DA vra NVG moet nou sê oor suiwelplaasvervolgings

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: ANA)

Die DA sê hy gaan die nasionale direkteur vir openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, vra vir ʼn vorderingsverslag oor die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoek na die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat.

Dít nadat die hooggeregshof in Pretoria vandag in die guns van die DA en die Raad ter Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) bevind het in hulle aansoek om die openbare beskermer se verslag oor die projek ter syde te laat stel.

Minstens R200 miljoen se staatsgeld, wat bestem was vir die ontwikkeling van opkomende swart boere in die Vrede-omgewing, is na die Estina-suiwelprojek gekanaliseer. Estina word verbind met die omstrede Gupta-familie. Van dié geld is glo selfs gebruik om in 2013 vir ʼn weelderige Gupta-troue by die Sun City-oord te betaal.

Die DA het onder meer aangevoer adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, se verslag oor die projek was ʼn toesmeerdery om ANC-hoëlui te beskerm.

Die hof het vanoggend in sy uitspraak gesê Mkhwebane se verslag word “hersien, ter syde gestel en onwettig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar”.

Die DA het die uitspraak verwelkom.

“Pleks daarvan om diegene te bemagtig wat uit die ekonomie uitgesluit is, is meer as ʼn 100 swart Suid-Afrikaners gebruik as ʼn front vir ʼn bewimpelde plan van grootskaalse korrupsie en geldwassery om die Guptas en hulle vriende in die ANC te bevoordeel,” het DA-leier Mmusi Maimane in ʼn verklaring gesê.

“Tussen die Guptas en die ANC is swart Suid-Afrikaners besteel van ekonomiese geleenthede. Dit is ʼn laakbare misdaad en diegene verantwoordelik daarvoor moet gestraf word.”

Maimane het gesê die DA het in 2017 klagte aanhangig gemaak teen diegene wat by die skema betrek is. Dit het ingesluit klagte van geldwassery en rampokkery. Hy het ook bewyse van die beweerde misdade aan die Valke oorhandig.

Maimane het gesê hy gaan Batohi nou vra watter vordering sedertdien met die ondersoek gemaak is.

“Dit is hoog tyd dat die strafregstelsel sy werk doen. Dis amper ʼn jaar en ʼn half sedert Cyril Ramaphosa president geword het en beloof het om korrupsie te beveg. Tot vandag is nie ʼn enkele persoon wat by korrupsie betrek word, verantwoordelik gehou of agter tralies gesit nie.

“Pleks daarvan bly die (beweerde) hoofargitekte van korrupsie, soos Ace Magashule (voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC), Bathabile Dlamini (minister in die presidensie belas met vroue), Nomvula Mokonyane (voormalige minister van kommunikasie en waterwese) en Mosebenzi Zwane (voormalige minister van minerale hulpbronne) in beheer van sake en sit hulle ANC-stoele in die parlement vol,” het Maimane gesê.

Hy sê daar moet nou tot vervolging oorgegaan word.

Openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

“Die openbare beskermer blyk onverbiddelik te wees om kosbare geld op vals regsgedinge te mors. ʼn Oneweredige hoeveelheid van adv. Mkhwebane se begroting is op onsuksesvolle hofsake gemors, terwyl die geld bestee moes word om die belange van Suid-Afrikaners te beskerm en diegene in beheer verantwoordelik te hou,” het Maimane gesê.

“Ons pleit by haar om die uitspraak te aanvaar en weer te besin. Haar werk is om die publiek te beskerm en dit sluit die meer as 100 slagoffers van die Vrede-suiwelprojek in.”

Cope het intussen sy oproep herhaal dat Mkhwebane in die pad gesteek moet word en sê sy is in haar pos om spesifieke politici te beskerm.

Die party het ook die hofsuitspraak verwelkom.

“Ons het deurlopend geweet die verslag oor die Vrede-suiwelprojek was net ʼn toesmeerdery om Ace Magashule, Mosebenzi Zwane en die Guptas te beskerm,” het Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, gesê.

Bloem het gesê Mkhwebane moet onverwyld uit haar pos verwyder word, voordat sy die integriteit van die openbare beskermer se kantoor verdere skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nelia van Zyl

Wonderlik! Nou kan skurke en meelopers hopelik aan die pen ry en verantwoording begin doen vir hul skelmstreke!!

Boerboel

Niemand nog vervolg nie, dit gaan ook nie gebeur nie, Kyk vir Zuma, nog steeds op vrye voet na tien jaar!

Tanya

Ja steek haar in die pad Gomta en anc het dir land met skelm streke in hulle hand

Ellisras

Wat van ‘n kostebevel teen haar persoonlik. Dit is al hoe sy sal leer. Miskien.

Hennie

Tyd dat die OB verwyder word…