DA wil hof toe oor miljarde vir SAL

(Foto: Facebook)

Die departement van openbare ondernemings het ʼn besluit van die tesourie verwelkom dat die regering die sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal steun en finansier. Die plan moet lei tot die totstandkoming van ʼn nuwe, lewensvatbare, volhoubare en mededingende lugdiens.

Ingevolge die sakereddingsplan moet die regering, as die SAL se enigste aandeelhouer, ʼn brief van steun vir finansiering voorsien. Dié brief is gister reeds deur die minister van finansies, Tito Mboweni, en sy eweknie by openbare ondernemings, Pravin Gordhan, onderteken.

Die SAL se krediteure het vroeër vandeesweek ten gunste van die sakereddingsplan gestem.

Die verbintenis tot finansiering maak werk van die kabinet se goedkeuring van die sakereddingsplan en die standpunt dat hy die voorstel steun vir ʼn nuwe redery en pogings om finansiering uit verskillende oorde daarvan te bekom, het Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, Donderdag gesê.

Volgens die kabinet beskou hy steeds die sakereddingsproses as die beste weg vorentoe vir die redery, asook dat ʼn hervormde redery ook die “transformasie-agenda, soos die gebrek aan geleenthede vir swart vlieëniers ná 26 jaar van demokrasie” sal bevorder.

Ingevolge die sakereddingsplan is nagenoeg R10,1 miljard nodig om die plan te finansier, skuld te betaal, die onderneming te herstruktureer, lopende kapitaal te voorsien en ʼn bestendige platform te skep om ʼn nuwe redery op die been te bring.

Die departement sê hoewel hy ʼn aandeel in die nuwe redery gaan behou wat Suid-Afrikaanse eienaarskap gaan verseker, verwelkom hy ook die betrokkenheid van verskeie plaaslike en internasionale beleggers om die redery van tegniese, finansiële en bedryfskennis te voorsien.

Die DA is steeds nie te vinde vir die plan nie en sê in ʼn prokureursbrief aan Mboweni indien die regering die geld ingevolge art. 16 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur wil gebruik, dit onregmatig sou wees. Art. 16 bepaal dat geld uit die nasionale inkomstediens vir “noodsituasies” of “buitengewone” omstandighede gebruik mag word.

“Daar is geen noodgeval nie. Die SAL se finansiële agteruitgang duur al etlike jare. Dit is laat verlede jaar in sakeredding geplaas. Niks van die SAL se dekade lange agteruitgang of sy huidige status in sakeredding regverdig die ongelooflike omseiling van die normale toewysingsproses nie,” lui die brief.

Luidens die brief is daar geen dringendheid om die SAL te finansier nie – veral nie tydens die Covid-19-afsonderingstyd en die reisbeperkings wat steeds geld nie – en daar is ook geen rede waarom geld nie deur die gewone begrotingskanale toegedeel kan word nie.

Die DA se regspan sê indien daar wel ingevolge art. 16 voortgegaan word met finansiering, sal hy geen ander keuse hê as om die hooggeregshof vir ʼn interdik daarteen en ʼn hersiening van die besluit te vra nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

MrMagic ·

Hoe siek is dit nie. Al daardie amptenare ten gunste hiervan moet maar in hul persoonlike hoedanigheid borg staan vir die geld. Daar is reeds hoeveel keer publieke geld agter die mislukking ingepomp.

Anel ·

En wie gaan hulle lewens wasg om saam te vlueg? As daar gevlieg word soos wat die taxi’s ry! Dit is geld mors. Waar gaan die geld vandaan kom? Ons pensioene? En ons kan nie eers bekostig om self te vlieg nie. En niemand mag in elke geval nou vlueg nie, so wanneer wil hulle begin winsgewind word? Daar is nou regtig geen salf te smeer nie!!!

Stefan ·

Hierdie ‘nuwe lugdiens’ beteken niks anders as aanfoeter op die ou trend van korrupsie en baie bonusse van belasting betalers se geld.

Spyker ·

As SAL nie meer bestaan nie, hoe gaan die Ministers Oudministers , Staatspresidente en lede van die kabinet verniet vlieg en rondtoer?

Die Wolf ·

Maklik. Koop n vliegtuig vir die rond gekerjakker. Hulle het mos geld.

Blikkies ·

Ek was nog tot so ruk terug van mening Pravin Gordhan kan redelike besluite neem, maar het ek vir my misgis, hy bly maar deel van die onopleibare deel van die volk……

Simon ·

Ek is stom! Waar kom al die geld vandaan om al die dinge wat net in hierdie jaar alleen opgedis is, te finansier? Mmmm! Lekker ou pensioenfondse!

Kokerboom ·

Mboweni en Gordhan het reeds hul ware kleure gewys. Hierdie is die toppunt van onnoselheid maar wat kan jy minder verwag van die kaders wat hul skuldig maak aan meerderwaardigheid, arrogansie, miskenning van lewenswaardes en behoeftes van armes, roekelose omgang met staatsgeld en die absolute minagting van regte van belastingbetalers. Hanteer hul blatante optrede met die minagting wat dit toekom. Hier kom ‘n ding!!!

PH ·

Hoekom nog miljarde mors op ‘n dooie perd.?
Daar is genoeg lugrederye in SA.
Hoekom? Wie gaan baat daarby?

Wilhelm ·

DA, hou op tyd en geld mors, en werk aan Wes Kaap onafhanklikheid … dis iets waar julle wel ‘n verskil kan maak.

gatgogga ·

Wanneer die bom bars, dan het die comrades en hulle vriende nodig om baie vinnig uit die land uit te vlug, voordat die mense hulle in die hande kan kry. Daarvoor het die ANC ‘n SAA nodig, sodat hulle genoeg vliegtuie vinnig kan op kommandeur. Dis waaroor dit alles gaan.

marius ·

Heel korrek . Die tassies met die blink klippies en ikoon munte is lankal by die nuwe bestemmings .

marius ·

Waneer gaan mense besef dat die howe geen uitwerking het nie ? Die plek word deur diktators beheer en regs pleging is gereduseer tot ‘n tandlose skoot hondjie . Dis die waarheid .

Kokkie ·

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: teen die spoed waarteen dinge in Suid-Afrika nou suid gaan, gaan dit regtig nie meer lank neem voordat ons land heeltemal vernietig gaan wees nie. Ek het alle hoop verloor.

Die Wolf ·

Die DA is net praat. Julle moes die dreigement al uitgevoer het om dit in die spore te stop.. Vorentoe is dit te laat. Maak maar seker dat pensioen geld nie hier n rol gaan speel nie. Klink vir my hierdie is maar net weer verkiesingspraatjies.

Pieter ·

Lyk my die SAL se geldkas is die maklikste om uit te steel. Dis hoekom hulle so spook om n bankrot SAL lewendig te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.