DA wil met dié wet wegdoen met SEB

(Argieffoto)

Die amptelike opposisie beoog om binnekort ’n nuwe privaatlede-wetsontwerp voor te stel wat die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BBEE) sal skrap in ’n poging om weg te doen met ras as kriterium vir staatstenders.

Die Wysigingswet op die Raamwerk vir die Voorkeurverkrygingsbeleid sal doen wat daar volgens die DA nie met swart ekonomiese bemagtiging reggekry is nie – en dít is om die ongelykheid van geleenthede in die Suid-Afrikaanse samelewing te takel.

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel en nywerheid, sê die party sal binne die volgende paar weke ’n kennisgewing oor sy voorneme om die wetsontwerp voor te stel, in die Staatskoerant publiseer.

Lede van die publiek sal in dié kennisgewing genooi word om kommentaar op die wetsontwerp te lewer.

Dié wetsontwerp, indien suksesvol, sal verskeie bepalings in die Wet op die Voorkeurverkrygingsbeleid wysig en kriteria instel wat gegrond is op volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.

Macpherson sê welaf en polities gekoppelde individue het vir gans te lank die wetgewing misbruik om hulself te verryk.

Dít danksy ʼn “ANC-regering wat net op kaders en kamerade gefokus het en hom min gesteur het aan die grondbeginsels van die wet – om ongelykheid uit te roei en ʼn  beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te skep”.

Volgens Macpherson verskil die wysigingswet op die voorkeurverkrygingsbeleidsraamwerk van die gewone SEB-model in dié sin dat dit die beduidende staatsverkrygingsbesteding van byna ʼn miljoen rand, oftewel sowat 22% van die land se BBP, sal benut om private maatskappye se bydraes tot die bereiking van ontwikkelingsdoelwitte te bevorder.

Die wetgewing sal ook die kwesbares en benadeeldes regstreeks teiken, van wie die meerderheid as swart tydens die apartheidsregering geklassifiseer is, en dit moeiliker maak vir diegene wat nié bevoordeel hoef te word nie, om daarvan gebruik te maak.

Dit sal ook korrupsie en patronaatskap stuit, meen Macpherson.

“Die huidige wetgewing het ernstige en dringende hersiening nodig as Suid-Afrika sy huidige ekonomiese verwoesting wil oorleef. Ware gelykheid kan slegs bereik word wanneer individue ʼn magdom geleenthede het om hul lewe te verbeter.”

Die DA doen nou ’n beroep op die publiek om kommentaar te lewer op die voorgestelde wetgewing sodra dit in die Staatskoerant verskyn. Die bydraes sal oorweeg word voordat die wetsontwerp aan die parlement voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jack ·

Dit gaan moeilik slaag.Die regering sal nie afsien van BEE af nie.Dit bevoordeel hulle.Jammer DA maar dit maak nie saak hoe goeie idee julle het nie,die regering sal dit aflag.

Thom ·

Hoe wonderlik sal die land nie onder ‘n DA-regering wees nie,,,,!? Almal mag drome hê, is dit nie ?

Witbaard ·

HaHaHa, Dink die DA nou werklik dat die ANC hulle enigsins aan die voorgestelde wet sal steur.

Johanncb ·

Die wet kan maar geskrap word, maar diskriminasie sal nóóit geskrap word nie!

B-Man ·

22% van die land se BBP kan onmoontlik nie “‘n miljoen rand” wees nie… of het die ekonomie al so ver gekrimp?

Hendrik ·

Die leunstoelsitters moet nou asb hul negatiewe gesindheid los of selfs die land verlaat. Skrik wakker ons het reeds baie verloor deurdat mense van dieinisipale verkiesing weggebly het. Dit is positiewe insette. Die ambeeld moet gehamer word. Op die einde kraak die hardste rots. Word wakker sonder stryd stryd stryd kan ons niks vermag nie.

Pietertjie ·

Dit ís lonend om so sake te doen. Dis net onlonend wanneer jy moet terugbetaal, maar vóór dit moet jy eers uitgevang word, en dan moet die uitslag van die verhoor ook heeltemal teen jou guns draai.

Swerwer ·

Sien is glo, die ANC Kader sal beslis nie handdoek ingooi nie. Daar is net een oplossing

Owlie ·

Dis hoogtyd – dit is al baie jare wat die ras kwotas in alle beroepe/besighede/werksplekke deur BEE/BBEEE en wat ookal oorherrs word nie net staats kwotas nie – Dis n begin beter as niks

Althes ·

Die generasie van voorheen benadeeldes is van 1970 gebore en ouer.
Die generasies daarna is nie voorheen benadeeldes nie, omdat dit nou al 30 jaar is wat Mandela vrygelaat is.
Die ongelykhede in die land sal altyd voortduur onder die ANC, so ja skrap asseblief ras, want die ANC kon nie bewys het na al die jare dat die breë gemeenskap baatgevind het met dit nie.

Blikkies ·

Ek hoop All Maatskappye doen ook heeltemal weg met hulle SEB aanstellings, en vat die persoon wat die geskikste is vir die pos, ongeag kleur, geloof en geslag. Persentasie gewys is ons blankes in elk geval so min, hoe kan ons dan nou nog in die meerdereid aangestel word teenoor die persentasies van alle ander bevolkings groepe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.