DA, VF Plus meen jongste werkloosheidsyfers is misleidend; blameer ANC

(Foto: pixabay)

Die DA sê die jongste kwartaallikse werkloosheidsyfers wat Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) bekendgemaak is, dui op die ANC-regering se foutiewe besluite wat hy oor die jare geneem het asook die party se onvermoë om behoorlike krisisbestuur toe te pas.

Volgens die statistieke staan die werkloosheidskoers in hierdie stadium op ʼn skrikwekkende 42% vir die tweede kwartaal van 2020. Daarvolgens het die syfer van mense wat werk afgeneem tot 14,1 miljoen, 2,2 miljoen minder as die vorige kwartaal.

Michael Cardo, DA-woordvoerder oor indiensneming en arbeid, sê hierdie toename in werkloosheid is weens die afgelope dekade se onsamehangendheid en onsekerheid rakende ekonomiese beleid onder ANC-beheer. Hy sê dit is vererger deur die Covid-19-pandemie en die drakoniese afsonderingsmaatreëls wat daarmee gepaard gegaan het, wat ʼn swaar las gelê het op Suid-Afrikaners wat reeds sukkel.

“Die katastrofiese impak van die streng inperking op ekonomiese aktiwiteite word reeds weerspieël in die BBP-syfers van die tweede kwartaal met die ekonomie wat met 51% ingekrimp het.”

Cardo sê die slegte nuus vir werklose Suid-Afrikaners is dat daar nie ʼn vinnige herstel in die arbeidsmark sal wees as die regering nie ʼn werklike, ekonomiese strukturele hervormingsprogram gaan volg nie. Hy sê ʼn vinnige toename in ongeskoolde werkers wat in diens geneem word behoort die regering se belangrikste beleidsprioriteit te wees, en daarvoor moet beperkings op ekonomiese groei deur die staat verwyder word.

Pres. Cyril Ramaphosa se konsep Nedlac- ekonomiese herstelplan bevat welkome toegewings oor die hervorming van die energiesektor en digitale migrasie, maar het steeds ook voorstelle wat nie ekonomiese groei sal bevorder nie.

“Die konsepplan se versoek vir strenger gelyke indiensneming en bemagtigingsverwante wetgewing toon duidelik dat ras steeds die kern van die regering se beleidsdenke rakende die ekonomie is. Dit is ondanks beskikbare bewyse wat toon dat SEB-beleid niks gedoen het om geleenthede uit te brei en insluiting vir die meerderheid Suid-Afrikaners te bevorder nie.”

“Die feit dat drie miljoen Suid-Afrikaners hul werk verloor het as gevolg van Covid-19 skeel die ANC min. In plaas daarvan is die regerende party van plan om hom verder in armoede in te dryf deur ʼn vervalle lugdiens te finansier wat sedert 1994 reeds R57 miljard se reddingsboeie gekry het.”

Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor arbeid, sê daar was ook nie volkome steun vir kleinsake-ondernemings ten tyde van die afsonderingstydperk nie en kleinsake en die private sektor is tot ’n groot mate vir verskeie maande totaal lamgelê.

Sy sê die skuld vir afleggings en ander probleme in die arbeidsmark word gereeld deur die minister van arbeid voor die deur van die private sektor gelê, maar regeringsondersteuning aan die private sektor, die grootste werkskepper in die land, is onvoldoende.

“Die regering fokus meer op onder meer regstelling as werkskepping en daarom verkeer die land in ’n werkloosheidskrisis. Die uitgebreide werkloosheidskoers van 42% is selfs meer kommerwekkend, aangesien dit ontmoedigde werksoekers insluit. Daar is reeds meer mense in die land afhanklik van maatskaplike toelaes as mense wat werk en die land kan nie meer die druk op die fiskus hanteer nie.”

Volgens die statistieke het die werkloosheidskoers in die tweede kwartaal van die jaar met 6,8% gedaal – van 30,1% in die eerste kwartaal na 23,3% in die tweede kwartaal. Volgens die VF Plus was dit egter nie die geval nie, omdat die landwye afsondering mense verhoed het om werk te soek.

Denner sê die werkloosheidskoers is misleidend omdat die definisie van werkloos nie persone insluit wat nie aktief vir werk soek nie, maar mense kon uiteraard nie tydens vlak 5 en vlak 4 van afsondering werk gesoek het nie. Sy sê daarom het die getal mense wat nie ekonomies aktief is nie eerder met 5,6 miljoen toegeneem.

“Statistieke Suid-Afrika waarsku self dat vergelykings met vorige kwartale en jare se data omsigtig gedoen moet word, aangesien die jongste opnamesyfers nie op ʼn volledige steekproef van die bevolking gegrond is nie. Suid-Afrikaners moet onder geen illusie verkeer nie en besef dat daar ’n geweldige werkloosheidskrisis in die land is en skeefgetrekte werkloosheidsyfers sal nadelig wees in die soeke en implementering van oplossings,” sê Denner.

Denner sê in ag genome die aantal werkverliese spreek die oordrewe fokus van veral die departement van arbeid op byvoorbeeld gelyke indiensneming deur die afdwing van kwotas in die werkplek en strenger wetgewing wat daarmee gepaardgaan, in stede daarvan om op werkskeppingsinisiatiewe tydens hierdie desperate tye te fokus, boekdele.

“Die derde kwartaal se werkloosheidsyfer sal ’n aanduiding wees of die regering daarin kon slaag om die werkloosheidsbloedbad weens die inperking om te keer, mits dit op ’n normale grondslag geskied,” meen Denner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

14 miljoen mense werk nie, terwyl die totale wit bevolking maar iets soos 4 miljoen is, waarvan seker so 2.5 mijoen van werkende ouderdom is. Wat dan nou van regstellende aksie en BEE? Eintlik moet werkloosheid dus op 2.5 miljoen staan en moet alle werkloses net wit wees. Die ANC hamer dan so op hoe die wit beheer oor/aandeel in die ekonomie moet stop en dat wit monopoliekapitaal swart mense uitbuit en dat alle wit mense rassisties is.
So as al die goed oor wit mense dan waar is, waarom verander die ANC dan nie net alles vir eens en vir altyd in hulle en hulle mense se guns nie?
Iewers maak die ANC se beleid en die manier waarop hulle vir hulle eie mense sorg glad nie sin nie.

Johanncb ·

Jan Publiek is al gewoond aan vals statistieke wat aan ons gegee word!

Anoniem ·

Ek dink my siening oor groeie en die regering se siening verskil drasties. Waar ek werk wil skep wil hulle werk vernietig, waar ek vooruit wil gaan wil hulle agteruitgaan, waar ek wil bou wil hulle afbreuk, waar ek wil streef na reg en geregtigheid wil hulle streef na afbreuk, plunder en brand, waar ek kos op die tafel wil sit wil hulle die kos gryp en vir hulself vat, maar ja dit is seker maar die private sektor se skuld….

Wys asseblief na een ding wat hierdie regering reg gekry het, net een ding… hulle onvermoë steek hulle ver verby! en hulle grand “policies” en “regulations” het ons op n 42% werkloosheid. Dalk moet iemand vir hulle net laat weet dat hierdie syfer nie gemeet word soos op skool waar jy 100% moet kry nie… ANC hoe laer hierdie koers hoe beter… maar hulle sal seker nie so maklile konsep verstaan nie want hulle bly ongeskoold!

Hennie J ·

Ooglopende onbehoorlike en vals statistiek wat aan ons voorgehou word, maar nouja, wat verwag jy van die kaders? Laat my dink aan die ou gesegde: “statistics is like a bikini, what it reveals is exciting, what it conceals is vital”

Kosie ·

Een lot twak statistiek en voorspellings het gelei tot die elende en nou word ‘n nuwe lot twak statistiek misbruik om voor te gee die krisies is nie so erg nie. Dalk tyd dat mense met valse (leuen) modelle en statistieke bietjie vervolg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.