DA wil Goldman-verslag oor swemafrigters sien

Argieffoto: Unsplash

Die Demokratiese Alliansie het ʼn hofaansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebring om die Goldman-verslag te bekom oor bewerings van seksuele mishandeling by Swem Suid-Afrika (SSA).

Veronica van Dyk, die DA se skaduminister oor sport, sê die Goldman-verslag werp lig oor die SSA se ondersoek na bewerings dat afrigters by die federasie swemmers seksueel mishandel het. Sommige van die swemmers is minderjarig.

“Die waarheid is dat seksuele mishandeling skynbaar al vir ʼn lang tyd by SSA onder die mat ingevee word,” het Van Dyk gesê. “Dit wil voorkom of dit belangriker is vir die federasie om sy reputasie en die afskuwelike roofdiere te beskerm as die geestelike en fisiese welstand van sy swemmers.”

Volgens haar is dit kragtens die Wysigingswet oor Seksuele Oortredings en Verwante Sake ʼn oortreding om te versuim om kennis van die seksuele mishandeling van minderjariges bekend te maak aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens. “Dit blyk egter die geval te wees waar SSA-beamptes nie net voortgegaan het om die vertroue van hul swemmers te skend en hulle só in gevaar te stel nie, maar ook die wet oortree deur te versuim om sake by die federasie aanhangig te maak.”

As die SSA tog die letter van die wet gevolg het, daag die party Alan Fritz, SSA-president, om die bewyse te verskaf dat hulle dit wel gedoen het.

“Die DA sal steeds voortgaan om al ons atlete te beskerm en ons stryd om swemmers by SSA te beskerm sal nie beëindig word met ʼn skynbare weiering om te voldoen aan ons Paia-aansoek nie,” het Van Dyk bygevoeg.

“Atlete in Suid-Afrika moet baie hindernisse oorkom, maar om bekommerd te wees of hulle veilig is by oefeninge, moet nie een daarvan wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ockie ·

Welgedaan DA. Draai die skroewe aan en laat geen steen onaangeroerd. Al hierdie goed wat onder die mat ingevee word, moet in die lig bekend gemaak word.

Marius Gerhardus ·

Ja ne. Nuwe SA. Met wie kan jy jou kinders vertrou? Professionele afrigter/mense? Dalk hukom ons sport nerens kom nie. As gevolg van sulke optrede is die slagoffers dalk te getraumatiseer om te presteer. Hoop die skuldiges word uit gewys en die regte stappe gevolg om hulle te vervolg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.