DA, VF Plus reageer op Ramaphosa se toespraak

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA het die skuif na vlak 1 van die staat van inperking verwelkom, maar weereens versoek dat die ramptoestand tot ʼn einde kom en dat die aandklokreël heeltemal opgehef word.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat die land vanaf 20 September na inperkingsvlak 1 skuif. Die aandklokreël is tussen 00:00 en 04:00 van krag.

Volgens John Steenhuisen, DA-leier, sal sy party versoek dat daar ʼn parlementêre debat plaasvind en dat ʼn ad hoc-komitee gestig word om die regering se bestuur van die land se Covid-19-reaksie te beoordeel. “Pres. Ramaphosa en sy regering moet verantwoordelik gehou word vir die vermybare sosio-ekonomiese verwoesting weens die staat van inperking.”

Die grootste deel van die ekonomie moes vyf maande gelede al ten volle oopgestel gewees het toe die DA daarvoor gevra het, meen Steenhuisen.

“Dit was reeds teen middel April duidelik dat ʼn streng, langdurige afsondering verwoestende sosio-ekonomiese gevolge sou hê, waaronder duisende oormatige sterftes aan ander siektes, miljoene se lewensbestaan wat verlore gaan, miljoene huishoudings wat dieper in armoede gedompel is, duisende ondernemings wat vernietig is, toenemende ongelykheid en miljarde rande wat aan belastinginkomste verloor is. Daardie inkomste moes mense uit armoede trek.”

Elke lewe wat verlore gaan, is ʼn menslike tragedie, sê Steenhuisen. Hy wys daarop dat lewens wat verlore gaan weens armoede, ander siektes, geslagsgebaseerde geweld, selfmoord en depressie moeiliker kan wees om te kwantifiseer as lewens wat weens Covid-19 verloor is, veral omdat die gevolge van die inperking oor dekades eerder as maande sal toeneem.

“Teen middel April is die aanvanklike kommerwekkende voorspellings vir Covid-19-sterftes reeds skerp afwaarts hersien en dit was reeds toe bekend dat Covid-19 nie ʼn beduidende risiko vir gesonde mense onder die ouderdom van 65 inhou nie. Dit is onvergeeflik dat die regering nie die beperkings dienooreenkomstig gewysig het om die reaksie eweredig te hou met die veelvuldige risiko’s wat ons as ʼn samelewing in die gesig staar nie.”

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê Suid-Afrika het ekonomiese herstel nou meer nodig as enige onnodige inperkingsmaatreëls. “Die VF Plus se standpunt is steeds dat alle inperkings, met enkele uitsonderings, opgehef moet word.”

Daar is volgens Groenewald verstaanbare uitsonderings soos ʼn verbod op massasportbyeenkomste en beperkings op reise na en van lande met ʼn hoër risiko.

“Verskeie sektore soos die gastebedryf wat grootliks van toerisme afhanklik is, asook die restaurant-, rolprent- en kunstebedryf, voer tans ʼn desperate stryd om oorlewing en dit is belangrik om hulle van finale ondergang te red.

“Die aandklokreël en beperkte handelstye kon nie meer bekostig word nie. Die nuwe spertyd wat geld vanaf middernag is nog een van die regering se onverstaanbare maatreëls wat nie sin maak nie. Dit is ook nie duidelik op presies watter sektore dit van toepassing sal wees nie.”

Groenewald meen daar is nou belastingverligting vir private mense en sakeondernemings nodig om besteebare inkomste te bewerkstellig ten einde groei ná Covid-19 te verseker. “Die hele Suid-Afrika is ʼn ekonomiese sone en moet so behandel word. Die ekonomiese stimuluspakket wat die regering in April aangekondig het, is onvoldoende. Beleidsekerheid is nou van die grootste belang.”

Die president se beroep op Suid-Afrikaners om aan die Jerusalema-dansuitdaging deel te neem, herinner ʼn mens aan Marie Antoinette wat gesê het die armes moet koek eet, meen Groenewald. “Vir die president om te sê Suid-Afrikaners moet dans terwyl die land in ʼn ekonomiese depressie is, sonder dat hy enige werklike plan aankondig om ekonomiese herstel te bewerkstellig, is uiters teleurstellend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Die Wolf ·

Wat is die DA so behep met die aandklokreel? Ek ondersteun dit ten volle.

Hoekom ·

Kriminele soos die definisie daarvan lui gee nie ag aan wette nie, so sal hulle nie ‘n aandklokreel gehoorsaam nie. Dus is die aandklokreel die onderdrukking van wets gehoorsame lands burgers…

Piet ·

Omdat dit ‘n ‘n beperking plaas op jou bewegingsvryheid, ‘n basiese konstitusionele reg. Boonop is dit onduidelik watter doel dit dien.

QueenB ·

Die DA is darem opit probeer julle die president in swak lug stel sodat jul genoeg stemme kan werf vir die next verkiesing…wat soek iemand in elk geval na twaalf op straat indien hy nie nag skof werk ek verwelkom die aand klok reel

Hoekom ·

Kriminele soos die definisie daarvan lui gee nie ag aan wette nie, so sal hulle nie ‘n aandklokreel gehoorsaam nie. Dus is die aandklokreel die onderdrukking van wets gehoorsame lands burgers…

katerinadiekat ·

Miskien moet jy Noord Korea toe trek. Ek vermoed jy sal hul tipe drakoniese diktatorskap baie geniet.

Johan ·

Die troues begin eers rondom 10 uur vlam te vat en dan is dit tyd om optepak.

Jakes ·

Die oorgaan na fase 1 moes al ingestel gewees het n maand gelede. Wat SA nou meer as ooit nodig het is om die hordes plunderaars en korruptes agter tralies te sien ongeag of hulle kaders of politici is. Daaroor moes die president meer aandag gegee het.

Persheks Adri ·

Plaas gaan hulle aan oor die korrupsie en omdat die kaders nie in die tronk sit nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.