DA vra kwytskelding van minimumloon vir werkloses

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: ANA)

Die DA het as beleid aanvaar dat jong mense, interns en mense wat reeds geruime tyd (byvoorbeeld twee jaar lank) al werkloos is, van die beoogde nuwe nasionale minimumloon vrygeskeld moet word in belang van werkskepping.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het gesê die grootste uitdaging in Suid-Afrika vandag is om diegene wat van die ekonomie uitgesluit is, by die ekonomie ingesluit te kry.

Hiervoor is werkskepping noodsaaklik, maar volgens Maimane keer die vakbonde – met die regering as hul lakei – net vir die belange van diegene wat reeds ʼn betrekking het.

Dit beteken niemand sien om na die belange van die werkloses nie, en volgens Maimane stel die DA hom ten doel om die stem van die werkloses te wees. Maimane het gesê dis gebiedend noodsaaklik dat dit so maklik moontlik gemaak moet word om volhoubare werkgeleenthede te skep, maar ʼn nasionale minimumloon is na die DA se mening nie die beste manier om dit te doen nie.

Maimane het uitgewys dat die nasionale tesourie bevind het soveel as 750 000 werkgeleenthede kan in die slag bly as die nasionale minimumloon op die beplande manier en met die beplande vereistes ingestel word, omdat baie werkgewers nie die vereistes van daardie konsepwetgewing finansieel sal kan dra nie.

Die DA se alternatief is dat ʼn nasionale minimumloon wel ingestel word, maar dat daar sekere moontlike uitsonderings moet wees sodat mense nie so sukkel om werk te kry nie.

Die voorstel is dus dat individue wat resorteer onder die jeug, mense wat professionele internskappe doen of diegene wat al meer as twee jaar werkloos is, die opsie moet hê om van die minimumloon vrygeskeld te word as hulle dit so verkies, sodat hulle darem net ʼn werk het of ondervinding kan opdoen sonder dat ʼn minimumloon dit vir ʼn werkgewer onmoontlik maak om hulle in diens te neem.

ʼn Belangrike vereiste vir kwytskelding van die minimumloon kragtens die DA se nuwe beleid is dat die kwytskelding slegs vir ʼn vasgestelde, beperkte tyd geldig sal wees (daarna moet die werker weer mik vir ʼn posisie wat wel aan die minimumloon onderhewig is) en dat werkers elkeen self moet kan besluit of hulle van die minimumloon vrygeskeld wil word gegewe hul persoonlike omstandighede.

Maimane het skalks opgemerk dat dit verstommend is hoe die regering die staat se uitgebreide openbarewerkeprogram van die beplande minimumloon van R20 per uur wil uitsluit (vir daardie program sal die minimumloon R11 per uur wees luidens konsepwetgewing wat tans voor die kabinet dien) omdat te veel werkgeleenthede anders sal verval, maar dat die regering nie gebore in staat is om te verstaan dat presies dieselfde argument vir die private sektor geld nie.

Ander belangrike beleidsaspekte wat Maimane saam met die DA-LP’s Gwen Ngwenya en Michael Bagraim toegelig het, was dat die DA ten gunste is daarvan dat onderwys tot ʼn noodsaaklike diens verklaar word, wat dit onder meer baie moeilik sal maak vir onderwysers om wettig te staak, en dat differensiasie in tersiêre onderwys ingestel word tussen navorsingsinstellings aan die een kant en onderrig- en vaardigheidsgefokusde instellings aan die ander kant.

Maimane moes ook die babelaas konfronteer wat deur van die meer chaotiese en omstrede besluite op die pas afgelope DA-kongres in Pretoria veroorsaak is.

Een daarvan is die klousule wat aanvaar is dat uitvoerende DA-voorsitters, soos burgemeesters byvoorbeeld, uit hul poste verwyder kan word as die meerderheid van hul koukus vertroue in hulle verloor het en as die DA se federale bestuur daartoe toestem.

Maimane het sy siening herhaal dat die klousule nie teen die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, gemik is nie – ten spyte daarvan dat die Kaapse metroraad se DA-koukus al weer vandag vergader sodat diegene wat met haar ontevrede is kan plan maak oor hoe om van haar ontslae te raak.

Die ander groot kopseer vir die DA is die wyse waarop die DA-LP van Centurion, Natasha Mazzone, op die kongres tot ondervoorsitter van die DA se federale raad verkies is.

Mazzone is die Vrydag voor die kongres tot die posisie verkies, maar die kongres het eers die volgende dag besluit om die posisie in te stel, so verskeie DA-lede meen nou haar verkiesing was ongeldig.

Die ontevredenheid oor Mazzone is eintlik ʼn aanduiding van ongelukkigheid dat wit Engelssprekendes by die kongres tot byna elke magsposisie in die party verkies is.

Voorbeelde is Athol Trollip as federale voorsitter, Mike Waters as een van drie federale ondervoorsitters, James Selfe as voorsitter van die federale raad, Mazzone as een van sy ondervoorsitters en dr. Dion George as hoof van die party se finansies.

Op daardie boonste vlak van die DA is dit net Maimane (leier), dr. Ivan Meyer en Refiloe Ntsekhe (die ander twee federale ondervoorsitters) en Thomas Walters (die ander ondervoorsitter van die federale raad) wat nie wit en Engels is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

rollie ·

Ek hoor vanoggend ‘n vakbondleier sê dat die gemiddelde salaris van staatsdiensamptenare hoer is as diegene in die privaatsektor. Fatcats

Karolis ·

Klink vir my of die wind omdraai teen daai glibberige mannetjie van die da.

jaco ·

so as ek al lank werkloos is, moet ek n werk wat R1000 per maand aanvaar, want “dis darem beter as niks”.

LB S ·

Nee, lees mooi nog ‘n keer. Jy kan as jy wil, maar jy hoef nie. So laat diè wat wil dan so maak.

Celia Allan ·

Interessant sê die vrou wat in my huis werk dat hulle wil hê die regering moet wegdoen met grants en JOBS gee!!!
“No grants, give jobs” – soveel meer wed vir die selfbeeld!!

Danien ·

Baie mense gaan sonder werk sit. Die vrou wat my klere stryk het ek R130 per dag gegge as sy 3 ure werk of 6 ure dit was wat sy gekry het en het nooit meer as 6 ure gewerk nie nou gaan ek haar betaal wat hulle se ons haar moet betaal en dit is R20 per uu.r. Ek het haar dit ook gese sy gaan van nou af betaling kry volgens wat die wet bepaal en as sy dus nou 3 ure werk gaan sy R60 kry en vir 6 ure R120. Sy is nou baie ongelukkig maar die unie of regering moet dan maar vir haar sorg as sy nie so wil werk nie. Ek maak nie die wette nie ek leef net daarvolgens.

LB S ·

Danien, nou hoe was jy dan so dom gewees in die eerste plek.

Kyk, ons almal weet “piece jobs” is maar skaars en meeste van ons betaal R120 – R200 p.d. met ‘n glimlag. Maar vir iemand wat permanent werk teen R20 p.u. is dit ‘n baie meer stabiele inkomste en iets om mee te begin en om ondervinding te kry.

SjN ·

Vraag en aanbod, doen weg met grants en subsidieer die verskil in salaris aan die werkgewer, meer mense kan in diens geneem word en produktiwiteit kan verhoog word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.