DA wen volgende ronde in hof oor Tshwane

(Foto: Twitter)

Die appèlhof in Bloemfontein het Dinsdag bevind die aanstelling van ʼn administrateur vir die stad Tshwane deur die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile van die ANC, is strydig met die konstitusionele demokrasie en word tersyde gestel.

Dit is nou al agt maande sedert Maile die metroraad ontbind het eerder as om die raadslede toe te laat om ʼn nuwe burgemeester te kies nadat die vorige een, Stevens Mokgalapa van die DA, in Desember verlede jaar uit sy pos bedank het.

Die appèlhofuitspraak bevestig ʼn soortgelyke bevinding vroeër vanjaar deur die Noord-Gautengse hooggeregshof.

Die DA voer aan dat Maile en die ANC se aanstel van ANC-gesinde administrateurs bloot ʼn poging is om reg te kry wat hulle by die stembus nie kon nie – om die bewind van Tshwane op ondemokratiese wyse te verkry.

Telkens bevind die hof in die DA se guns, en telkens gebruik Maile belastingbetalersgeld om weer te appelleer – soos hy ex officio as LUR grootliks trouens geregtig is om te doen.

In gesprek met Maroela Media het Mike Moriarty, Gautengse voorsitter van die DA, gesê die appèlhof se beslissing maak dit nou moontlik om die metroraad byeen te roep en ʼn nuwe burgemeester met ʼn nuwe burgemeesterskomitee te verkies.

Maile het nog nie aangedui of hy gaan probeer appelleer na die konstitusionele hof om die appèlhofaansoek ook omgekeer te kry nie.

Dit wil uit navrae blyk dat daar nie onmiddellike aptyt in die ANC in Tshwane is om die huidige proses van onverkose administrateurs voort te sit nie, veral omdat die huidige groep baie ongewild is by inwoners in alle dele van die metro omdat hulle so swak vaar en so dikwels uitstedig is.

DA-bronne het aan Maroela Media gesê die DA het reeds begin met onderhandelings met vennote soos die VF Plus en die ACDP om ʼn demokratiese koalisieregering daar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eugene

Sal die DA tog nou net n ordentlike persoon aanstel wat weet wat gedoen moet word

Johnny

Mense dink jy kan outomaties grondwethof toe appelleer wanneer die appélhof teen jou bevind. Dis nie waar nie. Die grondwethof is nie die volgende stap nie en nie ‘n hoër hof (soos die appélhof bokant die hooggerehshof is) nie.
Al wanneer jy grondwethof toe kan gaan, is wanneer daar ‘n grondwetlike aangeleentheid ter sprake is. Die grondwethof kan uitsprake slegs omkeer op grond van sulke grondwetlike aangeleenthede.

Elize

Kan daar nou verwag word dat alles weer skoongemaak / herstel word? Die middelmannetjies is so oorgroei dat daar letterlik in die ander baan gery moet word sodat die bosse en takke nie die motor skraap nie. Hoop nie ek is besig om te droom nie maar wonder maar net

Hennie J

Hierdie skelmstreek van die anc het nou mooi ‘gebackfire’.