DA vies oor ‘dubbele standaarde’ met grondbesettings

Grondbesetting in Johannesburg (Foto: ANA)

Die DA wil met die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga) vergader om oplossings te probeer vind vir voortgesette grondbesettings in metro’s en plaaslike munisipaliteite.

Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, sê Salga is in die ideale posisie om hiermee te help.

“Daar kan nie ʼn beter voorbeeld van die dubbele standaarde in Suid-Afrika wees as in die huidige grondbesettingskrisis tussen waar die DA regeer en waar die ANC regeer nie.”

Graham-Maré sê in sy pogings om georganiseerde en onophoudelike grondbesettings te probeer stuit, word die DA-geleide Kaapstad as boef uitgemaak, moet hy hofsaak ná hofsaak trotseer en word hy beskuldig van rassisme en dat hy gekant is teen armes.

“Dít terwyl die Johannesburgse metroraad en die Gautengse regering geloof word vir die ferm optrede in die hantering van sindikate wat grond beset.”

Die hooggeregshof in Kaapstad het die stad verlede week verbied om enige uitsettings sonder ʼn hofbevel te doen. “Minder as ʼn week later het die Gautengse LUR [vir samewerkende regering], Lebogang Maile, ʼn weermag van 1 500 gemeenskapspatrolleerders losgelaat terwyl Johannesburg trots sy eie nuwe teen-grondbesettingseenheid van stapel gestuur het.

“Dis geen verrassing dat daar nou geen teken van die Menseregtekommissie (MRK) en die Social Justice Coalition en hulle woede is nie. Waarom die dubbele standaarde?”

Graham-Maré sê daar is ʼn voortslepende politieke en media-aanval op Kaapstad en sy amptenare word daarvan beskuldig dat hulle ʼn oorlog teen armes, uitgeworpenes en haweloses voer wat bloot maar skuiling in die middel van ʼn koue winter soek.

“In Johannesburg word die stad en die provinsie uitgebeeld as wetstoepassers wat vreesloos grondbesetters en sindikate die stryd aansê. Dieselfde optrede. Verskillende invalshoeke.”

Graham-Maré sê die res van die land moet kennis neem van hofbeslissings oor grondbesettings omdat dit eindelik ʼn uitwerking op elke metrogebied en munisipaliteit se vermoë gaan hê om sy grond teen onwettige besetters te beskerm.

“Metro’s en munisipaliteite moet besef en erken dat die probleem met grondbesettings gaan vererger. Tensy ʼn gekoördineerde en veelkantige strategie ontwikkel word om die vlaag te stuit, loop elke stad en elke dorp die gevaar dat hy stukke grond aan besetters sal moet afstaan.”

Graham-Maré sê dit kan egter nie gedoen word nie tensy die ANC en sy meelopers ophou met sy sogenaamde benadering van “ons en hulle”.

“Ons land word bedreig. Dit is nie nou die tyd om politieke punte aan te teken nie. Dit is tyd vir oplossings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Hierdie saak moet rugbaar gemaak word deur die DA op alle platforms sodat kennis geneem kan word van die dubbel standaarde.

Jaco ·

SA moet eintlik ‘n eenpartystaat word en dan ‘n leier kry soos die ou Robert Mugabe. Mugabe soos hy was voor die jaar 2000; voor die nonsens met die grondbesettings.
Tussen 1980 en 2000 het hy alle nonsens in Zimbabwe vasgevat. Protesoptogte en grondbesettings is eenvoudig nie geduld nie. Die ekonomie het gefloreer en op ‘n stadium was die Zimbabwe dollar selfs sterker as die Rand. Ek was in daardie tyd mees as een keer daar. Selfs wit Zimbabwiërs het vir my gesê “we’ve never had it so good”

Kokerboom ·

Optredes in ANC metros skep ‘n presedent. Dus DA kapitaliseer daarop

Tanja ·

Waar kom al hierdie grondbesetters vandaan? is hulle ooit Suid Afrikaanse burgers?

Persheks Adri ·

Ek is jammer, maar gaan plak êrens anders. Hoekom moet ons betaal vir ons eiendom en mense kan net kom plak? Gaan plak dan by die parlement genade as hulle so sterk oor dit voel!

Is hierdie stelling nou ons skuld?

“oorlog teen armes, uitgeworpenes en haweloses voer”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.