DA wen hofstryd oor Tshwane

Destydse burgemeester Steven Mokgalapa spreek betogende werkers toe. Foto: ANA

Pretoria en omgewing is geskeduleer om Vrydagoggend ’n splinternuwe burgemeester te kry wanneer raadslede van die Tshwane-metro byeengeroep word om te besluit wie kry die ampsketting om die nek.

Dit volg op ’n uiters belangwekkende uitspraak Woensdagoggend in die Noord-Gautengse hooggeregshof ten gunste van die DA, en dus teen die ANC, EFF, Gautengse regering en die administrateur van die metro.

In ’n groot kostebevel is die verloorders boonop beveel om hul eie en die DA se regskoste te betaal.

Dit is die jongste verwikkeling in ’n maandelange sage wentelend om die politieke beheer van die land se hoofstad. Die dooie punt setel in die uitslag van 2016 se munisipale verkiesing, toe geen party ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie.

’n Koalisie tussen die DA, VF Plus en ACDP, met die steun maar sonder die deelname van die EFF, het sedertdien regeer, maar van die laaste kwart van verlede jaar het ’n spieël gebreek tussen die koalisievennote en die EFF, veral nadat die DA besluit het om Solly Msimanga as burgemeester te vervang met Stevens Mokgalapa.

Sedert Mokgalapa op sy beurt einde verlede jaar deur die DA uit sy amp verwyder is ná ’n seksskandaal, was dit een hofsaak op die ander oor wie in beheer van die stadsraad is.

Destydse Tshwane-burgemeester Solly Msimanga (Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

In Maart het die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile, ’n ANC-gesinde administrateur vir Tshwane aangestel, en sedertdien regeer die onverkose persoon en sy handlangers die stad.

Dit is juis om die punt van onverkosenheid dat Woensdagoggend se hooggeregshof-uitspraak draai. Die hof het bevind die LUR, sowel as die Gautengse provinsiale regering, het buite hul magte opgetree deur ’n regering aan te stel wat nie deur die inwoners van Tshwane, of deur Tshwane-raadslede as hul verteenwoordigers, verkies is nie.

Die administrateur en sy handlangers moet dus kragtens die hofuitspraak onverwyld hul posisies ontruim en die speaker van die metro moet so gou moontlik die raadslede byeenroep om ’n nuwe burgemeester te verkies.

Alle stadsraadslede word deur die hof verplig om die raadsvergadering by te woon, so daar kan nie regtens ʼn probleem met ’n kworum wees nie.

Daardie byeenroeping is geskeduleer vir tienuur Vrydagoggend, het die DA se burgemeesterskandidaat, Randall Williams, aangekondig.

Wie Vrydag gaan wen, is ’n ope vraag. Dit sal afhang of die EFF saam met die ANC stem, saam met die DA stem of buite stemming bly.

As die EFF saam met die DA stem, wen die DA. As die EFF saam met die ANC stem, wen die ANC. As die EFF buite stemming bly, behoort die DA-VF Plus-ACDP-koalisie net-net te wen.

Dis nou as die vergadering Vrydag ooit so ver kom. Verskeie vorige pogings om ’n burgemeester te kies, het tot so ʼn mate in chaos verval dat geen verkiesing moontlik was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

I better go find myself a brand new dress and shoes.
I will be the new mayor of thswane.
Yippee!!!

Sarel ·

Politieke en persoonlike Magstryd terwyl die Stad vergaan. Kan iemand met verstand adb die Bestuur oorneem

Elize ·

Genugtig dit maak my hart seer om te sien hoe Pretoria agteruit gegaan het onder hierdie kaders. Niks is meer reg nie en geen poging word aangewend om iets reg te maak nie want daar word net oor magsbeheptheid baklei. Waarvoor betaal ons elke maand ons rekeninge? Is dit om een partytjie en ete na die ander te betaal of wat?

Michael 1 ·

Pretoria het agteruitgegaan tydens die anc bewind maar ek kon nie n verskil sien toe die DA in beheer was nie ,die moot area het veral agteruit gegaan met die DA se swak diens van die raadslede wat raadslede is vir n sekondêre inkomste en net konsentreer op hulle primêre inkomste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.