DA wil hê parlement moet weer fisies byeenkom

(Foto: GCIS)

Die DA wil hê parlementslede moet van Februarie af weer in persoon vergader eerder as om landsbesluite op aanlyn vergaderings te neem.

Dit was die mening van die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, Donderdag tydens ‘n terugrapporteringsvergadering van die amptelike opposisie ter afsluiting van die parlementêre jaar.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het by die geleentheid aan die parlement ‘n punt van 4,5 uit 10 vir die instelling se werk vanjaar toegeken.

Nietemin meen die DA-leierskap hul party het vanjaar in dié sukkelende parlement uitgeblink. Die party het vanjaar 66% van die parlementêre vrae in die Nasionale Vergadering gevra om die kabinet verantwoordbaar te hou, en 49% van die vrae in die Nasionale Raad van Provinsies.

Dit was die DA wat byvoorbeeld vasgestel het die belastingbetaler moes opdok vir ‘n huurvlug sodat pres. Cyril Ramaphosa die eindstryd van die rugby-wêreldbeker in Japan kon bywoon. Die regering weier steeds om te sê wat dit gekos het.

Voorts het die DA vasgestel hoe die kinderbeskermingsregister, wat veronderstel is om die publiek te waarsku teen mense wat nie met kinders mag werk nie, glad nie op datum gehou word nie en tans uit net 1 660 name bestaan, wat beteken kinders word potensieel blootgestel aan allerlei immorele mense.

Mazzone en die DA-leier in die Nasionale Raad van Provinsies, Cathy Labuschagne, het die stryd teen onteiening sonder vergoeding as die party se hoofprioriteit vir volgende jaar uitgelig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

DA – selfs is julle almal daar gebeur daar niks in alle geval! Die rooi pette hardloop net op en af, veroorsaak chaos, veg met die wit hemde, en word dan op straat uit gegooi Dis hoekom hulle in die tyd soe verveeld is, moet Clicks en Brakenfell Skool aanval, en op en af haadloop en chaos veroorsaak. Sover in AL die tussen verkiesing het die Economic Fleeing Fighters nog NIKS gewen nie!

Hennie J ·

Vir wat moet hulle fisies byeenkom. Begin die die onbeskikbaarheid van reis en verblyf toelae aan hulle beursies vat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.