Die DA het adj.pres. David Mabuza in sy hoedanigheid as leier van regeringsake gevra om die parlement byeen te roep sodat parlementariërs aan die werk kan kom.
Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, sê die party het hom tot Mabuza gewend ná verskeie versoeke aan die speaker, Thandi Modise, om die parlement oor dringende sake terug te roep.
“ʼn Menigte uitdagings staar Suid-Afrika in die gesig en die parlement het die plig en die hulpbronne om talle van die kwessies wat Suid-Afrika raak, te hanteer.”
Mazzone sê die kwessies sluit in onsekerheid, frustrasie en verwarring oor die entstofprogram, ʼn departement van binnelandse sake wat nie meer basiese dienste lewer nie, ʼn humanitêre krisis by landsgrensposte, ʼn polisiediens wat branderryers en swemmers moet stuit terwyl moorde en verkragtings ongebreideld voortgaan, ʼn gasvryheidsbedryf wat op sy knieë gedwing is, ʼn maatskaplike toelaestelsel wat byna ineengestort het en leerders wat vreesbevange is oor wat die akademiese jaar inhou.
Nog probleme sluit in dié met hospitale landwyd wat nie die vermoë het om siekes te help nie, voortgesette beurtkrag en munisipaliteite wat nie basiese dienste kan lewer nie.
“Toe die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het, het die DA sy bereidwilligheid te kenne gegee om die regering by te staan. Die aanbod is nie teruggetrek nie en ons het deurlopend insette gelewer oor waar die regering tekort skiet en misluk,” sê Mazzone.
“Suid-Afrika benodig onpartydige oplossings en samewerking om die regering te help om die lang lys probleme te hanteer. Die parlement is die manier om dit te doen. Ons het werk om te doen en ons moenie verhoed word om ons rol kragtig te vervul nie.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Bravo, ek stem heelhartig saam.
Droom voort DA. Die regering geniet die “power trip” en gaan nie toelaat dat die parlement dit stop nie.
Hulle is bang want dan moet hulle antwoorde verskaf. Weet nie meer met watter leuns vorendag te kom nie . Wonder of hulle self begin besef die gebrek aan die grys materiaal in hulle midde.
Dit gaan mense met bonatuurlike oortredings vermoëns neem om die regering tot rasionele insigte te bring en ons ekonomie van totale ineenstorting te red. Hongersnood staar ‘n groot deel van die bevolking in die gesig en die regering se rampbestuur is die oorsaak.
is dit nie nou tyd vir eens en altyd vir die DA om uit die Kas te klim nie .of is julle net plain slapgat!!!! Oppisiesie party ?asb!!! Blaf soos klein hondjie anderkant die draad van die sirkus begin het !!!!