DA wil hof toe oor Knysna se ‘kaping’

(Argieffoto: DA/Facebook)

Net meer as ʼn maand nadat die DA-geleide regering op Knysna in die Wes-Kaap deur ʼn koalisie van die ANC, PA, EFF, en die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) ontsetel is, is ses politieke aanstellings teen miljoene rand per jaar reeds gedoen.

Dr. Dion George, die DA se kieshoof vir Knysna, sê die nuwe “koalisie van korrupsie” se eerste prioriteit was om politieke kornuite aan te stel met ruim vergoedingspakkette waarvoor Knysna se belastingbetalers moet opdok.

Die aanstellings is volgens George sonder enige behoorlike proses gedoen, beloop R3 miljoen per jaar en is nie ingevolge die raad se werwing- of keuringsproses gedoen nie. Boonop moet Knysna se belastingbetalers daarvoor betaal.

“Die koalisie van korrupsie het nie eens probeer om die nepotisme en patronaatskap weg te steek wat hulle van die belastingbetaler verwag om te finansier nie,” sê George.

“Hierdie is net die begin: Die volgende stap gaan wees om elke departement in die Knysna-administrasie te besmet deur tenderprosesse te kaap en hulpbronne vir hul persoonlike en politieke gewin te herlei.”

Die DA sê hy gaan nie toekyk hoe die dorp verwoes word nie en omdat die politieke proses nou onherstelbaar gekorrupteer is, gaan die party hom tot die hof wend.

Presies wat die regstappe behels, was nie dadelik duidelik nie.

Die bykomende R3 miljoen-salarisrekening gaan nog druk op Knysna se geldsake plaas en kan die dorp nader aan ʼn bankrotskap-afgrond stoot, waarsku George.

Hy sê die verkwisting van die geld op meelopers van diegene in beheer beteken sekere vakante poste sal nie tydens die piekseisoen gevul kan word nie.

“Pleks daarvan dat hulle die kwesbaarste mense van Knysna ondersteun, betaal hulle hul vriende om ons dorp te plunder.”

Volgens George is dit die gevolg wanneer kiesers ʼn klein party ondersteun wat beloof om die mag uit die ANC se hande te hou. “Hulle kry ʼn ANC-regering wat alles steel wat moontlik gesteel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waarnemer ·

Die DA moet ophou om geld met hofaksues in due water te goou en begin konsentreer op die volgende verkiesing……kry die anc kaders aan julle kant en wen die dorp en die land met n algehele meerderhejd……die anc het al verlede jaar begin met stemme werf…..terwyl jylls hof hof speel.

Hayntjie ·

Ja – gebelowe om die ANC korrupsie uit ye roei maar die belofte van rykdom het hulle besluit omgekeer om die ANC in sy plundering te ondersteun. Soos die PA en EFF natuurlik ook.

Elize ·

Hulle vreet ons land op soos ‘n mielie – rytjie vir rytjie

Pierre ·

Werk harder en sluit koalisies en hou op om arogant te wees

Blikkies ·

Ek vra net. Voor die DA ontsetel was, het hulle die gemeenskap gegee wat hulle nou voorstel die koalisie regering moet doen?

hendrie ·

Benewens die feit dat die ANC koalisie onmiddelik ‘n verdere 3 Miljoen Rand pj aan 6 nuwe aanstellings met belastinggeld uitgee, is dit nie duidelik waarna jy in jou laaste sin verwys nie:

“…Voor die DA ontsetel was, het hulle die gemeenskap gegee wat hulle nou voorstel die koalisie regering moet doen? “

Pierre ·

Watse kaping dit is hoe n koalisie werk, jy sluit koalisies en kry die meerderheid steen en so neem jy wettiglik die stadsraad oor.

Althes ·

Die ANC gebruik die koalisieregerings om stewig weer in beheer te wees. Hoe dom is die koalisies nie om dit te besef nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Helen Zille moet uittree. Sy wil domineer en dis ‘n irritasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.