DA vra ondersoek na boeliery van opkomende swart boere

(Argieffoto: pixabay)

Die DA sê hy gaan ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa rig waarin hy vra vir ʼn dringende ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na bewerings dat ʼn groep suksesvolle, opkomende swart boere in Mpumalanga geteister en gedreig word dat hulle van hul plase afgeskop gaan word omdat hulle weier om omkoopgeld aan staatsamptenare te betaal.

“Hierdie groep opkomende boere moes reeds jarelange teistering verduur deur hierdie korrupte amptenare van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Mpumalanga-kantoor,” sê Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Die DA werk saam met hierdie boere en het bewyse van die meedoënlose toutrekkery waaraan hulle deur hierdie korrupte amptenare in die departement onderwerp word.”

Steyn sê die party gaan dié bewyse aan Ramaphosa voorlê ter ondersteuning van die versoek dat die SOE die saak moet ondersoek en geregtigheid vir die boere geskied.

Volgens Steyn het vorige pogings van die boere om Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, te kry om in te gryp, misluk. Hulle het ook aan Mdu Shabane, die direkteur-generaal vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, geskryf. Volgens Steyn het dié hulle terugverwys na dieselfde provinsiale kantore waaroor hulle in die eerste plek gekla het.

“As minister Didiza ernstig daaroor was om die boere te help, sou sy ʼn onafhanklike paneel saamgestel het om te verseker dat hierdie bewerings ondersoek word. Haar versuim om dit te doen kom neer op die versuim om ANC-korrupsie en ‑patronaatskap wat grondhervorming in Suid-Afrika pootjie, te stuit.”

Steyn sê dit is net nog ’n voorbeeld van die korrupsie en uitbuiting deur oneerlike politici wat opkomende boere steeds keer om die grond te besit waarop hulle jare lank suksesvol boer.

“Die DA hoop dat pres. Ramaphosa gehoor sal gee aan ons versoek en dadelik ʼn SOE-ondersoek sal magtig sodat die waarheid onthul en korrupsie blootgelê kan word. Soos voorheen versoek, moet hy ook alle vorige SOE-verslae oor grondhervorming bekend maak. Dit is die enigste manier om die omvang van korrupsie in die departement te bepaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

My siening ·

Gee die wat wil boer eiendoms reg want die regering help regtig nie die rerrige swart boere nie maar eeder minister en haar kronies om geld te maak met afpersing. Haar mense gun nie swart mense iets nie, swart op swart.

koos10 ·

Hulle sal nou kommentaar lewer, want hier is weer iets wat deur wit mense gedryf word.

Tokkel ·

Boere in ons land is keelvol, maak nie saak watter kleur jy is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.