DA vra openbare sittings oor SAL-reddingsboei

(Argieffoto: ANA)

Die DA doen ʼn beroep op die minister van finansies, Tito Mboweni, om die voorstel dat geld van die Covid-19-hulppakket gebruik word om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te red, te verwerp. Die amptelike opposisie gaan ook aan die voorsitter van die staande komitee oor finansies, Joe Maswanganyi, skryf en vra vir spesiale openbare sittings oor die beoogde reddingsboei.

Met die sittings hoop die DA dat die komitee die geleentheid kry om vrae te vra oor die voorstel om die reddingsboei te finansier deur openbare werkverskaffingsprogramme wat as deel van die Covid-19-verligtingspakket beplan word, te besnoei.

Staatsamptenare soos onderwysers en verpleegsters kan ook die ernstige tekort aan hulpbronne waarmee hulle daagliks te doen kry, tydens sulke sittings bekend maak.

“Die sitting is sodat elke parlementslid, veral ANC-raadslede, moet besef dat steun vir hierdie reddingsboei beteken daar word aktief gekies om die finansiering van dienste aan die armes deur middel van die Covid-19-hulpprogramme te sny,” sê Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies.

Hill-Lewis sê die staande komitee hou openbare sittings oor die hele begroting en laat nooit tyd toe vir die spesiale ondersoek van spesifieke bestedingsvoorstelle nie.

“Daarom het ons toegewyde openbare sittings oor die SAL-hulp broodnodig,” sê Hill-Lewis.

“Die regering ignoreer die uitwerking wat diep begrotingsbesnoeiings, wat in die aanvullende begroting aangekondig is, op dienslewering gehad het en sal nou R19,5 miljard gebruik wat opsy gesit is om werk vir miljoene Suid-Afrikaners te skep. Dit is moreel onverdedigbaar.”

Die DA doen ʼn beroep op alle partye wat deel van die komitee vorm om die voorstel te verwerp.

“Meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners het hul werk verloor weens Covid-19 en die parlement kan nie toekyk terwyl die regering hulle verder in armoede druk nie.”

Hill-Lewis meen die parlement moet toesien dat die regering se Covid-19-hulppakket bestee word aan hulp aan gesinne wie se inkomste deur die afsonderingstydperk verwoes is.

“Die parlement moenie toelaat dat hierdie geld na die SAL herlei word nie.”

Altesaam R57 miljard is sedert 1994 reeds aan SAL se reddingsboei bestee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Gooi nog geld in die lug die regering eish en ons moet betaal

Tanniepetoors ·

Asseblief, SAL is erger as die Titanic, al jare lank gedoem. Dis boonop ‘n bodemlose put wat in elke moontlike rigting lek en die enigste mense wat daarby baat is die paar salaristrekkers (wat hul salarisse nie seker is nie) en die kaders wat rondvlieg op belastingbetalers se onkoste. Verklaar die ding bankrot en kry klaar!

Sarel ·

Wat van DENEL se personeel wat nie eers salaris ontvang nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.