DA vra dat afsondering vinniger uitgefaseer word

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die DA het voorstelle by die regering ingedien dat die maatreëls van die algehele landwye afsondering stelselmatig verslap word.

Die party se waarnemende leier, John Steenhuisen, het by die bekendstelling van ʼn beleidsdokument van 27 bladsye oor die onderwerp in Kaapstad gesê hoewel die DA ondersteunend ten opsigte van die regering se afsondering is, meen die DA veranderings het noodsaaklik geword.

Die dokument is Maandag deur Steenhuisen aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur. Die DA verwys na hul eie voorstelle as ʼn “intelligente afsondering”.

Dit berus daarop dat daar volgens die DA vier vlakke van die landwye afsondering moet wees, waarvan vlak vier, naamlik die “harde afsondering”, dit is wat Suid-Afrikaners tans ervaar.

“Vlak drie sal ʼn sagte afsondering wees, vlak twee ʼn sagte oop afsondering en vlak een ʼn volkome oop afsondering,” het Steenhuisen tydens ʼn aanlyn inligtingsessie aan joernaliste gesê.

Die DA het ʼn kleur aan elke vlak van die afsondering toegeken, en volgens Steenhuisen is daar drie veronderstellings waarop die voorgestelde “intelligente afsondering” berus.

“Om die koronavirus-epidemie te oorwin, gaan ʼn marathon wees – nie ʼn naelloop nie,” het Steenhuisen aangevoer, op grond daarvan dat ʼn teenmiddel eers oor ongeveer twee jaar beskikbaar kan raak.

“Boonop was Suid-Afrika met die aanvang van die landwye afsondering al in die greep van ʼn resessie. Nou wink ʼn depressie – dit gaan naamlik min of meer onmoontlik wees om die koste vir die bekamping van die mediese gevaar te balanseer met die koste daarvan om ondernemings en arm huishoudings wat op aalmoese en staatshulp staatmaak, aan die gang te hou,” aldus Steenhuisen, wat meen soveel moontlik mense moet so gou moontlik terugkeer werk toe.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Teen die agtergrond van wat Steenhuisen beweer ʼn groeiende neiging wêreldwyd is om stadiums van ʼn landwye afsondering in te stel, meen die DA daar is drie redes vir Suid-Afrika om dieselfde te doen.

“Die eerste is dat dit onmoontlik is vir inwoners van townships en informele nedersettings om te selfisoleer, om die vlak van higiëne te handhaaf wat die virus sal bestry, en om die beskermende klere aan te skaf wat nodig is om die virus in bedwang te hou.

“Tweedens gaan die virus nie bloot ophou wanneer die afsondering ophou nie. Infassering is noodsaaklik en ons ‘intelligente afsondering’ sit uiteen hoe om dit te doen.

“Derdens kan Suid-Afrika nie ʼn langdurige afsondering bekostig nie. Ekonome bereken reeds dat die landsekonomie met 4-6% kan krimp vanjaar,” het Steenhuisen uitgewys.

Die sogenaamde “intelligente afsondering” sal verskillende stadiums van intensiteit hê en daar sal tussen die verskillende stadiums rondbeweeg kan word.

Die “intelligente afsondering” sal grootskaalse toetsery, opsporing van siekes, rapportering van data en behandeling insluit.

ʼn Massiewe aantal hospitale en ander gesondheidsfasiliteite sal gebou word en die dra van gesigmaskers sal in alle openbare ruimtes afgedwing word.

ʼn Inligtingsveldtog oor higiëne, diagnose en die hantering van siekes met streng regulasies sal ingestel word. Makliker maniere om te selfisoleer sal geskep word, strenger grensbeheer sal ingestel word, ʼn ekonomiese stimuluspakket sal ingestel word en omvattende strukturele ekonomiese veranderings sal volg, het Steenhuisen aangedui.

Die regering het nog nie op die DA se voorstelle gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peetjie ·

Nou waar is al daai mense se PPE en die social distancing?

Kosie ·

Die DA moet eerder ophou dink. Sit in jou hoekie en shurrup.

Hekwag ·

Stem heeltemal saam met die DA. Met net 27 dood, kan ons stelselmatig die afsondering verslap en kyk hoe dit gaan.

Michael 1 ·

Die DA moet hom besig hou met politiek en sy eerste prioriteit moet wees om diskriminerende wette teen wit minderhede geskrap te kry.

ES ·

Nee wat, los die afsondering soos wat dit nou is – ek het familie wat al die voorsorgmaatreels gevolg het, net ‘n keer of twee winkel toe was om die noodsaaklike kruideniers te koop met die nodige gesigmasker ens. en nogsteeds die virus gekry het. Jy kan nie te versigtig wees nie, hierdie ding is ernstig.

Marisa W ·

Ek ondersteun die DA ten volle – daar is mense wat nie kos het om te eet nie agv die afsondering – ek praat nie net van die mense in die informele nedersettings nie – ek praat van my en jou bure in middelklas woonbuurte – mense wat hul eie besighede bedryf het en werk verskaf het – die besighede kan nou nie handel dryf nie en dus is daar nie inkomste nie – hierdie mense is meestal te trots (ons is mos geleer dat jy swak is as jy hulp vra) om hulp te vra en wend hulle eerder na selfmoord en/of familie moord. Ons wat nog lekker ons maandelikse salaris kry het nie ‘n besef van die spanning en druk waaronder hierdie mense probeer oorleef nie. In plaas daarvan om jou mond uit te spoel oor die DA se werk – maak liewer jou beursie en hande oop en ondersteun die wat daagliks staan en kos kook vir families wat niks het om te eet nie.

AH ·

Ek stem saam met die DA se voorstelle. Een ding is seker. Die virus gaan nie binne die volgende twee weke ewe skielik verdwyn nie en bitter min mense kan oorleef sonder ‘n inkomste. Dit is ondenkbaar dat die streng inperking onbeperk kan voortgaan. Die staat kan beslis nie sorg dat elkeen van ons land se huishoudings elke dag kos op hul tafels kan sit nie. Die van julle wat genoeg het om julle deur die tyd te dra moet net dankbaar wees en dink aan diegene wat niks het nie en ook nie kan werk vir ‘n inkomste nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.