DA-Wes-Kaap verkies provinsiale leierskap

Tertuis Simmers (Foto: Tertuis Simmers/Facebook)

DA-afgevaardigdes van die Wes-Kaap het Saterdag ʼn tussentydse provinsiale leier en tussentydse provinsiale adjunkleier aangewys.

Tertuis Simmers, ook die Wes-Kaapse minister vir infrastruktuur, het onbestrede gestaan vir die posisie van die provinsiale leier en Jean-Pierre (JP) Smith is verkies as tussentydse adjunk- provinsiale leier.

Jaco Londt, provinsiale voorsitter van die DA, sê vir die amp van adjunkleier het Megann Goedeman, Wendy Philander en Antoinette Steyn hulle ook verkiesbaar gestel. “Ons wil graag vir hulle dankie sê dat hulle deelgeneem het aan dié fundamentele basis tot ons demokratiese prosesse. Ons waardeer dat hulle regverdig en in ʼn goeie gees deelgeneem het.”

Londt sê die DA in die Wes-Kaap het ʼn bewese geskiedenis van beter dienslewering en die aankondiging vroeër vandeesweek, dat lede van die Patriotic Alliance oorgeskuif het na die DA, is ʼn bewys van die vertroue wat mense stel in die party se manier van bestuur.

“Die nuwe leierskap het nou die verantwoordelikheid om seker te maak dat alle strukture in die party daarop gerig is om die boodskap van ons bewese suksesse te versprei, nie net in ons provinsie nie, maar ook aan gemeenskappe in die res van die land.”

Hy sê die party se doel is om die Wes-Kaap te behou en die DA se vlagskip te bly van goeie regering, en uiteindelik te help om die ANC tot minder as 50% te bring in die volgende nasionale en provinsiale verkiesings in 2024.

“Die DA in die Wes-Kaap wens Tertuis en JP geluk met die verkiesing. Ons is vol vertroue dat vandag ʼn nuwe begin is vir die DA in die Wes-Kaap en dat ons nuwe leierskap die party van krag tot krag sal neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.