellik reggestel word.”

Msimanga sê aangesien sommige leerders deur die gebrek aan toegang tot skoon water geraak word, is dit belangrik om bewustheid hieroor te skep, deur leerders toe te laat om meer insig in die oorsake en moontlike oplossings daarvan te kry, eerder as om die mislukkings van die ANC in die 30 jaar van demokrasie te versteek.

Die DA eis dat Chiloane voortaan sy inmenging staak en veroordeel hierdie optrede. Msimanga sê sy besluit om die lewensoriëntering-taak terug te trek, het ernstige gevolge, soos ʼn vermorsing van hulpbronne. Dit veroorsaak ook spanning vir leerders, wat eerder vir die komende eksamens behoort te studeer as om ʼn ander onderwerp met minder tyd te moet navors.

Maroela Media het vroeër berig die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook sy kommer oor die stap te kenne gegee.

“Hierdie uiters leersame projek oor die waterkrisis by Hammanskraal word nou gekanselleer en vervang met ʼn nuwe, verkiesingsvriendelike onderwerp. Leerders wat reeds die taak afgehandel het, moet nou studietyd inboet om van voor af te begin met iets wat hulle reeds voltooi het,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, gesê.

Die Gautengse departement van onderwys is reeds om kommentaar genader en terugvoer sal bygewerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Die anc is diep bekommerd oor die verkiesing wat voorlê n benoude anc maak benoude spronge

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee wat, Christine, die ANC het ‘n Plan B. En dít behoort jou te bekommer.

Hennie ·

Ek sien nie wat hulle probleem is nie. Hoe sal ‘n ander onderwerp dinge verander. Daar is sekerlike verskeie leerlinge wat soos die berig sê reeds die projek voltooi het terwyl somminge al ‘n gedeelte verwerk het. Dit gaan mos nie dit wat hulle reeds geleer het verander nie. Dit is klaar te laat om nou ewe skielik die leerlinge se insig te verander en te dink dit sal hulle politieke keuse verander.

Amelia ·

Ek dink ook anc het klaar voorsorg getrem indien hul te min stemme het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.