DA ‘vorder’ met koalisiegesprekke

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA het weer eens benadruk hy is bereid om koalisiegesprekke met enige politieke party te voer behalwe die ANC en die EFF.

“Ons wil nie saam met een van dié partye in ʼn regering wees nie,” het John Steenhuisen, federale leier van die DA, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê. “Ons wil graag baie duidelik die alternatief stel… dit is nie die DA se werk om die ANC te red nie.”

Die DA het wel reeds bilaterale gesprekke met die VF Plus, Action SA, ACDP, die United Democratic Movement (UDM), die Patriotiese Alliansie (PA) en die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) gevoer “om te sien wat moontlik is,” het Steenhuisen gesê.

Dié gesprekke was “produktief” en die leiers van die betrokke opposisiepartye het ooreengekom om weer te vergader.

Die PA het egter Maandag tydens die gesprekke uitgeloop en aangedui dat hy met die ANC wil saamwerk, veral in Johannesburg.

Dit het egter nie gelyk of dit Steenhuisen veel pla nie, en hy het gesê die PA stel te veel belang in die magsposisies wat hy in munisipaliteite kan beklee.

Die DA se siening rakende munisipale posisies is dat die groter party (dié met die meeste stemme) die posisie van burgemeester in ’n munisipaliteit beklee, aangesien die party die groter mandaat en meeste verantwoordelikheid dra.

Helen Zille, leier van die DA se federale komitee, het op haar beurt gesê die DA het reeds maande voor die verkiesing al ’n konsep-koalisie-ooreenkoms opgestel om ter tafel te lê tydens koalisiegesprekke met ander partye.

Volgens Zille sal die party egter slegs koalisies oorweeg met partye wat dieselde waardes, beginsels en doelwitte het en eindelik stabiele regering sal verseker.

Steenhuisen het dit op sy beurt duidelik gemaak dat die DA nie sonder meer koalisies sal aangaan nie en dat hy dit slegs sal oorweeg om hande met ander opposisiepartye te vat indien dit beter dienslewering en behoorlike bestuur inhou.

Die DA het reeds die volgende meerderheidskoalisies gesluit:

  • Cederberg-munisipaliteit (Citrusdal, Paleisheuwel, Wuppertal, Clanwilliam, Graafwater, Lambertsbaai en Elandsbaai)

Ooreenkoms gesluit met: VF Plus en Cederberg Eerste.

  • Matzikama-munisipaliteit (Vredendal, Vanrhynsdorp, Klawer en Lutzville)

Ooreenkoms gesluit met: VF Plus.

Die DA het ook die meerderheid stemme in dié munisipaliteite verwerf:

  • Kaapstad
  • Bergrivier
  • Swartland
  • Drakenstein
  • Stellenbosch
  • Overstrand
  • Swellendam
  • Hessequa
  • Mosselbaai
  • Midvaal
  • Kouga
  • uMngeni

Die DA het hom Dinsdag daartoe verbind om alle koalisie-ooreenkomste openbaar bekend te maak nadat dit gesluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

SlinkseKoljander ·

DA sal maar met VF+ moet werk, meeste van hulle stemme le nou daar.
Mense is moeg vir die DA baie praat en niks doen.

Hein ·

Andre dit is nogal snaaks dat jy so se. In Midvaal groei die DA net elke jaar meer en meer. Kaap het hulle wel gedaal maar die ANC het ook gedaal dit is mense wat oor gegaan het na GOOD toe en kleiner partye wat in elk geval van die DA afhanklik is as hulle munisipaliteite wil bestuur.

piet ·

Hoe bedoel jy meeste van hul stemme le by die VF? Bedoel jy die konserwatiewe klompie Afrikaners wat terug is na VF? Beste ding wat met die DA kon gebeur het, raak ontslae van die verkramptes.

Hein ·

Piet dit gaan my verstand te bowe hoe mense nog vir klein partye stem. Dit werk net nie ons het dit nou gesien met die munisipale verkiesing. Hulle sal liewer vir die klein partye stem net omdat die DA nie als doen volgens hulle guns nie maar dit is ok die ANC kan maar verder regeer.

piet ·

Dis reg Hein maar ek is bly die verkramptes is weg uit die DA. Het in elk geval in die eerste plek nie daar gehoort nie. DA moet daai klompie afskryf en uitlos.

Di ·

Die Patriotiese Alliansie (PA) se Gayton McKenzie beweer dat daar te veel kleurlinge sterf en niemand iets daaraan doen nie. Die feit is dat dit die kleurling gangsters in hierdie gebiede is wat die oorsaak is van die meeste sterftes onder hulle eie ras. Daar moet drastiese stappe geneem word in hierdie areas wat deur gangsters oorgeneem is.

JohanR ·

El vind Gayton McKensie net meer wind as binnegoed! Wat is daai gesegte – Avoid loud and aggressive persons; they are vexatious to the spirit.

ROELOF ·

En McKenzie reken die ANC gaan dit stopsit. Vir PA gaan dit slegs oor sitplek in die munisipalteit. Oud tronkvoël met baie grootpraat. Lees Cayton McKenzie ( Wikipedia). Krimineel, tronkvoël, robber en multi miljoenêr.

Sarel ·

Sedert die dae van Tony Leon was DA nog nooit goei
Koalisie Vennote nie

piet ·

VF+ moet dankbaar wees vir die DA. Sonder hulle sal hulle nerens op regeringsvlak ‘n impak he nie. Moet maar te bly wees om as ‘n klein koalisievennoot ook ‘n plekkie in die son te kry.

Inge ·

En Tshwane gaan die EFF kry…. wonderlike land waarin ons lewe!!!

Hein ·

Inge as die mense wat Action SA en VF+ gestem het vir DA gestem het sou dit Tshwane asook JHB in ‘n DA Meederheid ingesit het dan sou daar geen koalisie gevegte nodig gewees het nie maar nou ja hardkoppigheid is maar ons Suid Afrikaners se ondergang. Was nog altyd sal altyd wees.

piet ·

Tshwane is ‘n gemors. Ek sien EFF wil ook nie saam met die ANC werk nie. Geen koalisie gaan daar genoeg stemme he nie, dink ek

Kokerboom ·

Plekke waar mens mens met gemoedsrus kan bly. So tragies Pretoria kan nie ‘n Afrikaner hartland wees en dat stad so moet ly onder ANC boewe

Hein ·

Ongelukkig kan daar nie ‘n metro wees wat net uit Afrikaners bestaan nie. As dit is hoe ons Afrikaanse mense gaan redeneer gaan ons nooit ontslae raak van die ANC nie

piet ·

Watter persentasie van die bevolking maak die Afrikaner in Pretoria uit?

Mariana ·

Bly dat DA nie met ANC en EFF gaan saamwerk nie. Dit sou nie deug nie.

Danie ·

Met wie die DA ookal saamwerk, hy moet onthou dat die stemme wat hy ingebring het van mense was wat vir n spesifieke mandaat gestem het.

Waarnemer ·

Die DA moet wakker skrik,die volgende verkiesing le om die draai en as hulle die kaders wil uitgooi,sal hulle NOU AL moet optree en nie wag tot drie maande voor die verkiesing nie.Hulle sal NOU moet begin wys wat nhulle beweer nl…”Die DA kry dinge gedoen”Die ANC gaan nie so maklik tou opgee nie,hulle is alreeds besig om te bemark vir die volgende verkiesing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.