DA wil kleinsake-minister hof toe sleep oor ras-kriteria

(Argieffoto ter illustrasie: Anja van der Merwe)

Die DA het die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, tot Woensdag 17:00 gegee om haar stellings oor die gebruik van swart ekonomiese bemagtigingskriteria vir die toeken van hulp tydens die Covid-19-krisis terug te trek, of hulle sien haar in die hof.

Die minister het Dinsdag tydens ʼn parlementêre vergadering gesê aansoeke vir hulp vir klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s) gaan wel op grond van ras gedoen word.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê Ntshavheni het vroeër berigte dat ras as kriterium gebruik gaan word, as fopnuus afgemaak. Dit nadat ʼn dokument daaroor aan die publiek uitgelek het, waaroor Maroela Media berig het. Dit het egter geblyk die dokument is eg en was ʼn konsepdokument van die departement se voorgestelde bepalings. Die departement het egter voet by stuk gehou alle aansoeke sal oorweeg word, ongeag ras.

Soortgelyke rasgegronde hulpvoorwaardes is vroeër ook vir die toerisme- en landboubedryf aangekondig. Die organisasies Solidariteit en AfriForum het hulle reeds tot die hof gewend om te vra dat die departement van toerisme ras as kriterium vir die toekenning van finansiële hulp moet hersien. Uitspraak in dié saak word binne die volgende week verwag.

“Gister se ommeswaai maak ʼn bespotting van die regering se hulpmaatreëls vir KMMO’s en is ʼn belediging vir duisende sukkelende eienaars van klein sakeondernemings wat nie net miljoene rande se belasting bydra nie, maar ook duisende mense in diens neem wat moontlik nou hul werk gaan verloor. Baie van dié werkers is swart.”

Steenhuisen sê dit maak ook ʼn bespotting van pres. Cyril Ramaphosa se pleidooi dat die land saam die pandemie en die ekonomiese nagevolge daarvan moet beveg.

(Argieffoto)

“Dié minister wat doelbewus Suid-Afrikaners op grond van hul velkleur uitsluit van noodhulpmaatreëls verteenwoordig pres. Ramaphosa en sy regering. Tensy hy hulle in die bek ruk en die besluit omkeer, moet ʼn mens aanneem dat hierdie ook sy standpunt is. Suid-Afrikaners moet weet waar hy hieroor staan,” het Steenhuisen gesê.

Die DA sê duidelikheid is nou nodig oor die kwessie of ʼn ras ʼn rol gaan speel wanneer geld beskikbaar gestel word. Die party het Ntshavheni al op 10 April gevra om ʼn antwoord te verskaf, maar het tot dusver geen terugvoer gekry nie.

Steenhuisen sê hulle vra die minister twee belangrike vrae:

  1. Ingevolge watter wetgewing of beleid word ras gebruik in die evaluering van aansoeke?
  2. Watter rol speel ras wanneer ʼn aansoek om hulp oorweeg word?

Steenhuisen sê as Ntshavheni nie teen vanmiddag ʼn behoorlike antwoord verskaf nie, hulle die hooggeregshof gaan nader om die besluit ter syde te laat stel.

Die VF Plus het die gebruik van raskriteria vroeër óók verwerp. “Indien die ekonomie nie herstel nie, gaan mense van alle rasse daaronder ly en daardie lyding gaan geen onderskeid tussen kleur tref nie,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Die party het gesê hy sal ook verdere stappe oorweeg as ras as kriterium nie geskrap word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

PH ·

sMaak nie saak wat die hof sê nie, mens kan maar net wonder wat agter die gordyne gaan beur.
In elk geval, sal mens graag wou weet wie die regmatigheid van die uitbetalings aan aansoekers gaan oudit?

Michael 1 ·

Enige politieke party het die reg om die uitbetalings te oudit en die uitbetalings te verifieer dit is in openbare belang en kan afgedwing word deur die wet.

Michael 1 ·

Ek kon baie lanklaas iets goed van die DA sê maar hierdie is n stap in die regte rigting moet asb nie nou weer onttrek omdat julle polities korrek wil wees nie,hierdie is verkeerd en kan nie geduld word nie as ons almal aanhou baklei teen diskriminasie sal ons dit oorwin.

Johann ·

Ja shure…die ANC by name en woorde van Ramaposa gee n flenter om vir iemamd anders as “their people”? Hulle is besig om letterlik n staat van afhanklikheid te skep en dit in toom te hou met hulle weermag en polisie.

Vra Ramaposa reguit….WIE is “our people” wat hy na verwys? En watter God se seën spreek hy uit oor watter gedeelte van Suid Afrika? SHAME ON YOU!!!!!!

Petrus Johannes ·

Ag jitte soek DA punte jul het nog nooit iets vir ons blankes gedoen nie jul vertrou ek mooi niks nie.Onthou jul nog die blanke onderwysseres Al jul bohaai waar n blanke iets gese het??

JohanR ·

Umm…….het Solidariteit en AfriForum nie al by die hof uitgekom oor die saak nie, en die uitkoms sal later gese word? Die DA jaag net, en lui nie! Moet bietjie probeer daar voor hardloop maatjies.

Kokerboom ·

As almal teen wie gediskrimineer word maar net wil saamstaan!!! Maar nee elke haan op sy eie mishoop. Die rassistiese ANC weet dit en buit dit uit! So ekt geen hoop!

Maria ·

Enige manier om van hierdie rassistiese polarisasie en marginalisasie ontslae te raak dra my ondersteuning weg. Die DA doen baie beter met Steenhuizen, mens kry weer hoop. Knap gedaan. Nou moet ons net weer aan die werk kom DA. Stig die provinsie af. !! As Rusland en vele ander lande republieke kan hê binne hul grense kan Suid Afrika ook!!!

Sonneblomkind ·

Ai tog. Dit moet mos gekyke regte wees en Hande vat….dit gaan n probleem wees. ons verlede bly na 25 jaar nog n probleem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.