DA-vrou dra nou die broek in Limpopo-munisipaliteit

Marlene van Staden. Foto: Met vergunning van Die Pos.

Marlene van Staden. Foto: Met vergunning van Die Pos.

Inwoners van Vaalwater, Modimolle (Nylstroom), Naboomspruit en Roedtan in Limpopo kan uitsien na “positiewe verandering” met ʼn plaaslike DA-vrou, ma, voormalige joernalis en onderwyseres, nou aan die stuur van die Mookgophong/Modimolle-munisipaliteit.

Marlene van Staden (35) is Dinsdagmiddag tydens die munisipaliteit se eerste raadsvergadering ná die munisipale verkiesing op 3 Augustus onder groot toejuiging tot burgemeester verkies nadat die ANC, wat die verkiesing met 45% van die stemme gewen het, onttroon is vanweë ʼn koalisie tussen die DA, VF Plus en EFF.

Die voormalige ANC-burgemeester, Elizabeth “Meisie” Lekalakala, moes noodgedwonge die burgemeestersketting ophang.

Die DA se Johann Abrie en Dingaan Motshwene is kort voor haar inhuldiging onderskeidelik as die raad se speaker en hoofsweep ingestem.

“Ek is vreeslik opgewonde om stap vir stap positiewe verandering in die gebied aan te bring,” het Van Staden Woensdag aan Maroela Media gesê.

Met haar nuwe amp wat heeltyds haar aandag gaan verg, het sy bedank as joernalis by die plaaslike gemeenskapskoerant, Die Pos, waar sy sedert 2013 oor sake geskryf het wat die gemeenskap na aan die hart lê. Sy het ook bedank as onderwyser by Meetsetshehla Secondary School waar sy ekonomiese en bestuurswetenskappe, toerisme en sakestudie aangebied het.

“Ek het nog altyd ʼn passie vir mense en veral politiek gehad. Voor die verkiesing was ek nie ʼn raadslid nie, maar net ʼn aktivis vir die DA.”

Van Staden ken die gebied soos die palm van haar hand en noem die streek sedert 1989 haar huis, wat sy met haar man, Hannes (31), en hul agt week oue babaseun, Luan, deel. “Voor dit het my grootouers ook hier gewoon, so die plek lê my baie na aan die hart.”

Sy het haar laerskoolloopbaan aan Laerskool Vaalwater voltooi en aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer waarna sy haar BCom Honneurs in finansies aan Tukkies verwerf het.

Volgens Van Staden is die grootste prioriteit in dié stadium die opgradering van die water-, elektrisiteit- en padinfrastruktuur.

“Met my werk as joernalis en omdat ek so lank in die gebied woon, kon ek oor die afgelope paar jaar sien hoe baie dinge agterstallig geraak het, maar dit gaan nou reggeruk word.”

In dieselfde asem waarsku sy huidige munisipale amptenare wat onregmatig aangestel is, om nie te gemaklik in hul stoele te sit nie. “Ons sal almal se kwalifikasies en vaardighede nagaan en ontslae raak van dié wat nie daar moet wees nie. Ek soek ook nie lui of onproduktiewe mense wat hier werk nie.”

Van Staden sluit af dat sy graag baie goed wil verander, maar dat dit nie oornag kan gebeur nie. “Ons het baie goed geërf wat reggemaak moet word, inwoners moet asseblief geduldig wees tot ons daarby uitkom,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

m ·

Baie geluk en wys die spul hoe word dit gedoen. Skep asseblief weer orde.

Piet Smith ·

Dis uitstekende nuus! Ons hier in die Vrystaat het gereeld met toenemende kommer op TV gesien van die infrastruktuur gebreke in daardie eens pragtige dorpe. Dis hoog tyd dat die party wat net leë beloftes gemaak vir 22 jaar, die trekpas gekry het. Ons glo die nuwe raad gaan groot veranderinge aanbring. Sterkte met jul taak!

Karma ·

Nog ‘n lansie gebreek vir vroue tydens Vrouemaand ….. Sterkte aan dié dame met haar nuwe aanstelling. Ek hoop jy (en die DA-koalisie) hou by jul beloftes. Wat sê hulle mos van “as jy iets gedoen wil hê, noem dit vir ‘n man, maar vra ‘n vrou om dit te doen en dit word gedoen?” :-)))

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees gee my hoendervleis. Marlene, eerste indrukke is gewoonlik blywend en ter oordeel aan jou foto en kwalifikasies kan ek sien jy is ‘n yster. Daar gaan diegene wees wat met niksdoen weggekom het en ook nie die nodige kwalifikasies gehad het en ek is só bly ek is nie een van hulle.
Sterkte aan jou en met die hulp van Bo is niks onmoontlik.

Boesman ·

Baie sterkte. Het vir 4 jaar amper elke naweek deur Vaalwater en Nylstroom na Ellisras gery en was erg geraak om te sien hoe vervalle daardie dorpe geword het. Regte emmm vervalle dorpe geword.

Jan maak n plan ·

Hartlik geluk. Sy lyk na n ystervrou. Moet net nie die ANC se twak vat nie. Roer hulle sommer ook. Sterkte ons hou julle dop.

snoefie ·

ek hoop die munisipaliteit gasn begin met agterstallige rekenings op datum kry sodat hulle geld gaan he om dienste te lewer. ek hoop voorts daar gaan riglyne vir stakers gestel word. om aan staking deel te been moet hulle op datum betaalde munisipaliteitsrekeninge he. plakkers kan nie teerpaaie en baksteenhuise eis en daarvoor toyi toyi nie. hulle lewer geen finansiele bydrae nie.

hans brits ·

Hoogtyd dat vrouens(van alle rasse) in mags posisies geplaas word.Hoera vir hierdie een.

poot ·

Nogal ironies hoe al die “anti-DA” ondersteuners gewaarsku het teen die DA koalisie met die EFF. En nou sien ek die FV+ is ook in koalisie met die DA……..en die EFF.
Nou wat nou mense? Hoekom is julle so stil daaroor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.