John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag tydens die party se provinsiale kongres in die Wes-Kaap gesê vir die eerste keer sal ʼn stem vir die DA in die Wes-Kaap volgende jaar ook ʼn stem vir ʼn nuwe nasionale regering wees.
Hy het ook die pas verkose Wes-Kaapse leierskap geluk gewens. Tertuis Simmers is as die provinsiale leier aangewys en Geordin Hill-Lewis as provinsiale adjunkleier. Jaco Londt is die provinsiale voorsitter.
“Volgens betroubare opnames sal die ANC volgende jaar tydens die nasionale verkiesing sukkel om selfs 40% in provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng te behaal. As die DA die Wes-Kaap met ʼn meerderheid wen, en ons die ANC uit die kussings kan lig in KwaZulu-Natal en Gauteng, sal ons volgende jaar ʼn nuwe nasionale regering hê.”
Steenhuisen sê vir die eerste keer sedert 1994 sal dit moontlik wees om die ANC landswyd te oorwin.
“In samewerking met ons vennote in die veelparty-handves, is die DA in die perfekte posisie om ʼn groot, sterk anker te word vir ʼn nuwe nasionale koalisieregering.”
Met die DA as anker vir ʼn nuwe nasionale regering, sal die Wes-Kaap ʼn bondgenoot in Pretoria hê, eerder as ʼn vyand.
“In plaas daarvan om met die ANC te baklei om beheer oor te neem oor polisiëring, vervoer en elektrisiteit, sal hierdie nuwe nasionale regering met die Wes-Kaap saamwerk om hierdie magte af te wentel. Eerder as om deur ANC-ministers om elke hoek en draai ondermyn te word, sal premier Alan Winde die telefoon kan optel en sy DA-eweknie in die nasionale kabinet kan skakel.”
Steenhuisen sê as die DA die Wes-Kaap wen en ook die nasionale regering betree, sal die eerste taak wees om ʼn nuwe Afwentelingswet in te stel wat beheer oor polisiëring, treine en elektrisiteit na die Wes-Kaap oordra.
Hierdie voorstel sluit aan by die DA se algemene benadering van ‘n meer gedesentraliseerde regering, waar mag en beheer oorgedra word na plaaslike regeringsvlakke vir ‘n meer doeltreffende en pasgemaakte bestuursbenadering.
“In 2024 is ʼn stem vir die DA nie net ʼn stem om die Wes-Kaap te beskerm nie, dit is ʼn stem om Suid-Afrika te red.”
Volgens Steenhuisen is die Wes-Kaap, ná byna 15 jaar van ononderbroke goeie bestuur deur die DA, ongetwyfeld die provinsie wat die beste bestuur word. “Waar die agt ander provinsies afgeneem en ineengestort het onder die gewig van die ANC se wanbestuur, het premier Alan Winde en sy span die Wes-Kaap na hoër hoogtes opgehef met goeie infrastruktuur, openbare gesondheid, openbare onderwys, en lae werkloosheidsyfers.
Steenhuisen het in sy toespraak beklemtoon dat die DA nie net op sy louere kan rus nie; daar is steeds werk om te doen. Prioriteite sluit in die bekamping van misdaad en die skep van werkgeleenthede.