DA wil appelleer oor OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die DA gaan by die Konstitusionele Hof aansoek doen om verlof tot appèl nadat die Kaapstadse hooggeregshof verlede week beslis het pres. Cyril Ramaphosa se besluit om die Openbare Beskermer (OB) Busisiwe Mkhwebane te skors, was onregmatig en ongeldig.

Ramaphosa het Mkhwebane geskors ʼn enkele dag nadat sy 31 vrae aan hom gestel het rakende die voorval waartydens miljoene dollars op sy Phala Phala-plaas in Limpopo gesteel is. Die uitspraak van ʼn volbank regters het Vrydag gelui dat die president nie ʼn dag langer gewag het nie om Mkhwebane dadelik te skors.

Die hof het bevind wanneer daar objektief na die verloop van gebeure gekyk word, is dit moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat die president se besluit “onbehoorlik” was nie.

Solly Malatsi, die DA se nasionale woordvoerder, sê die party glo die hof het tot die verkeerde beslissing gekom en moes die saak van die hand gewys het.

Die DA meen die hooggeregshof se uitspraak is onderhewig aan bekragtiging deur die Konstitusionele Hof omdat die hooggeregshof die president se gedrag as ongrondwetlik en onregmatig verklaar het.

Die hooggeregsbevel het dus geen uitwerking totdat die land se hoogste hof daaroor uitsluitsel gee nie, sê Malatsi.

“Selfs al is die hooggeregshofbevel nie onderworpe aan bekragtiging deur die Konstitusionele Hof nie – waarmee die DA verskil – word die hooggeregshofbevel opgeskort deur die DA se aansoek om verlof tot appèl.”

Dit beteken die OB bly geskors, sê hy.

“Die DA neem kennis dat pres. Ramaphosa by die DA se appèlaansoek aangesluit het. Die saak gaan belangrike regspresedente skep en alle belanghebbende partye moet aangehoor word.”

Malatsi sê die DA sal ook nie huiwer om regstappe te doen om die oppergesag van die reg te verseker nie.

Mkhwebane het op haar beurt, kort ná die hooggeregshof se beslissing Vrydag, ook ʼn hofaansoek van stapel gestuur om te verseker dat die bevel – wat haar skorsing ongedaan maak – uitgevoer word. Dít ten spyte van enige appèlaansoeke, soos die een wat die DA ingedien het, oor die kwessie.

Die beleërde OB voer aan haar “ganse loopbaan en beroepsgesondheid” is ongetwyfeld op die spel. Mkhwebane het ook die DA daarvan beskuldig dat hy alles moontlik sal doen om haar te verhoed om weer haar pligte op te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GWS ·

Hou haar uit haar pos, sy verdien nie om heraangestel te word nie. Sy het al te veel skade berokken en ons belastingbetalers se geld gemors!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.