DA wil kernkragplanne teenstaan

Argieffoto (Foto: Markus Distelrath/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê berigte dat finansiesminister Tito Mboweni voorgestel het dat kernkragplanne terug is op die tafel as ʼn energiebron vir Suid-Afrika, is ʼn klap in die gesig van die realiteit wat deur die land in die oë gestaar word.

Die DA sal Mboweni en Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, skriftelik maan om dit te heroorweeg en hulle in kennis stel dat die DA “ernstig beswaar aanteken”, het die DA se skaduminister van energie, Kevin Mileham, in ʼn verklaring gesê.

“Die eerste realiteit is dat Eskom heeltemal disfunksioneel is en oorlas is deur honderde miljarde se skuld,” het hy gesê. “Die entiteit het ook gewys dat hy nie oor die kapasiteit beskik om sulke grootskaalse projekte aan te pak nie.

“Die tweede realiteit is dat die fiskus nie ʼn nuwe kernkragaanskaffingsprogram in die kort- of medium termyn kan bekostig nie.”

Mileham het gesê Suid-Afrika het ook meeste van sy tegniese vaardighede, wat kernkrag betref, aan ander lande verloor, veral ná die Pebble Bed Modulêre Reaktorprogram. “Selfs die hart van Suid-Afrika se kernkragbedryf, die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Neksa), is nie meer in ʼn posisie om só program te hanteer nie, aangesien die organisasie tegnies insolvent is en operasionele uitdagings beleef,” het Mileham bygevoeg.

Volgens hom is die laaste oorweging dat enige kernkragaanleg tyd sal neem om te bou en aan die gang te kry. “Suid-Afrika het nóú elektrisiteit nodig, nie oor 15 jaar nie. Die ekonomie het dringend aandag nodig. Kernkrag is ʼn lang termyn vooruitsig wat nie die onmiddellike probleme sal takel nie.”

Hy het gesê die DA ondersteun ʼn mengsel van energiebronne, maar enige voorstelle om kernkrag in hierdie stadium te laat herleef, sal teengestaan word.

“ʼn Beter oplossing vir die kort termyn is om munisipaliteite toe te laat om elektrisiteit direk by onafhanklike kragvoorsieners aan te koop. Die minister van energie kan dit vinnig en maklik laat gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andre Coetzee ·

Die onkunde en onbevoegdheid van die klomp verstom of verras ons lankal nie meer nie. Die La-La land waarin hulle dag tot dag leef is besig om sy laaste asem uit te blaas en daar is min te redde.Te min geld,belasting betalers en kundiges en te veel korrupsie en diefstal om kernkrag te probeer.Haal eerder maar die kerse uit en as jy het ‘n gas of parafien stofie.Ons gaan donker tye in.

Strandloper ·

Daar is net een hoop en dit blyk die ashoop te wees. “Die” denkwyse maak mens op!

Siener ·

Suid Afrika kan nie eers ‘n krag sentrale beheer en in stand hou nie. Wat gaan hulle aanvang met ‘n kernsentrale? Dis soos om ‘n atoombom op jou voorstoep te toets.

John ·

Wat die ANC doen is om klimaatsveranderingsvrees te gebruik om die eerstewèreld se armpie te draai om geld na ons te gooi om duur kernkrag te ontwikkel wat dan glo minder besoedeling sou veroorsaak. Vandaar Tito se skimp by Davos. Afrika gaan soontoe om te bedel en Tito was ons voorbok. Die vreeslike pryssang vir Trump is slu want noudat hy in die drukgang is, probeer ons hom so bly maak dat iemand elders van hom hou dat hy sommer miljarde sal skenk. Afrika speel altyd toneel om sy sin te kry… nog altyd…

Anti Da ·

Die DA kan nie eers die rou riool wat in die see loop stop nie. Moet niks glo nie.

Johan Venter ·

Goeie genade, Ramaphosa het dan in die dae na die ANC se NUK-beraad groot gewag gemaak dat die private sektor en Mynhuise sal kan bydra tot kragopwekking en hoe dit benut gaan word. Hierdie man het nog nie eens sy mond toegemaak nie, of een of ander minister praat teenstydig van wat Ramaphosa aan die volk voorgehou het …. in die geval die FinMin Twitterman.

Rupert Ashford ·

Of hulle doen dit saam met die Franse of die Russe, of China kom in en bou dit in ruil vir grond of ‘n ander “bate”. Feit is kern is die enigste bron anders as steenkool, gas en hidro wat betroubare, volhoubare krag kan voorsien wat geskik is vir nywerhede. Dit kos baie, maar son en wind en wat daarmee saamgaan is nie goedkoper nie. Mag dalk help om die “nuwe” steenkoolstasies eers in volle produksie te kry.

Johann cb ·

Het die DA enige ander alternatiewe om krag te voorsien, of die huidige situasie op te los?

Denker ·

Ons beweeg in ‘n nuwe tydvak in waar ons slegs elektriese motors, busse, treine en vliegtuie gaan kan koop. Dié goed se batterye moet gereeld herlaai word. Ons kan nie eers ons ou liggies aan die skyn hou nie. Kernkrag is die enigste oplossing, of dit nou deur Rusland, Frankryk of China beman en bestuur word, is irrelevant. Ons het nie meer ‘n keuse nie. Of jy bly by met tegnologie, of jy gaan terug na die steen-tydperk toe..

bokka ·

Beste bron van krag, geen nat steenkool nie. Ek is ten gunste van kernkrag.

JohanR ·

Jammer maar Tito Mboweni is heeltemal verlief op sy eie stem, en praat halfte van die tyd dat sy bek en lippe beweeg, die grootste klomp perde mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.